Woord:
musiek
Betekenis:
saamklinkende geluide; reeks aangename/interessante klanke voortgebring deur instrumente of die menslike stem
Waar kom dit vandaan?
Genoem na die Muses, in die Griekse en Romeinse mitologie nege godinne van die kunste en wetenskappe. In die Griekse mitologie was hulle die dogters van Zeus en Mnemosune, die godin van die geheue.
Elke Muse het oor ʼn sekere kuns of wetenskap regeer. Kalliope was die Muse van epiese poësie; Erato van liefdespoësie; Euterpe van liriese poësie; Melpomene van tragedie; Thalia van komedie; Clio van geskiedenis; Urania van sterrekunde; Polumnia van heilige sang en Terpigore van die dans.
Die Grieke het geglo dat die Muses op die berg Olimpus saam met hulle leier, die god Apollo, gewoon het. Net soos hy het hulle vir ewig jonk en mooi gebly. Hulle het aangename, welluidende stemme gehad en het dikwels in ʼn koor saamgesing. Die vroeë Griekse skrywers en digters het altyd eers inspirasie by die dames gesoek voordat hulle begin werk het. Die Romeine weer het geglo dat Jupiter, die koning van hulle gode, die vader van die Muses was.
Die Griekse woord Mousa beteken “Muse” en ook die woord museum is daarvan afgelei, omdat dit oorspronklik na die tempel van die Muses verwys het.
Oorspronklik gepubliseer in Anton F. Prinsloo se Die aap in jou koffie
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R200,00*
* Prys onderhewig aan verandering