Woord:
reikhalsend
Betekenis:
In ʼn hoë mate verlangend na, begerend.
Waar kom dit vandaan?
Uit Nederlands reikhalzend (1748), oorspronklik die teenwoordige deelwoord van die werkwoord reikhalzen (1701) wat “vurig verlang na” beteken en attributief gebruik word. Die Nederlandse reikhalzen is ʼn samestellende afleiding van reiken vir “reik” en hals vir “nek”. Hierdie tipe samestellende afleiding, naamlik ww. plus s.nw. wat na ʼn liggaamsdeel verwys, kom min in Nederlands voor. Die letterlike betekenis is “die nek uitstrek om nader aan iets te wees”. Waarskynlik het rekhalzen eerste opgekom, ʼn samestellende afleiding van rekken vir “rek” (sien 2rek) en hals, letterlik “die nek rek om nader aan iets te wees”. Naas rekhalzen is spoedig reikhalzen gebesig, beide behalwe in ʼn letterlike betekenis ook in ʼn figuurlike betekenis. In die middel van die 18de eeu het rekhalzen in onbruik geraak, en reikhalzen het veral in die figuurlike betekenis algemeen geraak.
Bron: Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA)
- Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red