Woord: sjabloon

Argieffoto (Foto: congerdesign/Pixabay)

Volgens Nederlandse etimologiewoordeboeke (kyk Etymologiebank.nl) is in die vyftiende eeu in die gebied van die Neder-Ryn die woord schampelun gebruik om na ʼn voorbeeld of monster (in die betekenis “klein gedeelte van iets as voorbeeld”) te verwys. Die Ou Franse variant van schampelun was eschandillon, wat na ʼn standaard-of ykmaat verwys het. Die oorsprong van dié twee woorde kan teruggevoer word na die Klassieke Latynse woord scandula vir ʼn dakspaan.

Weens die reëlmatige afstand tussen dakspane – die dun, plat, langwerpig-reghoekige plankies wat oor hulle lengte na die een punt toe effens dikker raak en gebruik word om dakke te dek – het die woord vir dakspaan (schampelun), deur assosiasie, die bykomende betekenis van ʼn standaard- of ykmaat verkry. In Middelnederlands het dit as schampelioen neerslag gevind, ʼn vorm of model wat veral onder die invloed van die Duitse Schablone in Nieunederlands tot die woord schabloon ontwikkel het vir die modelvorm -patroon, en in moderne Nederlands tot sjabloon, ʼn teken- of skildermodel, wat mettertyd ook die figuurlike betekenis bygekry het van iets wat (te veel) nagevolg word.

In Afrikaans ʼn sjabloon ʼn dun metaalplaat of vel karton waarin ʼn patroon of ontwerp uitgesny is om by die natrek of naverf daarvan as gids te dien. Onder invloed van Engels word vir so ʼn patroon of vorm – selfs veral! – in hedendaagse Afrikaans ook die woord templaat gebruik, en ook stensil.

In die letterkunde word die term sjabloon met ʼn ietwat pejoratiewe strekking aangewend om na ʼn geykte karakter of na stereotipes of oppervlakkige karakterisering in ʼn prosa- of dramateks te verwys.

Bron: Die tale wat ons praat – taaldinge uit die gewilde radioprogram

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.