Woord: skoppelmaai

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Woord:
skoppelmaai

Betekenis:
‘n Sitplek wat aan twee toue of kettings hang sodat ‘n mens heen en weer daarop kan swaai: Die dogtertjie ry graag op die skoppelmaai.

Waar kom dit vandaan?
Dit is ʼn samestelling van skoppel- uit verouderde Nederlands schoppel (1599 in die vorm schoppelen) wat “swaai” beteken, gewestelik nog bekend in Noord-Holland, en -maai uit verouderde Nederlands meien (1544 in die vorm meyen) wat “jouself verlustig, vermaak” of die Nederlandse maaien (Middelnederlands maeyen) wat “maai” beteken.

Die samestelling het waarskynlik in vroeë Afrikaans in ‘n oorgangsfase tussen Nederlands en Afrikaans plaasgevind, aangesien dit as samestelling onbekend is in Nederlands en die onderskeie dele in Afrikaans onbekend is. Dit is waarskynlik dat die Afrikaanse -maai eerder uit Nederlands se meien as maaien ontwikkel het en sodanig beteken skoppelmaai letterlik “swaaivermaak”. Indien -maai egter uit Nederlands maaien ontwikkel het, dan is dit waarskynlik na aanleiding van die swiepbeweging van die swaai wat ooreenstem met die armbeweging wanneer met ‘n sekel gemaai word.

Die wisselvorme skoppelmaaier, skoppermaai en skoppermaaier het ontstaan aangesien skopper- moontlik daarop sinspeel dat ‘n swaai aan die gang gesit word deur met die voete van die grond af weg te skop, terwyl -maaier moontlik meer soos ‘n selfstandige naamwoord geklink het as -maai wat aan ‘n werkwoord herinner. Eerste optekening in Afrikaans by Changuion (1844) in die vorme schoppemaai en schoppelemaai.

Bron: Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tanniepetoors ·

Ek vind hierdie artikels baie interessant en leersaam. Baie dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.