Woord:
stroop
Betekenis:
geen telling; nul: Die telling is nou dertig stroop in die eerste pot.
Waar kom dit vandaan?
In Afrikaans word ʼn telling soos 15-0 ná die beklinking van ʼn pot tennis as 15-stroop aangedui. Waar kom hierdie stroop vandaan? Dit word nie in Nederlands gebruik nie, en in Engels praat ʼn mens van “15-love”.
ʼn Nie te onwaarskynlike verklaring nie, is dat “stroop” ʼn bondige manier is om te sê “gestroop van telling”, dit wil sê met nog geen telling nie.
Wat die Engelse “love” betref, word daar lank reeds bespiegel dat dié afgelei kan wees van die Franse woord œuf, ʼn eier, omdat ʼn eier die vorm van ʼn ovaal het, soos ʼn nulletjie. Etimologies beskou, is dié verduideliking egter ʼn bietjie vergesog.
ʼn Aanneemliker verklaring is een wat uit die laat sewentiende, vroeë agttiende eeu dateer, naamlik dat “love” dalk kom van “to play for love”, dit wil sê sonder om telling te hou.
Die oorsprong van die woord tennis is wel Frans. Dit kom via die Anglo-Franse tenetz, van die Ou Franse woord tenez, wat ʼn uitroepvorm was:
“Hou vas!”
“Ontvang!”
“Vat so!”
Wat die afslaner aan die ontvanger geroep het voordat hy of sy afgeslaan het. Nog verder terug lê die oorsprong in die Latynse woord tenere, wat beteken “om te hou”.
Bron: Die tale wat ons praat – taaldinge uit die gewilde radioprogram
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R230,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke
Die woord ‘stroop’ het seker ander betekenisse ook, buiten nou in tennis?
Dagsê André
Daar is beslis ook ander betekenisse van die woord “stroop”:
stroop (selfstandige naamwoord)
1 dik, soet, klewerige vloeistof, dikwels berei deur suiker met water te kook, of gemaak van die sap van plante, bv. die suikerriet: By die bereiding van suiker word stroop verkry. • wafels met stroop.
2 afkooksel van plante/vrugte saam met suiker: lemoenstroop • hoesstroop.
stroop (werkwoord)
1 aftrek: blare van ’n boom/groenmielie stroop.
2 wild jag sonder verlof van die eienaar: Hulle het in die nag gaan (wild) stroop.
3 roof; plunder: Die omgewing leeg stroop. • stropende bendes.
Ons fokus egter in hierdie bogenoemde etimologie slegs op “stroop” soos dit in tenniswedstryde toegepas word.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media
Dankie Suné, ek waardeer.
Suné, dis nie wat julle in die berig te kenne gee nie, as julle meer spesifiek was en gesê het ‘in sport’ jammer, dis nou maar soos dit is, as ons soos in baie ander kommentare verby mekaar praat, laat dit so wees. Ek steek nou my hand in eie boesem …..
Ek het nog altyd gewonder waar kom die metode van telling hou in tennis vandaan. Ek meen, om te gaan van 0 na 15 na 30 na 40 en dan wen is net gewoon weird – of is dit net ek?