Woord:
‘n Twisappel
Betekenis:
ʼn Geskilpunt
Waar kom dit vandaan?
Ontleen aan die Griekse mitologie: die goue appel wat die godin van twis en tweedrag, Eris, op die bruilof van Peleus en Thetis tussen die gaste ingegooi het. Op die appel het gestaan: Vir die mooiste, en die drie godinne Hera, Atene en Afrodite het daaroor getwis totdat die Trojaanse prins dit aan Afrodite gegee het.
Moet ons vaskleef aan ou spreekwoorde uit Grieks ens….kan ons as Afrikaners nie ons eie spreekwoorde opstel nie.?? Wie stem saam.
Geagte Carol
Afrikaans is ontleen aan ‘n wye verskeidenheid ander tale, maar ek hoef seer sekerlik nie hieroor met jou te twis. Nie net het ons ‘n ryke versameling aan ontleende spreekwoorde en idiomatiese uitdrukkings nie, maar die taal leef. Daar word daagliks meer toegevoeg. Word deel daarvan. Moenie skree: “Praat Afrikaans!” nie, maar praat Afrikaans. Skep jou eie woorde. Ek is getroud met ‘n lieflike Skotse aster, en Fiona maak haar eie Afrikaanse woorde, wat nogal heel oorspronklik is, en neerslag vind in ons huis.