Woord van die week: eksieperfeksie

Argieffoto (Foto: Skitterphoto, Pixabay)

Woord:
eksieperfeksie

Betekenis:
Iets volmaak reg doen

1 So goed dat daarop [haas] nie verbeter kan word nie; uiters noukeurig; uiters presies; uiters netjies; tot in die fynste puntjies versorg: Hy doen altyd sy werk eksieperfeksie. Sy (het) alles eksieperfeksie afgewerk (Meg Ross). Alles moet so eksieperfeksie wees, onberispelik; volkome in die haak. Dan kom daar ‘n jonge man verby, eksieperfeksie volgens die nuutste mode aangetrek (C.J. Langenhoven). Hy (stap) spieël toe om te kyk of sy kuif eksieperfeksie lê (H. en F. von Hörsten). £185 is die prys van ‘n eksieperfeksie sedan (Die Transvaler).
2 (van persone) Daarop gesteld dat dinge op onverbeterlike wyse gedoen word, dat alles volkome in die haak moet wees; wat alles fouteloos wil doen of gedaan hê; wat op kleinighede sien; puntenerig: Die man is baie eksieperfeksie. ‘n Inwonende tante … wat so eksieperfeksie is dat die vlieë nie op haar gaan sit nie (G.G. Cillié). In hul oë is alle aardbewoners sloddervosse; hulle self alleen is eksieperfeksie (W.J. Conradie).

Ook:
1 Puntenerige persoon: Hy is so ‘n ou eksieperfeksie, ‘n mens kan hom nooit tevrede stel nie.
2 (weinig gebruiklik) Volmaaktheid; onberispelikheid; toppunt: Ons advokate glo dat ons Romeins-Hollandse reg die eksieperfeksie van reg uitmaak (C.L. Leipoldt).

Waar kom dit vandaan?
In Holland is bekend iets in de hekse/hekste perfectie doen. Dit is moontlik ʼn verwarring van in de perfectie maar met die ou towerformule ekse-perfekse. Die towerwoorde was okus, bocus, exce, perfexe (vergelyk ook Engels hocus, pocus). Ook in Duitsland was daar experfex, die woorde van ʼn towenaar terwyl hy sy toertjies doen. Miskien is daar in die stamtaal oorspronklik gesê iets doen met ʼn ekseperfekse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.