Woord:
frons
Betekenis:
plooi op die voorkop
Waar kom dit vandaan?
In Latyn het frons onder meer “plooi op die voorkop” beteken, maar dié woord se oorsprong kan dalk ook Gallies frogna “neusgat” wees, maar met die idee van ʼn snork van verontwaardiging.
Vergelyk ook:
Woord:
affronteer
Betekenis:
beledig, in die eer krenk
Waar kom dit vandaan?
Affronteer was om iemand op die voorkop te slaan. As die persoon nie oor die klap beledig voel of minstens woedend word nie, het hy ʼn varkie weg. Die minste wat hy kan doen is om te frons om sy afkeer te kenne te gee. Beter was dat die geklapte daarop sou aandring om die klapper douvoordag met pistool of rapier te konfronteer.
Die werkwoorde “frons” en “konfronteer” is duidelik familie: laasgenoemde beteken om voorkop tot voorkop met iemand te staan sodat jy hom onder vier oë kan sien.
ʼn Ander vroeëre betekenis was “stelling inneem teenoor ʼn vyand voordat die geveg begin”. Dit was veral die geval by onbeskaafde volke. Hule sou eers mekaar tart en treiter deur gesig te trek of onbeskofte klanke of woorde te laat hoor. Miskien sou ʼn diep grom soos in die diereryk die vyand afskrik. As hierdie voorspeletjies verby was, het hulle mekaar stormgeloop.
Dié taalbrokkie is oorspronklik gepubliseer in dr Anton Prinsloo se boek, ‘n Dief aan die Kers – skelm woorde deur die eeue (uitgegee deur NB Uitgewers)
Koop die boek: Graffiti Boeke
Prys: R225-00*
*Prys onderhewig aan verandering