Woord van die week: oukei

Argieffoto (Foto: RobinHiggins, Pixabay)

Woord:
oukei

Betekenis:
gewoonlik gebruik met die betekenis “ja” of “goed”

Waar kom dit vandaan?
Genoem na, nouja, watter een van die sowat 15 moontlikhede wat gereeld geopper word?

Die naam van Obadiah Kelly staan in sommige bronne voor in die ry. Hy was ʼn spoorwegklerk en het volgens oorlewering sy voorletters op vragbriewe geskryf as daar niks met die vrag geskeel het nie – en daarvoor betaal is (al het dit dalk gewere vir die Cherokees bevat).

Nog ʼn persoon wat vroeg daarmee verbind is, is die 7de president van die VSA, Andrew Jackson (1767–1845). Hy was vroeg in sy loopbaan ʼn hofklerk en moes die regsdokumente nagaan. As alles volgens hom korrek was, het hy die letter O.K. op die papier geskryf. Dit was volgens oorlewering veronderstel om te staan vir all correct – alles korrek. Daar bestaan bewyse dat Jackson geweldig vrot gespel het, wat dalk aanleiding gegee het tot sy beroemde uitlating: “Dit is beslis ʼn dêm swak brein wat nie kan dink aan minstens twee maniere om ʼn woord te spel nie”. Soos ʼn latere eweknie van hom, GW Bush, kon hy soms ook met briljante onlogika vorendag kom. Hulle deel sekere bedenklikhede in hulle toesprake, byvoorbeeld Jackson wat sy troepe beveel het: “Lig daardie kanonne laer!”

Sommige bronne raai dat dit uit Amerikaanse inheemse tale kom, veral dié van die Choctaw, ʼn Amerindiaanse volk wat oorspronklik in die Suidooste van die VSA gewoon het (vandag se Mississippi en Alabama). Dié taal het ʼn woord, okeh of hoke – maar dit beteken maar net “dit is so”.

Selfs Pruise ontsnap die loep nie. Baron Friedrich Wilhelm Ludolf Gerhard Augustin von Steuben (1730–1794), ʼn Pruisiese offisier, het gedurende die Rewolusionêre Oorlog in die Amerikaanse leër geveg. Volgens oorlewering is hy O.K. genoem: Oberst Kommandant, dit wil sê kolonel-in-bevel. Hy was verantwoordelik vir militêre opleiding maar daar is geen bewys dat hy ooit oukei gesê het nie, maar wel ander onnoembaarhede wat eerder by ʼn matroos tuishoort.

Inspekteurs in hawens aan die Mississippi-rivier moes katoenbale weeg en die inhoud klassifiseer. Die klerke was Franssprekend en as iets met die inhoud nie pluis was nie, het hulle aux quai op die bale geskryf. Dit het beteken “terug na die pier” vir terugsending. Die verengelsde Franse uitspraak van die woorde sou baie naby aan “oukei” geklink het.

Nog ʼn moontlikheid is dat die 8ste president van die VSA, Martin van Buren (1782–1862), dit gebruik het as afkorting vir die naam van sy geboorteplaas, Old Kinderhook. Hy en sy raadgewers het dikwels daar vergader, ook in die geheim sodat die CIA later groen van jaloesie was as daaroor gepraat is. Skynbaar het Van Buren die letters OK op die agenda vir hierdie vergaderings geskryf en dan het sy adviseurs geweet waar hulle moes heen. (Die naam Kinderhook is ʼn verbroude oorblyfsel uit die Nederlanders se stigtingstyd in Noord-Amerika.) In 1840 het die New Yorkse demokrate die OK-klub gestig maar dit was nadat die uitdrukking OK al in gebruik was.

Nog steeds in Amerika: Daar was ʼn Amerindiaanse opperhoof wat as Old Keokuk bekend gestaan het. Hy het net sy voorletters op verdrae geteken en dan het dit mos beteken dat alles in orde was – al het hy hom daarmee in ʼn beskeie hoekie van die land in ʼn reservaat vasgeverf.

Dalk was dit ʼn aweregse verwysing na gesneuwelde troepe in die Eerste Wêreldoorlog. Die bevelvoerder moes elke nag die aantal gesneuweldes aanmeld: O.K. het gestaan vir zero killed, dit wil sê “niemand dood nie”.

Die Unieleër het in die Burgeroorlog omtrent van Orrin Kendall-kraakkoekies geleef wat hulle O.K. genoem het as die vyand nie naby genoeg was om die knersende tande te hoor nie. Ongelukkig was die OK-uitdrukking reeds twintig jaar voor die oorlog bekend. ʼn Reklamefoefie: OK are OK is ook ná die tyd bedink om die verkope van hierdie krakers te bevorder.

Miskien hou ʼn hawe in Haïti die geheim van die oorsprong. Die Franse naam was vroeër Aux Cayes (vandag Les Cayes – “Die eilandjies”) en is in Haïtiaanse kreools as “oukei” uitgespreek. Maar omdat die plek eerstens vir sy rum bekend was, het niemand eintlik omgegee hoe die naam uitgespreek is nie, solank ʼn kurktrekker gevind kon word.

In die 1860-erjare is die afkorting OK gebruik as telegrafiese term vir open key (“oop sleutel”), maar daar bestaan geen bewys, nie eers ʼn riemtelegram, dat dit die algemene gebruik daarvan bevorder het nie.

In Wolof, die Wes-Afrikaanse taal wat deur baie slawe gepraat is wat na die VSA ontvoer is, beteken waw kay “ja” – wat moontlik een van die betekenisse van OK is.

In Grieks beteken ola kala “alles is goed”, maar aangesien klassieke kultuur in die VSA met die uittrede van OJ Simpson uitgesterf het, weet niemand hoe dit in dié land sou beland het nie.

Die Finne het nog nooit op die herkoms aanspraak gemaak nie, maar sommige verdwaalde geeste weet te beweer dat Fins oikea die woord oukei die wêreld ingestuur het. Dit beteken “foutloos, akkuraat, korrek”, maar aangesien dit eintlik die Finse komponis Jean Sibelius se swaan beskryf, is dié herkoms onwaarskynlik.

Buitendien het die Finne die word eintlik nie nodig nie, want hulle het nog tarkka, täsmällinen, verheetön, asiallinen, paikkansapitävä, tarkkakätinen en huolellinen tot hul beskikking om oukei te sê.

Die laaste voorstel is dat die Amerikaners ʼn woord hoacky het wat die laaste vrag van ʼn oes beskryf – maar dit is nie aan Afrikaans hokaai verwant nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Penellope Jones ·

Maar hoekom moet “””oukei””” gebruik word as daar wel ‘n pragtige Afrikaanse woord soos “goed” is?

Reti ·

Nee oukei is nie goed nie. Dis oukei. Goed is beter as oukei. Maar ek wil verantwoordelikes ook vra waar kom woord MAPSTIEKS vandaan? Vanoggend sê my man MAPSTIEKS en dis ewe skielik vir my pragtige woord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.