Woord van die week: paparazzo

Argieffoto (Foto: ErikaWittlieb, Pixabay)

Woord:
paparazzo (meervoud paparazzi)

Betekenis:
fotograaf wat soos ʼn taai April-vlieg om superbekendes draai

Waar kom dit vandaan?
Genoem na ʼn persfotograaf in die Italiaanse rolprentmaker Federico Fellini (1920-1993) se 1960-werk, La dolce vita.

Die nuusfotograaf se naam is Paparazzo, ʼn naam wat uit ʼn Italiaanse dialek kom waar dit ʼn besonder steurende klank, naamlik die gezoem van ʼn muskiet, beteken.

In sy skooldae het Fellini ʼn klasmaat met die bynaam Paparazzo (“muskiet”) gehad wat besonder vinnig kon praat en veral aanhoudend aan die beweeg was. Hy het gedink dat die naam die besondere karakter in sy rolprent sou pas. Hierdie herkoms word betwis.

Ander bronne meen dat dit uit ʼn reisverhaal oor Suid-Italië kom waar ʼn hotel-eienaar se naam Coriolano Paparazzo was. Fellini sou die boek toevallig op ʼn plek oopgeslaan en die naam daar gesien het.

Fellini word beskou as een van die invloedrykste en beroemdste rolprentvervaardigers van die 20ste eeu. Die Federico Fellini-lughawe by sy geboortedorp, Rimini aan die Adriatiese See, is na hom vernoem.

Dié interessante brokkie is gepubliseer in dr. Anton F Prinsloo se boek, Die aap in jou koffie (Afrikaanse eponieme van A tot Z).
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R250-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.