Tel jou woorde: Athlone

Argieffoto (Foto: Bookish Relish)

Verlede week is ek in die Kaap om VivA te gaan bemark. Besoek skole op ʼn streep, vertel hulle van ons produkte, Woordeboekportaal, ons navraagdiens, skoollisensie, kompetisie, die hele ketoet. Gawe kollegas in die Kaap het vir my die besoeke gereël, en ons ryg vir hulle in: van vroeg tot laat, tot verby die donkerte oor die wingerd kom lê.

Ek sien ou skole, nuwe skole, skole met ʼn ryk tradisie en ʼn bykans onuitputlike alumnifonds: ek sien skole waar die drade platgetrap is en die buurt se rondloperbrakke in die vullisdromme kom krap. Oral word ek vriendelik ontvang, oral kan ek sien die onderwysers het opregte deernis vir die jong siele in hulle sorg. Sommige se omstandighede is moeilik, sommige sʼn is haglik. Maar hulle is daar, bereid om saam te werk, gretig om vir Afrikaans in die loopgrawe te werk.

Dan kondig my kollega aan: Sy kan vir my ʼn besoek reël by die Athlone School for the Blind. Wil ek gaan? Ek het my bedenkinge, want ek smous skoollisensies vir woordeboeke en ʼn toepassing wat vir slimfone ontwerp is. Wat bied ek nou eintlik vir kinders wat sukkel om te sien? Is dit hoegenaamd sinvol om VivA soontoe te neem? My tyd is beperk, sien, en ek moet dit ten beste benut. Maar ek sê maar ja, want dis op ons pad en ons kan nou maar netsowel daar stop.

Die skool verras my, want dit is nie in Athlone nie, dis in Bellville. (Dis na die Earl of Athlone vernoem wat die grond vir die skool geskenk het, nie na die woonbuurt nie.) En al weet ek die skool bedien blinde en siggestremde kinders uit Kaapstad se arm woonbuurte, is die plek mooi opgepas. Al is die skool pas 90 jaar oud, is dit modern. Al is hulle gestrem, het die kinders almal internettoegang en rekenaars of tablette. Daar is min frilletjies, want elke sent wat inkom moet gebruik word vir onderrig of onderhoud – daar is ʼn koshuis – maar hulle doen wat hulle kan met die geld tot hulle beskikking. Veiligheid is natuurlik ononderhandelbaar, daarom begluur die wag my toe ek stilhou en hou die boek uit sodat ek kan aanteken wat ek daar maak. Dié plek het nie ʼn draad nie, dit het ʼn muur. Die kinders is weerloos.

Ons word ontvang deur die hoof, meneer Fletcher Fisher, ʼn lang man met ʼn ferm handdruk en ʼn ek-vat-raak-houding. As ek op sy personeel was, het ek in my spoor getrap. Ek verduidelik wat ons daar maak en hy luister beleef. En dan vra ek: Dink hy sy kinders sal kan baat by VivA?

Hy kyk my lank. “Juffrou,” sê hy. (Ek het al vergeet hoe is alle vroue by ʼn skool “juffrou”.) “Juffrou, hierdie kinders skryf presies dieselfde vraestelle as enige siende kind. Hulle moet dieselfde werk bemeester. Hulle moet dieselfde vaardighede hê. Ons probeer om vir hulle dieselfde toegang te skep as siende leerders en dis nie aldag ewe maklik nie. Dit kos moeite en dit kos geld. Praat gerus met my onderwysers, ons verwelkom enige hulp.”

Ek gaan verduidelik vir die Afrikaansjuffrou wat ons bied en ek kan sien sy is sielsmoeg. Sy gee Afrikaans EAT vir graad 8 tot graad 12. Maar dis wonderlik, sê sy, sy gaan dit beslis vir haar leerders aanbeveel. Dit sal vir baie van hulle die eerste keer wees wat hulle in ʼn woordeboek kan naslaan, want gewone woordeboeke is te klein gedruk. En daar is net een braillemasjien in die land en dis by Worcester. As hulle daar ʼn boek laat omskakel in braille, is ʼn gewone boek tien bundels dik. ʼn Woordeboek is net onmoontlik. Dankie, sê sy. Baie dankie. Dis ʼn groot voorreg om van VivA te hoor.

Ek is daar weg, ontstig oor al die goed wat ek elke dag so vanselfsprekend aanvaar: Om te kan sien, om te kan lees, om te kan naslaan, om te kan vra, om ʼn onderwyser vir elke graad te hê, om te kan weet die wolke stoot uit die weste in en as daar ʼn morrige bruin strook op die horison lê, moet jy jou sambreel saamvat skool toe. Om te weet jou sambreel is die rooie. Om te weet wat is rooi. Om te gaan studeer met die verwagting dat daar vir jou ʼn plek gaan wees in die samelewing.

Hopelik skakel die Athlone School for the Blind met my. Hopelik is daar iewers ʼn kind wat voorheen gesukkel het, wat nou makliker regkom met die skrifbeeld. Hopelik kan VivA vir die juffrou iets beteken. Maar al gebeur dit nié, was die besoek vrugbaar, want hulle het vir my meer beteken as wat ek vir hulle kan wees.

VivA-groete
Sophia

*Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans. Besoek gerus die VivA-webblad of laai die gebruikersvriendelike slimfoontoepassing af (kyk in die iStore en op Google Play vir VivA-aanlyn)

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Annelize Brits ·

Sophia, ek lees jou skrywe, met ‘n knop in my keel. My kind was self Gr R tot 2 by Athlone skool. Ek sien die skoolgrond, die gebou en meneer Fischer, die lang man met die ferm handruk, voor my geestesoog. Athlone het wonderlike en toegewyde onderwysers wat daar is vir die liefde van die saak. Ek wens hulle net soveel voorspoed toe. Athlone was goed vir my kind.

Kosternoster ·

Moet mens betaal vir aanlyn gebruik van hierdie woordeboeke?

Sophia Kapp ·

Hallo Kosternoster

Die diens, app en die webblad is heeltemal gratis. Daar is tans 36 bronne in ons Woordeboekportaal gelaai waartoe jy gratis toegang kry. Met ander woorde jy kan enige woord se spelling naslaan. Die toepassing werk met voorspellende teks, wat beteken dit help jou raai om die regte antwoord op te spoor. As jy die woord kry, gooi dit vir jou al die bronne uit waarin dit voorkom. ‘n Paar van die woordeboeke (soos die HAT en WAT) is kommersiële woordeboeke wat ons nie besit nie en op hulle moet jy inteken as jy die definisie wil sien. (Jy kan die woord sien, maar nie die uitleg langsaan nie.) Skakel gerus met my by [email protected] as jy nie regkom nie, of as jy navrae het. Maar die beste is om te gaan rondspeel op ons webblad of op die app en te sien hoe dit werk – dan kan jy self besluit of dit die moeite werd is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.