Tel jou woorde: Belangriker as ‘spel foute’

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Ek kry in die week ʼn navraag van ʼn mamma. Huiswerk. Kind is in graad 4 en hulle sukkel. Sy was self te lank gelede in graad 4 om behoorlik te kan help, en sy het in elk geval self gesukkel. Taal is nie haar sterk punt nie. Syfers praat met haar, nie woorde nie.

Ek verduidelik, illustreer my argumente met voorbeelde, haal reëls aan.

Mamma sien nog nie lig nie. Sy vra weer, ek verduidelik van ʼn ander invalshoek af. Gee nog voorbeelde. Wys hoe dit lyk as ʼn mens die reël verkeerd toepas. Uiteindelik is daar ʼn eureka-oomblik: Ooooooo, nou verstaan sy. Kind ook. Dis nou lekker, nou kan hulle met ʼn rein gewete gaan speel – die werk is gedoen. Dankie vir my hulp en “jammer vir al die spel foute ek is regtag nie goed met taal nie maar ek probeer darm altyd my kind help sy moenie so sikkel soos ek nie”.

Dié mamma is nie die eerste een wat “sikkel” met taal nie, en sy gaan lank ook nie die laaste wees nie. Ja, sy maak foute en ja, ek kan sien taal is nie haar sterk punt nie. Maar sy het iets wat baie ander, taalvaardiger ouers nie het nie – insig om te weet sy moet en kan gehelp word.

Ek wens ek ken haar goed genoeg om vir haar te sê sy hoef nie verleë te wees oor dié een vaardigheid wat sy nie het nie. Sy het ander. Sy is ʼn toegewyde ouer en sy het in een middag haar kind meer geleer as wat baie ander kinders by hulle ouers gekry het: verantwoordelikheid, pligsbesef, dat daar hulp is, dat dit nie ʼn skande is om hulp te vra nie, dat ʼn mens moet sê as jy hulp gekry het en steeds nie verstaan nie, dat dit moontlik is om selfs ʼn ding waarmee jy nie goed is nie te bemeester.

ʼn Mens sien gereeld in argumente (oor iets heel anders) hoe mense mekaar oor spelling verkleineer. Asof verkeerde spelling enigiets oor intellek te sê het. Tensy jy ʼn taalpraktisyn is en jou brood met spelling verdien, is ʼn spelfout of ʼn anglisisme of ʼn verknoeide idioom nie iets waaroor jy as op jou voorhoof hoef te strooi nie. En geen spel- of taalfout wat ʼn gewone sterfling in sosiale media of ʼn e-pos aan ʼn kollega maak, gaan die taal tot ʼn val bring nie.

Daar is erger bedreigings vir die taal: Apatie. Onbetrokkenheid. Onkunde. Onwilligheid om te leer. Vasklou aan verouderde of verkeerde taalreëls. Afrikaanse ouers wat hulle kinders Engels grootmaak. Afrikaanse kinders wat net Engels lees. Ouers wat vir kinders leer dat middelmatigheid maar goed genoeg is. Om nie foute reg te maak nie, al is daar riglyne en hulp.

Hierdie mamma met haar “gesikkel” en haar “spel foute” en al, is die soort taalgebruiker wat Afrikaans aan die lewe hou. Sy sit saam met haar kind, help, moedig aan, leer, ondersteun, verduidelik. Vra. Hou aan vra tot daar lig kom. En eendag wanneer dié dogter haar eie kinders het, gaan sy dieselfde doen. Hulle Afrikaans gaan nie boekperfek wees nie, maar dit gaan ʼn lewende, werkende, bruikbare taal wees wat bemeester kan word, al kos dit soms kopkrap.

Ek hoop sy vra weer as hulle weer hulp nodig het. Ek hoop ek kan weer help. Ek hoop daar is vir ons almal nog baie eureka-oomblikke wanneer die lig deurbreek. En ek hoop die speel daarna is lekker.

VivA-groete
Sophia

Lees alle vorige Tel jou woorde-rubrieke op Maroela Media. 

*Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans. Besoek gerus dieVivA-webblad of laai die gebruikersvriendelike slimfoontoepassing af (kyk in die iStore en opGoogle Play vir VivA-aanlyn)

 

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

jan van riebeeck ·

Sophia wat jy sê is waar , maar ek wens ouers wil besef hoe belangrik dit is vir hulle kinders om goed te kan skryf en veral spel , want soms is dit die eerste indruk wat jy op ander maak , vat maar net jou “CV”
En ongelukkig is mense maar net so , as iemand swak spel neem mense eenvoudig net aan dat ander dele van hulle opvoeding ook maar aan die swak kant was en is geneig om mense wat beter spelling in hulle skrif toon die voordeel te gee , nie noodwendig korrek nie , maar dit is die mens vandag , almal wil eerder mooi lyk , en goeie spelling is soos om mooi te lyk in skrif

Lizl ·

O wee ! Durf waag dit nou net om iemand op sosiale media reg te help oor hulle spelling ! Ek verpes die verkragting van ons mooi taal. Om reg te spel en mooi woorde te gebruik is die voorreg wat ons het om die mooiste taal te mag gebruik. Hou Afrikaans lewendig, en dankie aan al die juffrouens wat so spartel om dit in die bloedjies en mammas se koppe in te kry !!!

Francie ·

Ek het gevind om baie te lees later help wanneer jy nie duidelikheid het oor ‘n spesifieke woord se spelling het nie. Iets ‘lyk’ reg of vreemd .
Dit help selfs vir die Engelse taal. Ek kan baie Engelse woorde skryf, maar o wee, kan dit nie juis uitspreek nie.
Gelukkig help my Kindle se woordeboek baie, die fonetiese ‘taal’ by elke woord is baie handig.

Sann ·

Ek is nogal geneig om my dunk van iemand te laat beïnvloed deur hulle taalvaardigheid. Maar ek sal beslis hierdie genade vandag af aanleer, vir dié wat ten minste probeer. Ek het maar net my liefde vir die taal wat my lei, so, onwetend sondig ek dalk selfs nog meer.

Johann ·

Ek het van my laerskool dae af met spelling gesukkel, sommer baie, later jare kom ek agter, ook sinkonstruksie. Ek het jare vir ‘n korporatiewe instansie gewerk, waar ek later ook met bewoordings en die regstegniese gewerk het. Maar my passie was van meet af om te kan skryf, van skooldae af, ek wou soos die rubriekskrywers en briefskrywers in koerante skryf. Ek het met my neus in boeke geboer.

Vandag skryf ek boeke, bring eersdaags my derde boek uit. Innoverend, visie, passie, kreatief, baie, deursettingsvermoë, die lekker om my beskrywend in my taal uit te druk en om met al jou vyf sintuie te gesels. En ek neem ook nie my ouers kwalik dat hulle die talente nie toenterjare raakgesien het nie, dalk het hulle, maar daar was ander prioriteite. Daardie jare was ‘n skrywe van my in my skool se jaarboek ingesluit. Dus, vir dié wat wil skryf, lééf jou droom, die stories sal kom, al is dit eendag.

A. Mac ·

As mense aangaan om met die elektroniese goed te speel en tyd te verwyl sal daar volwassenes en kinders wees wat nie behoorlik kan lees en spel nie. Daar is nog steeds etlike woordeboeke op die mark, asook gewone leesstof wat mens kan gebruik. Ek dink dis net omdat almal maar net aanvaar omdat ‘n kind nie kan spel of lees nie dit altyd die een of ander mediese toestand is. Dis makliker om op facebook rond te kuier en speletjies op die foon en tablet te speel as om aandag aan lees en spel te gee. Dan praat ek nie eers van die ouers wat hulle kinders voor tv’s neerplak net om hulle uit hulle hare te hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.