Tel jou woorde – Brekende nuus

Argieffoto (Foto: congerdesign/Pixabay)

As jy in die nuutste (2017-uitgawe) van die Afrikaanse woordelys en spereëls die woord “breek” naslaan, sal jy die volgende inskrywing in die woordelys sien:
breek (die nuus –, ‘n been –, vir middagete –), ge-
breek (verposing), breke

(Voetnoot: Die woordelys in die AWS is nie ‘n verklarende of tweetalige woordeboek nie, dis ‘n lys woorde wat spel- of standaardiseringskwessies veroorsaak. Daarom is daar nie in die woordelys ‘n aanduiding van die woordsoort of die betekenis van ‘n woord nie. Daar is wel fleksie, waaruit gebruikers kan aflei wat die woordsoort is. In hierdie geval is die “breek” met   “ge-” ‘n werkwoord en die “breek” met die meervoud ‘n selfstandige naamwoord.)

Die opname van ‘n woord soos “breek”, wat nie spelprobleme veroorsaak nie en oënskynlik ook nie standaardiseringskwessies nie, lyk na ‘n mors van papier, maar dit is wel beduidend omdat dit die gebruik van die woord as meer as net ‘n werkwoord erken. Dit is belangrik omdat “breek” dekades lank slegs as ‘n werkwoord beskou is (iets breek en het gebreek), en die aanwending daarvan as selfstandige naamwoord (‘n breek) as anglisisties beskou is (take a break).

Dit was dus aanvaarbaar om te skryf:

  • Daar het ‘n breuk tussen die pa en die seun ontstaan.
  • Hy is in die hospitaal opgeneem met ‘n breuk.
  • Daar was ‘n breuk in die verrigtinge.
  • Jy sal die koppie breek as jy dit laat val.
  • Dit breek my hart om haar so te sien.

Maar ‘n sin soos die volgende was verdag:

  • Kan ons gou ‘n breek kry, ons is moeg gewerk.

Met verloop van tyd het dit egter uit gepubliseerde tekste duidelik geword dat die taalgemeenskap “breek” toenemend as selfstandige naamwoord inspan. Wanneer die Taalkommissie oor ‘n bepaalde woord beraadslaag, word daar in korpusse (teksversamelings) nageslaan hoeveel keer ‘n woord daarin voorkom, en dit was uit hierdie statistiek duidelik dat mense gewoon die woord gebruik in weerwil van al die anglisismedreigemente. Daarbenewens verwys die woord “breuk” vir die meeste mense onmiddellik na ‘n mediese toestand. En die alternatiewe vir “‘n breuk”, soos “‘n verposing” of “‘n pouse” klink darem baie outyds en pedanties:

  • Kan ons gou ‘n pouse kry, ons is moeg gewerk.
  • Kan ons gou ‘n verposing kry, ons is moeg gewerk.

Om te weerspieël wat in die taal plaasvind, is “breek” as selfstandige naamwoord opgeneem en is sinne soos die volgende heeltemal aanvaarbaar:

  • Ek is nou sat gewerk, ek het nou eers ‘n breek
  • Ons reël die naweek ‘n wegbreek.
  • Dis net die breek wat hy nodig gehad het.

Die gebruik van “breek” as werkwoord is nie nuut nie. Dit was nog altyd aanvaarbaar. Wat nuut is, is dat die AWS aandui dat nuus ook kan breek:

  • Die nuus oor die rooftog het elfuur gebreek.
  • Ek weet nie hoe om die nuus oor sy dood te breek
  • Kry deurlopend brekende nuus by hierdie skakel.

Elke keer as daar op ‘n taalforum ‘n navraag is oor die vertaling vir “breaking news” en ‘n mens uitwys dat “brekende nuus” ‘n erkende en aanvaarde ekwivalent is (dis ook in Pharos se tweetalige woordeboek opgeneem), is daar egter ‘n paar beswaardes wat weer die anglisismespook oproep en verdoemend praat oor die ondergang van Afrikaans. Dit is heeltemal onnodig.

Onthou eerstens dat ‘n mens lankal “breek” in ‘n figuurlike sin kon gebruik:

  • die dag breek
  • branders breek
  • ‘n tienerseun se stem breek
  • ‘n mens se hart breek
  • ‘n mens kan jou kop oor ‘n ding breek
  • jy kan jou nek breek om iets te probeer bereik
  • jy kan jou rug om dieselfde rede breek
  • jy kan iemand se spoed breek
  • jy kan ‘n verlowing breek
  • jy kan iemand se val breek
  • jy kan ‘n vas breek
  • jy kan ‘n rekord breek

Daarbenewens is ‘n anglisisme nie iets “wat soos Engels lyk en klink” nie. Daar is baie goed in Afrikaans wat soos Engels lyk en klink wat nie anglisismes is nie. Die bekende ou sinnetjie “my pen is in my hand” is altyd deel van enige vertaalkursus, want dit illustreer die nou band tussen Afrikaans en Engels – albei tale is per slot van rekening Germaans en is op dieselfde manier via Frans deur Grieks en Latyn beïnvloed. Dat daar ooreenkomste gaan wees, is onvermydelik.

Die ding waarvoor ‘n mens versigtig moet wees, is ‘n taalbousel wat a) direk uit Engels oorgeklank is, b) ‘n eg Afrikaanse bousel verdring, en c) in stryd is met hoe Afrikaans normaalweg werk. Iets soos “ons moet die probleem aanspreek” is ‘n anglisisme, want “aanspreek” is ‘n oorklanking van “address”, dit verdring die Afrikaanse uitdrukking “ons moet die probleem oplos/hanteer”, en dit is strydig met die korrekte gebruik van “aanspreek”, wat in Afrikaans “praat met” of “raas met” beteken.

As ‘n mens hierdie toets op “brekende nuus” uitvoer, slaag dit net die oorklank-deel. Dit verdring nie ‘n bestaande uitdrukking nie (nuus is nie vars of nuut nie – as dit nie vars of nuut is nie, is dit nie nuus nie), en dit is nie strydig met die reels vir “breek” nie. Dit was lankal ‘n werkwoord, dit word lankal figuurlik aangewend, en die teenwoordige deelwoord (“brekende”) is ook lankal Afrikaans.

Net om ‘n finale spyker in die anglisisme-doodskis te kap: Die Nederlanders gebruik ook “brekend nieuws” om na brekende nuus te verwys. ‘n Mens kan dus eintlik ewe maklik sê dis Hollandse erfgoed eerder as Engelse leengoed wat in die AWS opgeneem is. Daar is dus niks vreemds of afgryslik of onsinnig of verkeerd aan “brekende nuus” nie, dis so Afrikaans soos roosterbrood met marmelade, macaroni-en-kaas en brandewyn-en-Coke. Gebruik dit gerus en met gerusstelling dat jy nie die taal skade aandoen as jy so skryf nie.

Wat jy nie moet doen nie, is om ‘n breek te “vat”. “Neem” dit maar eerder. Ek vermoed dat dié verbod ook oor ‘n paar jaar opgehef gaan word, maar nou hoor ons nog die Engels te sterk.

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae