Tel jou woorde: Daai liederlike loef …

Argieffoto (Foto: georgigggg, Pixabay)

loef, s.nw. die kant waar die wind vandaan waai; uitdrukking: “die loef afsteek” = tussen die skip en die wind beweeg; letterlik die wind uit die seile haal.
Bron: Woordeboek van die Afrikaanse Taal

 

ʼn Vryery is nie ʼn maklike ding nie.

Dit verg, om mee te begin, ʼn geweldige klomp moed om jou hart voor ʼn meisiekind se voete te gaan lê, want jy weet nie of sy dit gaan optel of vertrap nie. (Albei dié uitkomste het bowendien sy eie pyn. Die een vat net so ʼn bietjie langer om op te daag.)

Dan is daar die pelle. Want dit kan wees dat jy en jou vrind ʼn oog op dieselfde meisiekind het. As sy jou verkies, is jy die vrind se vriendskap kwyt. As sy die pel kies, is jy jou hart kwyt. Dis ʼn verloorspul, maak nou nie saak hoe suksesvol ʼn man is nie.

Die enigste slegter scenario is dat sy die pel se eks is. Want sy gaan jou beskuldig van ʼn nota-uitruilery, en die pel gaan jou beskuldig van diefstal, al is jy te naïef om te weet waaroor dit nou eintlik is waaroor jy moet notas uitruil of wat dit is wat jy sou gesteel het. Jy’s skuldig, ongeag.

En dan is daar natuurlik nog haar BFF’s, haar BFFACC’s, haar BFFL’s, haar GBF’s en haar homies, wat almal om een of ander rede die gesag het om jou teenwoordigheid in haar lewe goed of af te keur. En as jy iewers, selfs in die donkerste, duisterste verlede een van hulle skeef aangekyk het, is jou doppie geklink, jou twak nat en jou stertvere gepluk.

Maar niks, niks, niks is so erg soos Die Pa nie. Hy is die man in haar lewe, haar eerste liefde, haar held, haar prins, en die een wat die heel beste weet watse gevare jy alles vir haar inhou. Kortom, sy grootste vrees in hierdie lewe is dat jy is soos wat hy was.

Hierdie skrikwekkende verwikkeling het onlangs in vriende se huis plaasgevind. Die jongejuffrou is vyftien en sexy en die manne begin belang stel. Sy is nie dom nie, sy gee hulle kans om te pronk, en na baie wik en weeg en waag en wegstap, is daar uiteindelik een wat haar geval. Aan die etenstafel kom die aankondiging: sy “date” nou.

Die ma is pragmaties: Sy knik en sê dis reg so. Sy bel die mannetjie se ma en maak kennis. Sy nooi hom oor vir ʼn braai, sy gesels vriendelik, sy vra uit, en sy luister met die aandag van ʼn inkwisisiebeampte, en gee die jongman genoegsame geleentheid om sy ware kleure te wys. Sy weet sy kan nie die gety keer nie, maar sy kan die strand beveilig: Sy is op haar pos, die lewensredder wat gereed staan met haar dobbertjie om haar kind uit die branders te gaan sleep as dit sou nodig word. Maar die gespelery in die branders keer jy nie, maak nou nie saak hóé streng jy is nie. Grootword is wat dit is.

Die pa is nie met soveel insig of geduld geseën nie. Hy brom, nie vreeslik onderlangs nie. Hy boor gate in die tuinmuur wat hy nie daarin wou gehad het nie. Hy stook ʼn vagevuur in die ingeboude braai vir tien tjoppies en ʼn stringetjie wors. Hy drink ses biere in plaas van sy gewone twee. Niks help nie, die mannetjie bly ʼn steen des aanstoots.

Maar die bom bars toe die tweetjies ná middagete boontoe verdwyn om te gaan YouTube. Die pa is rasend. Wat vir ʼn seunskind kyk nie op ʼn Saterdagmiddag krieket nie? En wat is ʼn gejoetjoep? In sy huis, nogal!

Die ma paai en probeer die gemoedere kalmeer. Help liewer vir Boetie met sy skoolwerk.

Boetie gaan haal ewe gedwee sy boeke. “Pa, ek het huiswerk vir Afrikaans. Idiome. Wat beteken ‘iemand die loef afsteek’?”

“Ek weet nie,” bulder die pa. “Maar gaan sê jy vir daai boyfriend van jou suster as hy ʼn vinger op haar lê, steek ek sy loef vir hom met ʼn graaf af!”

VivA-groete
Sophia

*Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans. Besoek gerus die VivA-webblad of laai die gebruikersvriendelike slimfoontoepassing af (kyk in die iStore en op Google Play vir VivA-aanlyn)

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mien ·

Skerp Sofia, baie skerp. Jou boeke het ‘n ereplek op my boekrak.

Hannah ·

Sophia…Sophia… jy is soos poeding na aandete om ‘n rowwe Maandag af te sluit!

Die keurigste Afrikaans! So mooi. Baie dankie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.