Tel jou woorde: Daardie verpestelike Australiane

Ons plaas daagliks op VivA se Facebookblad ʼn taalwenk. Dis in grafika ingebed, en ek pas moeilik meer as ʼn sin en ʼn voorbeeld in so ʼn prentjie in, daarom moet ek mooi besin oor wat ek in so ‘n wenk wil plaas. Dit help nie ʼn mens probeer ʼn ingewikkelde saak soos afleidings van eienaamwoorde in so ʼn wenk inprop nie – ek kan hoogstens een voorbeeld daarvan aanhaal en dan hoop die gebruikers op die blad gaan slaan in die bron self na wat die reëls is. Soms gebeur dit, meestal nie. Gebruikers vra op die blad self, en ek moet soms bontstaan om al die vrae te beantwoord. Veral as die kwessie mense warm onder die kraag het.

So plaas ek hierdie week (op versoek van ʼn paar gebruikers) die wenk dat die inwoners van die eilandjie doer onder in Afrikaans Australiërs genoem word, nie Australianers nie.

Die reaksies op dié plasing was een van drie:

  • Sien jy, [iemand se naam wat in ʼn stryery hieroor betrokke was], ek was reg!
  • Dankie vir die plasing, dit pla my as ek die verkeerde vorm hoor.
  • Waar kom jy aan dié reël?

Dis veral die laaste groep gebruikers wat ek sommer so oor die afstand heen kan aanvoel warm onder die kraag is. Sommige is nie net warm nie, hulle krae kook.

Ek het al geleer: Gebruikers se verontwaardiging oor ʼn taalreël is direk eweredig aan die kans dat hulle die reël verkeerd toepas. Dis veral die garde wat skryf “Maar ek skryf dit nou al jarrre so” wat moeilik aanvaar dat hulle nou al jarrre verkeerd skryf en dan daaroor wil baklei. Dis moeilik, ek weet (ek is gereeld nog onaangenaam verras oor ingeburgerde foute in my eie taalgebruik), maar dis die rede waarom ʼn mens ʼn blad soos hierdie volg – jy kom leer wat die reëls is, vra as jy nie verstaan nie, en maak reg as jy verkeerd is.

Om terug te kom by die Australianers/Australiërs en die antwoord op “Waar kom jy aan dié reël?”.

Die bron in Afrikaans wat ʼn mens heel eerste oor spel- en skryfkwessies raadpleeg, is die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS). Dit word opgestel deur die Taalkommissie, ʼn staande kommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die boek is nou 101 jaar lank die amptelike standaardiseringsbron vir Afrikaans en het in sy bestaan ʼn hele paar hersienings en bywerkings beleef. ʼn Paar uitgawes gelede is daar ʼn lys geografiese eiename en hulle afleidings agter in die boek opgeneem, juis omdat daar soveel verwarring oor die saak bestaan. Die lys is oorspronklik opgestel uit gestandaardiseerde bronne, en dit word elke keer hersien voor ʼn nuwe uitgawe verskyn. Die opnames in die AWS word deesdae ook digitaal getoets aan korpusse – ons werk deur lyste tekste en soek na die voorkoms van, sê nou maar, Australiër teenoor Australianer. Die vorm wat die taalgemeenskap die meeste gebruik, word in die lys opgeneem. Waar kom ek aan Australiërs? Dit is so opgeteken in dié (gestandaardiseerde en getoetste) lys.

Die woedendes was egter nie sonder ammunisie nie: “Maar wat van Italianers? Moet ons nou skielik praat van Italiërs?”

Nee, is die antwoord. En ja, dit is ʼn soortgelyke voorbeeld. Ja, die patroon vir die afleidings van plekname wat op eindig, is in Afrikaans nie heeltemal voorspelbaar nie. Ons praat van Argentyne wat in Argentinië bly, van Belge wat in België bly en Brasiliane wat in Brasilië bly. En natuurlik, van Italianers wat in Italië woon. Maar dis baie meer algemeen in Afrikaans om die -iërs-vorm te gebruik vir afleidings van plekname op : Bosniërs, Brits-Colombiërs, Etiopiërs, Gambiërs, Georgiërs, Indiërs, Indonesiërs, Jordaniërs, Libiërs, Malawiërs, Polinesiërs, Serwiërs, Tanzaniërs, Zimbabwiërs (om maar ʼn paar te noem). En vra maar vir enigiemand of ons Afrikaanse bure in Namibië nou skielik Namibiane wil wees. Ek kan met redelike sekerheid voorspel hulle gaan vir jou sê hulle is Namibiërs, en ek kan met redelike sekerheid sê selfs die Australiaanse kamp gaan nie daaroor kla nie.

Die rede waarom Australianers nie aanvaar word nie, is dat die woord nie ʼn afleiding van Australië is nie, dis ʼn oorklanking van die Engelse afleiding Australians. Dit is met ander woorde ʼn uitstekende voorbeeld van ʼn anglisisme: Dit klink Afrikaans, maar dit is ʼn direkte vertaling uit die Engels en verdring ʼn bestaande Afrikaanse woord of uitdrukking.

Terloops, vir die Italianers wat nie Italiërs is nie, verwyt ek die Nederlanders. Hulle verwys na Italiane, waarvandaan ons waarskynlik ons afleiding gekry het. Maar hulle verwys ook na Australiërs, wat natuurlik beteken ons het die onpatroonmatigheid by hulle geërf. Oor dié onpatroonmatigheid moet die beswaardes dus eintlik by die Nederlandse taaldiens gaan kla, nie by VivA nie!

Die punt van die lang relaas is eintlik: Taal is nie altyd ʼn voorspelbare ding nie. Soms is daar patrone waaruit ʼn mens reëls kan aflei, soms is daar uitsonderings, en soms is ʼn ding sommer net anders (soos die Belge in hierdie geval). Die deurslaggewende faktor is uiteindelik die voorkeure van die taalgemeenskap. Is daar ʼn moontlikheid dat Australianers later ʼn wisselvorm vir Australiërs sal word? Ja, natuurlik kan dit gebeur. As die taalgemeenskap later sou besluit dat die oorgeklankte vorm net so aanvaarbaar is as die Afrikaanse vorm, sal die Taalkommissie dit as wisselvorm opneem. Maar daar is tans nog genoeg gebruikers wat weet dit is verkeerd, en wat dit nog as slordige skryfwerk beskou. Totdat dit verander, is dit die vorm wat in die AWS opgeneem sal wees. Die mense het gespreek, die Taalkommissie het net geluister!

VivA-groete

Sophia

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Liezel Hoepfner ·

‘n Persoon v Japan…’n Japannees. Hoekom lees ek dikwels in die media ‘n ‘Japanse’ dis, ‘n
‘Japanse’ trein ens? Moet dit nie ‘n Japannese dis of -trein wees nie? Help asb.

Sophia ·

Liezel, in daardie einste lys is “Japannees/Japanner” en “Japannese/Japanse” as wisselvorme opgeneem. Dit beteken die frekwensietellings vir die twee vorme was so naby dat die Taalkommissie nie regtig vir of teen een van die vorme kon besluit nie – dit is vir die taalgemeenskap ewe aanvaarbaar.
Net as ‘n voetnoot: Jy het gratis toegang tot die inskrywings in die lys via VivA se slimfoontoepassing of ons webblad. Tik “Japan” in en kies dan die “Lys geografiese eiename en afleidings” om te sien wat die moontlikhede is.

Gerhard ·

Ek dink die woord Japannees verwys na iemand wat ‘n etniese/kulturele oorsprong het in Japan teenoor Japanner wat na iemand verwys wat ‘n burger van Japan is.

JC ·

Baie dankie, dit was nou werklik interessant en fassinerend.

Afrikaans is verseker die pragtigste en merkwaardigste taal op aarde!

Lank Leef ons Taal!

Alida ·

Dankie Sophia. Dit irriteer my altyd as mense van Australianers praat.
Klaar asb vir Liezel Hoepfner en ander die verskil tussen Japanners en Japanese ook op ?

Theresa ·

‘n Australianer klink na getroude paar beskrywing – 1 Australiër en 1 Italianer.

MAL oor die taalwenke. ‘n Taal bly pragtig met die inoefening van korrekte gebruik daarvan – baie dankie!

Marelize ·

Geniet jou inskrywings en wenke op Facebook baie.

“…en verdring ‘n bestaande Afrikaanse woord of uitdrukking.”

Ek wens net die AWS was konsekwent met hierdie opmerking. Sovele Engelse uitdrukkings en anglisismes het alreeds bestaande Afrikaanse woorde verdring én is so opgeneem in beide AWS en HAT.

Morne ·

Gepraat van anglisismes . . . Iets wat my rooi onder die kraag of sommer net onthuts, ontstel, die hoenders in of verontwaardig maak, is uitdrukkings soos “warm onder die kraag”. Verdien dit ’n plek in versorgde Afrikaans?

Josef du Toit ·

Baie dankie Sophia vir u leersame rubrieke wat altyd op so ’n aantreklike wyse geskryf is. Verwant aan die onderwerp van u rubriek hierbo is voorbeelde soos Bulgarye, Hongarye en Turkye teenoor Algerië in Afrikaans, terwyl in Nederlands Algerije weer meer soos die eerste twee in uitgang klink (Bulgarije, Hongarije en Turkije in Nederlands). Dan is daar Afrikaanse Nigerië teenoor Nederlandse en Engelse Nigeria. Ons skryf Namibië blykbaar dieselfde in Nederlands en Afrikaans, alhoewel eerder Namibia nie alleen in Engels nie, maar ook in Duits. Ek neem aan Natalia (eerder as Natalië) kan toegskryf word aan Nederlands – so skryf ons gewoonlik Zuid-Afrikaansche Republiek eerder as Suid-Afrikaanse Republiek wanneer ons die eertydse onafhanklike Transvaal in gedagte het, om nie eers van die Nederduitsch (eerder as Nederduitse) Hervormde Kerk in Afrika te praat nie. Maar wat van Orania, ’n naam wat te voorskyn gekom het uit ’n openbare kompetisie onder die toesig van ’n Engelstalige (as ek reg verstaan) – behoort ons nie te verbeter na Oranië nie? Verkies inwoners van hierdie woonplek van Die Kleine Reus om Oraniërs of Oraniane te wees, en behoort dit die keuse tussen Orania en Oranië te beinvloed?

Johann cb ·

Baie dankie Sophia, ek hoop dat aanbieders van sportprogramme op TV óók op hierdie wenk sal agslaan!

John ·

Dis tog interessant dat taalkundiges so graag aandag soek en meerwaardig ‘weet’. Ons taaltjie het meer aandag as weet nodig. Waarom nie beide gebruik nie? Of is dit net omdat taalversorgers graag baasspeel? Die mees vervelige van alle tv-programme is die spelspeletjies… sekerlik omdat die aanbieders self aandag soek maar aan niks meer opwindend kan dink nie. Miskien hoop diesulkes dat toegang tot die hemel beperk gaan word tot diegene wat Miesies Upppie kan spelle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.