Tel jou woorde – Die tentoonstelling, die skape en die predikantsvrou

Argieffoto

Gebruiker Mari Brink stuur in die week ʼn noodroep: Bespreek asseblief die begrip “samestellende afleiding”. Dit gee ʼn groot gestry af! Laat ons nou eenmaal hierdie tameletjie (wat nooit een was nie) kou en klaar kou.

Mari is reg oor ʼn klomp goed – dit is ʼn tameletjie, dit is ʼn voortslepende bron van taalkundige onmin, en dit moes nooit onmin veroorsaak het nie, want die begrip word behoorlik, en met genoeg voorbeelde, in die AWS se terminologielys bespreek. Min mense weet van die lys (en nog minder steur hulle daaraan), maar dit is kernbelangrik om die begrippe in die lys te ken omdat dit terminologie is wat in die bewoording van die reëls gebruik word. Sonder behoorlike begrip van die terminologie in die lys, verstaan ʼn mens ook nie die reëls nie. Daarbenewens is dit altyd wys om geverifieerde inligting oor moeilike taalkundige terminologie op te spoor en te vertrou, eerder as om staat te maak op die ongefundeerde (en verkeerde) bespiegelings wat ʼn mens op baie sosialemediaplatforms aantref.

Die AWS erken ʼn sambreelterm “komplekse woord”. Hierdie term verwys na woorde wat bestaan uit “meer as een woorddeel of morfeem”. Om dit met ʼn baie eenvoudige voorbeeld te illustreer: Die woord vrou is ʼn simplekse woord (jy kan ook sê dis ʼn “ongelede woord”). Die woord vroue is ʼn komplekse (of “gelede”) woord. Woorde soos vroutjie, vroulik, vrouesake, vrouegerig, predikantsvrou, vroumensagtig, vrou-en-moeder-opvatting is alles komplekse woorde.

Die AWS identifiseer vyf soorte komplekse woorde:

  • Afleidings en fleksievorme. Dit is woorde wat bestaan uit ten minste een stam of basis en een voor- of agtervoegsel, bv. vroulik (afleiding) en vroue (fleksievorm).
  • Samestellings. Dié bestaan uit ten minste twee stamme, bv. predikantsvrou en vroumens.
  • Samestellende samestellings. Daaroor het Milton Webber al ʼn volledige uiteensetting in sy blog “Die samestelling van samestellende samestellings” gegee. Dit is woorde soos enkelvroukanowedren of luihuisvrouresepte.
  • Woordgroepsamestellings. Dit is samestellings van ʼn woordgroep waarvan die bepalergedeelte bestaan uit ten minste drie woorde wat aan verskillende woordsoorte behoort, bv. piet-my-vrou-deuntjie of bring-jou-vrou-saam-geleentheid.

Die vyfde soort komplekse woord wat in die AWS gedefinieer word, is die afgeleide samestelling. Hierdie morfologiese bousel veroorsaak groot verwarring, soos Mari tereg aandui, want sommige grammatikabronne het gewone samestellings met afleidingsmorfeme ook in hierdie kategorie begin indruk. Dit is nie korrek nie. Samestellende afleidings is ʼn baie spesifieke soort taalbousel en is nie sommer net enige samestelling met ʼn afleidingsmorfeem nie.

Die AWS se definisie lui soos volg: ʼn Samestellende afleiding bestaan uit ʼn voor- of agtervoegsel wat ʼn woordgroep saambind tot ʼn woord, byvoorbeeld ondergronds, tentoonstelling.

Let mooi op: Dit is ʼn woordgroep (met ander woorde los woorde) wat net met die toevoeging van die voor- of agtervoegsel (die afleidingsmorfeem) vas geskryf word. Die voegsel veroorsaak die vasskrywery. Dis nie ʼn samestelling (wat reeds vas geskryf word) wat toevallig ʼn afleiding kry en steeds vas geskryf word nie, dis ʼn woord wat vas geskryf word uitsluitlik wanneer die afleidingsmorfeem daarin optree.

Die woord tentoonstelling illustreer hierdie proses uitstekend. Ons het in Afrikaans ʼn woordgroep ten toon stel. Dit is altyd los. Dit is altyd ʼn spelfout om te skryf *tentoonstel. In hierdie woordgroep is stel ʼn werkwoord, ten is ʼn voorsetsel (dis ʼn versteende vorm uit Nederlands), en toon is ʼn selfstandige naamwoord. Ons stel skape by ʼn landbouskou ten toon. Ons het skilderye by ʼn kunsuitstalling ten toon gestel. En ons doen dit altyd met drie los woorde.

Wanneer ons egter met ons skape of skilderye by die geleentheid opdaag en die geleentheid moet ʼn naam kry, is die naam tentoonstelling vas. Die -ing is hier ʼn agtervoegsel en morfologies ʼn afleidingsmorfeem, en dis met die toetrede van hierdie afleidingsmorfeem tot die afwysery dat die woord vas geskryf word. Hierdie bousel is nou nie meer drie woordsoorte nie, dis ʼn selfstandige naamwoord (dit kan ʼn lidwoord neem ʼn tentoonstelling en dit kan fleksie neem tentoonstellings) en morfologies is die hele lange ding nou ʼn samestellende afleiding.

Nog voorbeelde van samestellende afleidings is teraardebestelling (ter aarde bestel + -ing), indiensneming (in diens neem + -ing) en bloukleurig (blou kleur + -ig).

Daarteenoor is woorde soos bosvrou, predikantsvrou, vroumens en vrouedokter almal reeds samestellings. As ons fleksiemorfeme daarby voeg (bosvroutjie, predikantsvroutjie, vroumense, vrouedokters) of afleidingsmorfeme by die bestaande samestellings voeg (bosvrouagtig, ontvroumens) het ʼn mens niks aan die skryfwyse van die oorspronklike samestelling verander nie. Dit was ʼn samestelling, dit is steeds een, dit het net fleksiemorfeme of afleidingsmorfeme bygekry. Sulke bousels noem ʼn mens dan onderskeidelik geflekteerde samestellings of afgeleide samestellings.

ʼn Komplekse kompleksiteit, dié samestelling van samestellings. Moenie verder dwaal nie, vertrou gerus jou vriendelike AWS om vir jou rigting te gee in die donkerte.

VivA-groete

Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae