Tel jou woorde: Die vers is ‘n refrein en die gesang ‘n requiem

Argieffoto (Foto: goconqr.com)

Ja, jy het reg geraai: Vers volgende van die wat-is-die-versamelnaam-vir-X-gesang het vandag opgeklink. Ek wil weer my oë rol, maar dit help nie ‘n mens kla of raas daaroor nie – dit is dekades se verkeerde opvattings, dwaalleer, onvoldoende opleiding en verkeerde onderrig wat ons by hierdie punt het, en die situasie gaan nie in ‘n agtermiddag of ‘n week of ‘n jaar omgekeer word nie. Dit gaan waarskynlik nie binne die volgende tien jaar omgekeer word nie. Maar dit beteken nie ‘n mens mag handdoek ingooi en ophou probeer nie.

Daarom sê ek maar weer: As jy in ‘n toets of eksamen ‘n vraag formuleer soos “Wat is die versamelnaam vir ‘skepe’?” gaan jy enige antwoord wat aan die sintaktiese en semantiese vereistes vir versamelname voldoen as korrek moet aanvaar. (Dié vereistes is [soortnaam wat na ‘n groepering verwys] + [soortnaam wat na iets verwys wat gegroepeer kan word].) Skepe word gewoonlik deur ‘n land se regering in ‘n vloot gegroepeer en daarom is dit goed om van dié spesifieke versamelnaam vir skepe kennis te neem, maar dit is net so korrek om te praat van ‘n armada skepe, ‘n flottielje skepe, ‘n klomp skepe of ‘n spul skepe. As jy ‘n sinvolle vraag oor versamelname vir skepe wil vra, stel dit eerder so: “Kies die regte moontlikheid tussen die hakies: Ons verwys gewoonlik na ‘n versameling skepe as ‘n (vloot/eskader/peloton).” Maar moenie van die veronderstelling uitgaan dat daar een versamelnaam vir elke moontlike groep is en dat enige ander moontlikheid verkeerd is nie. Jy doen die taal en die leerders ‘n onreg aan.

Net om my vermoede oor dwaalleer in taalonderrig te bevestig, gewaar ek op ‘n openbare forum vir onderwysers ‘n noodkreet van ‘n Grondslagfase-onderwyser: Wat is die toekomende tyd vir “Hy was die hond”? Is dit “Hy gaan die hond was” of “Hy sal die hond was”?

Ek het simpatie met die vraagsteller. Ek was ook op my dag jonk en moes ook doen wat ouer, meer ervare kollegas vir my voorgeskryf het, al het ek geweet hulle is verkeerd. Maar ek verstom my ook dat die persoon raad vra op ‘n forum waar die raadgewers se kennis ongeverifieer, onbetroubaar en onvoldoende is. Ek mag so sê, want ek het gaan tel: Uit die 55 antwoorde het slegs 6 persone aangedui dat albei moontlikhede korrek is. Dit is almal onderwysers – slegs 6 uit 55 leer kinders reg. Die ander 49 dwaal, ketter, knoei, mislei en verklaar (met groot bravade) dat “gaan” slegs ‘n hoofwerkwoord kan wees (“Ek gaan stad toe”). En so word taalkundige onsin jaar ná jaar, geslag ná geslag, op jong onderwysers afgedwing. En jaar ná jaar sit intelligente kinders in hierdie klasse en brom binnetoe omdat hulle weet dit wat hulle kry, is oorlewering en nie kennis nie.

Wat is nou eintlik die kap agter hierdie byl wat ek so slyp? Net dit: Daar is ‘n verskil tussen ‘n opinie en ‘n feit. Daar is ‘n verskil tussen ‘n persoonlike voorkeur en ‘n taalreël. Daar is ‘n verskil tussen raad en goeie raad. Daar is ‘n verskil tussen ‘n betroubare bron en Facebook. Statisties is jou kans maar 6 uit 55 om die regte antwoord by laasgenoemde te kry. En as jy aangestel is en betaal word om ander mense se kinders te leer, moet jy seker maak dat jou kans op sukses darem bietjie beter is as 6 uit 55.

Ja, ek weet onderwysers word (soms oornag) in poste ingeprop waarvoor hulle nie opgelei is nie. Ja, ek weet taalonderrig staan in die skadu van wiskunde en wetenskap, en die belangrikheid van taal as die medium vir enige leer word onderskat of sommer totaal oor die hoof gesien. Maar dit verskoon nie doelbewuste onkunde nie. Dit verskoon nie die feit dat jy nie ‘n verwysingsbron of ‘n handboek raadpleeg (die korrekte antwoord op die vraag was in my kind se skoolhandboek) vir die vak wat jy aanbied nie. Kan jy jou die oproer indink as ‘n wiskundeonderwyser by ‘n skool opdaag en die kinders begin leer die enigste korrekte moontlikheid is 2 + 2 = 4? Wat van 1 + 3 = 4? Of 6 – 2 = 4? Of 1 x 4 of 4 x 1 of 0,5 x 8 of …? Hoekom is dit dan aanvaarbaar om kinders te leer die enigste aanvaarbare versamelnaam vir “skepe” is “vloot” en die enigste manier om na die toekoms te verwys, is met “sal” al weet ons almal voor ons heilige siele dis twak?

Daar is ‘n punt waar verskonings vir verkeerde onderrig opraak. Daar is ‘n punt waar gebrek aan kennis en die klakkelose herhaling van oorgelewerde onkunde onaanvaarbaar word. Daar is ‘n punt waar die taalgemeenskap bekommerd moet raak oor 6 uit 55.

Ek dink ons is dalk nou daar.

Maar dit is darem nou ook nie nodig om handdoek in te gooi nie. As jy ‘n jong (of ouer) onderwyser is en jy sukkel, wonder of twyfel, skakel gerus met VivA. Jy kan op ons webwerf (viva-afrikaans.org) inteken (dis gratis) of jy kan my e-pos by [email protected] Jy kan my ook whatsapp by 062 126 0295. Tussen die lede van VivA (ek, Gerhard van Huyssteen en Jana Luther), die lede van die Taalkommissie en die ervare taalpraktisyns, taaldosente en joernaliste op ons Taalwerkersforum sal ons wel met ‘n begronde antwoord vorendag kan kom. En ek kan jou waarborg jou kans om korrekte antwoorde by VivA te kry, is beter as 6 uit 55.

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae