Tel jou woorde: Fopnuus

Verslaggewers met verskeie vorme van fopnuus. Illustrasie uit 1894 deur Frederick Burr Opper via Wikimedia Commons

fopnuus, s.nw., 1. nuus wat versprei word met die doel om lesers te mislei; 2. nuus wat die spot dryf met werklike nuusgebeure; nuussatire

Die afgelope week of wat het hard aan die land kom vat. PG is weg – die enigste skrywer in die land wat, volgens sy uitgewer, vir haar persklaar manuskripte ingestuur het – en Johann Botha is uit ons midde gepluk. Die Kaap het uiteindelik water gekry, maar met ʼn paar lewens en baie dakke daarvoor betaal. En Knysna het gebrand. En Buffelsbaai en Sedgefield en Plett en Karatara en Diepwalle en Elandskraal en die ander dorpies waarvan my oupa my vertel het voor Dalene Matthee nog haar boeke geskryf het. Huise is platgevee. Herinneringe. Toekomsdrome. Planne. Hoop. Lewens.

Ek het hier in Pretoria in ʼn vergadering gesit wat my gedwing het om op ʼn ander plek te konsentreer, wat so ʼn bietjie gehelp het om die seer en die swaarkry uit te stel. Ek kon my in ʼn borrel terugtrek en afstand behou, maar ek het geweet dis afgryslik, al kon ek nie sien hoe dit gebeur nie.

Toe ek uiteindelik klaar vergader het, is daar ʼn foto op Facebook van ʼn afgebrande huis tussen skelette van stamme, en ʼn verskrikte bosbokkie in die voorgrond wat kom soek na kos en water. Die afstand het nie gehelp nie, my hart het in elk geval gebreek.

Nee, ek het niks verloor nie, maar dit was nie vir my moontlik om in my borrel te bly nie. Want dis my mense wat so seerkry. My land se mense. My land se bosbokkies en my land se bos. En of die slagoffers nou in ʼn paleis of ʼn pondok gebly het voor die vuur toegeslaan het, hulle het nou almal ewe veel – niks. Hulle is almal ewe uitgelewer aan ander mense se goedheid.

En mense was goed. Nabymense wat aan die dakloses blyplek gegee het. Restauranteienaars wat kos uitgedeel het. Kerke wat sale beskikbaar gestel het, veeartse wat diere versorg het, al het hulle eie huise afgebrand. Brandweermanne wat opgedaag het met hulle toerusting in plastieksakke. Gesinne wat brandweermanne tussen skofte gehuisves het. Radiostasies wat fondse ingesamel het. Banke wat uitgehaal en gewys het. ʼn Hekelgroep wat wol en hekelpenne ingesamel het vir mense wat niks ander het om te doen as wanhoop nie. Mense was goed.

Maar toe … toe kom die berigte: Moenie goed stuur nie, vragmotors met noodvoorraad word gekaap. Moenie jammer wees nie, die ramp is die gevolg van brandstigting. Moenie help nie, jou geld word gebruik om kospakkies vir mense te gee wie se huise nie afgebrand het nie. Moenie deelneem nie, die regering het dan nog niks gedoen nie. Moenie betrokke raak nie, die mense wat in dié streek bly, verdien nie jou ondersteuning nie.

Die woord “fopnuus” is in VivA se databasis opgeneem as die vertaling vir die Engelse “fake news”. Daar is twee soorte fake news: foutiewe inligting wat versprei word om lesers doelbewus te mislei, en satiriese nuus wat ten doel het om ʼn werklike situasie onder mense se aandag te bring en hulle daaroor te laat besin.

Toe die inskrywing verlede jaar ingekom het, was ek opgewonde oor die woord. Dit was oulik, beskrywend, dit val lekker op die tong, en almal gaan dadelik verstaan wat dit is. “Fop” is dan so ʼn lekker woord, met ondertone van poetsbakkery en grapmakery. Ná die afgelope twee weke het my ingenomenheid met die term beduidend getaan.

Daar is niks snaaks, satiries, lighartig of eers aanvaarbaar aan fopnuus nie. Dit is onderduims. Gemeen. Onverantwoordelik. Oneties. Giftig. Dit beskadig mense. Dit beledig hulle. En dit maak mense wat reeds alles verloor het, nog ʼn keer tot slagoffer.

Ek wil die inskrywing verander en dit noem “rommelnuus”. Of “warnuus” of “karsinogene nuus” of “gifnuus” of “vreemdemenseskryfhierdiesoorttwaknuus”. Of ʼn mens kan dit sommer net noem wat dit is: str*nt.

Met spesiale VivA-groete aan my landgenote in die grys streke. Mag julle bos gou weer groen wees.
Sophia

*Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans. Besoek gerus die VivA-webblad of laai die gebruikersvriendelike slimfoontoepassing af (kyk in die iStore en op Google Play vir VivA-aanlyn)

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nic ·

Uit die artikel is dit duidelik dat daar, soos met enige waarheid, drie kante daarvan bestaan! 1. Die werklike nuus soos van ooggetuies verkry en geraporteer sonder om dit aan te pas na wat mense wil hoor of lees. 2, fopnuus, wat die draak steek met “nuusmakers” wat so behep met hulle eie belangrikheid is; 3. gifnuus: daardie bolle str*nt wat veral op sosiale media versprei word as die reine waarheid, “ek het dit self op fb gesien”! Ek is van mening dat ‘n mens eers die geloofwaardigheid van ‘n berig en die outeur daarvan, moet ondersoek alvorens jy dit vir soetkoek opeet en miskien onnodig vure (sic) aanblaas met die verspreiding van ongegronde en onwaar berigte!

Veritas ·

Nic, wat vir my die snaakste is, is die hoeveelheid mense wat hierdie klomp bollie, vir soetkoek opeet. Sommige van die ‘waarskuwings’ is so blatant nonsens dat slegs idiote daarvoor sal val. As ek so kyk en luister na hoé baie die stories sluk, is die enigste afleiding wat ek kan maak, dat die mensdom enigiets sal glo solank dit net êrens op sosiale media gedeel word.

marlene ·

Dit is juis een vd hoofredes hoekom ek my fb blad gesluit het. Die ongenaakbare wreedheid vd mensdom, gee my nagmerries. Hoekom sal mense rommelnuus versprei? Dit bring net hartseer en konflik tussen mense. Dis so onnodig. Die lewe is hard genoeg.

John ·

Miskien verwoording die term die psige van die huidige generasie. Die pen/woord is magtiger as die swaard is gese en nou sien ons dit in aksie. Met die raak van ‘n vinger op ‘n skerm kan ‘n lewe verwoes word en enigiets tot verdag verdraai word; die duiwel losgelaat word in miljoene breine en leuens waarhede se kragte troef. Selfs ‘n prentjie spreek ‘n duisend verdraaide woorde. Woordswendelaars herhaal woorde soos graad 1’s doen om leuens by ons in te oefen. Die tragedie is dat gesiene nuusdraers nou beroemdheid verwerf met hul leuenswendelary en leuenverklikkers daarenteen deur gesiene regters vir 1984-behandelings verwys word.

Daniel ·

Wat ons ook ingedagte moet hou is dat fopnuus ook gebruik kan word om die aandag van ‘n ander situasie, wat tans te veel aandag kry, te herlei. Kom ons noem dit maar “teen-intelligensie”. Ek stem saam met die kommentaar. Daar is lagwekkende e-posse, telefoniese boodskappe en videos wat vir die waarheid versprei word terwyl dit die grootste klomp bog is. Dit is ongelukkig so dat te veel mense die twak glo, hul eie stertjie aanlas en dit dan verder versprei. Ek verkies feite en as dit ontbreek dan verwerp ek dit. Die moontlikheid is daar dat daar dalk van die “hulp” by ongebrande huise beland het maar dit kan ook wees omdat daardie huis reeds alles wat hulle gehad het uitgedeel het of dat daardie huis moet help met die verdere verspreiding omdat vervoer beperk was op daardie stadium.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.