Tel jou woorde: Intensiewe vorme, Noag en die kanon

Argieffoto

Een van die gereeldste (en lastigste) navrae wat ek kry, is oor intensiewe vorme. Versamelname, vergelykings en intensiewe vorme is groot griewe, vir onderwysers, vir leerders, en vir hulle ouers wat moet help huiswerk doen, want dié goed het in die taal versteen geraak en die jonger geslag moet hierdie gesteentes in hulle sakke dra ingeval hulle dit sou nodig kry. En soms beland daar ‘n vraag in die toets of die eksamen waarop daar nie ‘n antwoord uit ‘n agtersak te haal is nie, want die vraagsteller het iets uit sy/haar duim gesuig eerder as om staat te maak op die lys relikwieë agter in die handboek.

Ek glo daaraan dat jong taalgebruikers maar mag en moet kennis neem van wat in die taal gebeur het voor hulle by ons aangesluit het – daar was per slot van rekening ‘n paar slim mense wat dié taal gebruik en gebesig het lank voordat die graad 4-klas van Laerskool Kawoerra-Kawap op hierdie ondermaanse opgedaag het. Hulle kan maar gerus Afrikaans se kosbaarhede aanleer en aanwend in hulle eie skryfwerk, want dit klink vir my die nuwe geslag het die oorgrote meerderheid van hulle intensiewe vorme in ‘n kleinhuisie uitgedink: Die meisies is almal k*klelik, die juffrouens is k*kkwaai, die werk is k*kmoeilik, almal is k*kbang vir die eksamen, en die lewe is oor die algemeen sommer net k*ksleg. Ek weet nou nie van ander mense nie, maar om sulke verbeeldinglose skryfwerk te lees, is darem k*kvervelig.

Ek maak daarom vir my eie verwysing ‘n lys intensiewe vorme bymekaar sodat ek kan help as iemand vra. Dis indrukwekkend, hoor. Bladsye lank, uit verskeie bronne saamgestel – papier en digitaal – sommige ouer as my ouers, ander eergister nog bygewerk. Ek kry inskrywings (vir “wit” byvoorbeeld) waarvoor daar 24 verskillende intensiewe vorme bestaan. Die meeste daarvan het te doen met hoe skoon goed is (kraakwit, kalkwit, sonwit, skitterwit) of hoe bleek iemand is (lakenwit, melkwit, siekwit, papierwit, lykwit), wat my laat vermoed dis ons ooroumagrootjies wat hierdie goed geskep het. Net mense met ‘n passie vir blousel en vlugsout kan met soveel verskillende weergawes vir dieselfde begrip vorendag kom.

Maar daar is darem ‘n beduidende bydrae oor dronkenskap ook, wat beteken ons manlike voorsate was nou ook nie heeltemal op hulle bekke geval nie: “smoordronk”, “papdronk”, “duiseldronk”, “bibberdronk”, “katdronk”, “diepdronk”, “dikdronk”, “stomdronk”. (En ja, die immer gewilde “poepdronk” is ook op my lys. Ons praat al weer uit die kleinhuisie uit.)

Vir my is die lekkerste een in dié groepie “kanondronk”. Ek weet nie heeltemal mooi hoekom dit my so beïndruk nie, want hoe dronkenskap en kanonne by mekaar pas, weet ek nie presies nie. Miskien is dit hoe lawaaierig jy raak as die voggies jou vat, miskien voel jy op dié punt asof jy deur ‘n kanonkoeël getref is. Of miskien is dit die uitdrukking vir die gesofistikeerdes onder ons wat net getwalla raak op landgoedwyn uit die Simonsbergdistrik. Hoe dit ook al sy, dis ‘n lekker woord, en ek gaan vir hom iewers aanwend waar hy mooi pas en lekker skop aan my teks kan gee. Want skop gaan hy skop en gebruik kan ‘n mens hom gebruik. Die plesier en die pyn wat die sap ons besorg, is immers sedert Noag se dae al algemene kennis.

In die soektog na intensiewe vorme krap ek in ‘n spul ou taalhandboeke rond wat onlangs op my boekrak beland het nadat my pa sy boekery verklein het. En ek kom af op ‘n geskrif deur prof dr TH le Roux (een van die samestellers van die heel eerste AWS), getiteld Afrikaanse Taalstudies. Dit het reeds in 1937 verskyn, en hy skryf daarin oor dieselfde goed as waaroor mense vandag redekawel: die ge- saam met werkwoorde wat op -eer eindig, ei en y, en die gewraakte anglisismes. (Het jy geweet die outydse en deftige “Waarde Heer” waarmee die oumense briewe begin het, is eintlik anglisisties? Dit is ‘n direkte vertaling van “Dear Sir”, seg prof dr Le Roux, en “Meneer”, net so op sy eie, is beter. (Vroue het klaarblyklik nie in 1937 briewe ontvang nie.) Maar dit net so terloops.)

Agter in die boek is daar ‘n klompie tekste opgeneem wat as voorbeeldmateriaal dien, en ek verkneukel my aan dié gediggie van AG Visser (dit is glo in 1927 deur JL van Schaik gepubliseer, dus ‘n ronde 90 jaar gelede):

NAT EN SAP

Toe Noag strand teen Ararat,
Die Ark begin in puin raak,
Toe sê hy: “Aarde, maar dis nat!
Nou kan ‘n mens weer tuin maak.

Het ek nie met die Ark geswoeg,
Was ons ook in die pekel.
Aan water het ek nou genoeg …
‘n Lewenslange hekel.

Kom, Sem en Gammie, maak nou gou
Vir Pa mooi reguit slootjies;
En Jaaf, my kind, kom plant jy nou
Vir Pa die wingerdlootjies.”

Die kromhout groei, en Noag skink
Sy sap ‘n bietjie later:
Daarin is sedert meer verdrink
As in die vloed se water.

Ek vermoed meneer Noag het dalk daar teen die voetheuwels van Ararat ook die kanon se skop gevoel.

Groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Danna ·

Ek is bevrees die “kanondronk” kan dalk n duister kant he waar die voggies n man kan knee toe dwing en jy bulder soos n waferse fort kanon. “Kat skiet in plaas van skip skiet”. Maar die kat kom weer is die gesegde. Volgende vrydag aand seker as ek party jonges so kyk.

Kobus ·

Intensiewe vorme, beknopte vergelykings en idiome is dié dinge wat my die meeste van Afrikaans fasineer. Elkeen het ‘n storie oor waar dit vandaan kom. Só leer jy meer oor hoe die lewe vir ons voorgeslagte moes gelyk het. Ek glimlag elke keer as ek sien hoe dinge verander het, maar ook oor hoe sommige dinge dieselfde gebly het.

Hoe ookal, hierdie taalverskynsels moenie onder die maatemmer versteek word nie. Kinders moet reg geleer word, want die vervelige Amerikanismes is nie naastenby so beskrywend of ryk soos ons eie taalerfenis nie.

Carin ·

Wil jy nie maar daardie indrukwekkende lys met ons deel nie asb? En ook die versamelname- dis vir weer vir my ‘n ewige bron van vreugde. Veral die “parlement van bobbejane”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.