Tel jou woorde: ʼn Ode aan die moeder

Argieffoto (Foto: froot, Pixabay)

Sondag is dit Moedersdag. ʼn Dag vir moeders. ʼn Dag van erkenning en dank en viering, waarop ons eer betuig aan die vrou wat ons nie vermoor het nie, al het sy (meer as een keer) rede gehad om dit te doen.

Die viering van Moedersdag is, natuurlik, ʼn Amerikaanse tradisie. In 1908 het ene Anna Jarvis ʼn dankdiens vir haar eie moeder in die St. Andrew’s Metodistekerk in Grafton, Wes-Virginië, gereël. Die moeder, Ann Reeves Jarvis, was ʼn vredesaktivis en ʼn gesondheidsorgwerker wat gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog gewonde soldate van albei kante van die stryd verpleeg het. Die Amerikaanse Kongres het die idee van ʼn dag vir ʼn ma aanvanklik afgelag (en gespot dat hulle dit nie wil doen nie, want netnou moet hulle ʼn skoonmoedersdag instel), maar in 1914 het Woodrow Wilson ʼn proklamasie onderteken waarin die tweede Sondag in Mei opsygesit is as amptelike vakansiedag ter verering van die moeder.

Dit is interessant dat beide Anna Jarvis en Woodrow Wilson gespesifiseer het dat die enkelvoud (“Mother’s”, en nie “Mothers’” nie) gebruik moet word, want die dag moes gaan oor die verering van elke gesin se eie moeder, nie moeders of moederskap in die algemeen nie. Anna Jarvis het ook in haar leeftyd reeds bekommerd geraak oor die kommersialisering van die dag, en het gedreig om die viering te boikot omdat groot maatskappye soos Hallmark dit as ʼn geleentheid beskou het om wins uit die sentiment te maak.

Natuurlik was dit nie ʼn gety wat sy kon omkeer nie. Moedersdag word vandag wêreldwyd gevier, weliswaar nie oral op dieselfde dag nie, maar wel met dieselfde sentiment.

Want ons het almal ma’s, en ongeag ons taal, kultuur, geloof of lewens- en wêreldbeskouing, is ons ma’s waarskynlik die persoon wat die grootste invloed op ons uitgeoefen het.

Ons sien dit ook in die manier waarop die woord “moeder” in die taal neerslag vind. Die moeder is die bron, die oorsprong, die broeiplek, die ontluikplek. Die HAT6 dui aan dat “moeder-” as eerste komponent van ʼn samestelling beteken “dit waaruit ander ontstaan het”. Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans sê dit is die “[b]ron, oorsprong, die grootste, beste, ensovoorts van ʼn bepaalde verskynsel”.

Die bron en basis van ons lewe is per slot van rekening “Moeder Aarde” (AWS). Die taal wat ons die beste praat, is ons “moedertaal” (want ons het dit by haar geleer) (WAT), die “moederbodem” is die “voedende, vormgewende bron” van al ons opvattinge (WAT), die “moederatoom” is die stamatoom (Fisikawoordeboek). So kan ʼn mens maar opnoem: moederbok, moederplantasie, moedergemeente, moederkolonie, moederkopie, moedermagma, moedermaatskappy, moedermetaal, moederplaneet, moederreg, moedersel, moederskip, moedertuig, moederbord, moedersaad, moederplant, moederkerk. In elke dissipline is daar ʼn oorsprong, begin, voedingsbron, en telkens is dit in die moeder te vinde.

Selfs in krygskunde het die moeder haar onwaarskynlike opwagting gemaak, en dit nogal uit ʼn heel onverwagte oord. Die uitdrukking “die moeder van alle…” is volgens Etymonline terug te voer na Golfoorlogsleng; Saddam Hussain het blykbaar na ʼn komende veldslag verwys as “the mother of all battles”. Volgens dieselfde bron is dit oorspronklik ʼn Arabiese uitdrukking, wat op sy beurt ontstaan het uit “the Mother of all Believers” – ʼn verwysing na Ayesha, die tweede vrou van die profeet Mohammed.

Wanneer jy Sondag hierdie oerste, eerste, diepste, gekompliseerdste van verhoudings vier, onthou dat niemand ʼn ma vrygespring het nie. Groot digters soos Yeats, Whitman, Hardy, Dickenson en Kipling het hierdie unieke verbintenis in woorde probeer vasvang, films het dit probeer uitbeeld, skrywers het dit in romans probeer verwoord. Niemand kon nog na behore nie. Want dit is wat dit is: die bron, die begin, die bodem waaruit ons groei. En woorde kan dit nie vashou nie.

Loop sê vir haar jy’s dankbaar.
VivA-groete
Sophia

*Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans. Besoek gerus die VivA-webblad of laai die gebruikersvriendelike slimfoontoepassing af (kyk in die iStore en op Google Play vir VivA-aanlyn)

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ina ·

aan alle mammas orals in die grootte heelal. dankie vir die plak van die pleister op die eina, dankie vir die airtime na die miss call, dankie vir die broodjie na die laatnag fliek, dankie vir die liefde as die hart van jou kind seer is, dankie vir die trane wat jy binne huil, dankie vir die glimlag op die ma lippe vir jou sonstraal kind se drukkie. dankie ma

lorayne ·

MY ode sal vandag gaan vir al die ‘weggooi’ Mammas! Vroue wat GEEN erkenning van hulle kinders kry nie . . . Deel jou Moerdersdag met die Here in dankbaarheid, al misken jou kinders jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.