Tel jou woorde – ʼn Trap vir ʼn sprokie

Argieffoto (Foto: WenPhotos, Pixabay)

Ek sit hierdie week in ʼn terminologiewerkwinkel wat ons saam met die Departement Kuns en Kultuur onderneem, waar ons deur ʼn lys konstruksie- en ingenieursterme werk om Afrikaanse ekwivalente te kry en/of te maak, indien nodig. Dis rugbreekwerk – en ʼn liefdesdiens. Niemand het nog ooit uit vakterminologie maak ryk geword nie, en die enigste betaling wat ons vir die dae se geredekawel en gedink kry, is ʼn bord kos en ʼn kopseer.

Nietemin weet ek Afrikaans en sy mense is in ʼn sekere sin gelukkig: Ons het reeds vakwoordeboeke tot ons beskikking, en baie van die terme is reeds vertaal. Dié wat vertalings nodig het, is betreklik maklik om met samestellings van reeds beskikbare woorde te vorm. Ons werk is meestal om te standaardiseer en om klein leemtes te vul. Die terminoloë vir die ander Suid-Afrikaanse tale, vertel die DKK-verteenwoordiger, werk dubbel so lank en twee keer so hard om die lys vir hulle tale op te stel.

Tog is dit selfs vir my (ek kan ʼn prop aan ʼn elektriese koord sit; dis die omvang van my tegniese vaardighede) opmerklik hoe bekend die Engelse terme is en hoe vreemd die Afrikaanses op die oor val. Weet jy, sonder om na te slaan of om te hard te dink, wat die Afrikaans is vir ʼn pulley, veneer of ʼn alcove? Die vertalings is al dekades tot Afrikaanssprekendes se beskikking, maar ek weet nie hoeveel van ons praat van die katrol waarmee die motorwerktuigkundige die enjin ophys, of die meubels se fineer wat in die trek beskadig is, of van die twee geliefdes wat mekaar in die alkoof ontmoet het om in mekaar se oë te staar nie. Dis jammer, gewoon omdat ek ná ʼn uitmergelende week weet hoe hard ʼn mens moet werk om 300 terme te vertaal. Ek haal my hoed hoog af vir die ou leksikograwe wat vakwoordeboeke opgestel het en duisende terme so moes vertaal. Ek sou graag wou sien dat almal wat so begaan is oor Afrikaans se toekoms ten minste die moeite doen om van nou af vakterme na te slaan en te gebruik. (Die woordeboeke is deel van PharosAanlyn se aanbod; die DKK se lyste is gratis in VivA se Woordeboekportaal beskikbaar.)

Dis natuurlik ook opmerklik hoe vinnig die nuwe terminologie in Engels geskep word. Dis seker te verwagte – die Britse ryk mag dalk nie meer bestaan nie, maar sy invloed is steeds merkbaar in die reikwydte van die taal: Of die ontwerpe nou uit Europa, Amerika, Australië, die Ooste of Afrika kom, die taal waarin dit aan die wêreld bekendgestel word, is Engels. Die res is alewig aan die inhaal.

So gaan dit tot laatmiddag van die laaste vergaderdag: Ons is by die einde van die s’e, en die inskrywing wat ons moet nagaan, is spiral stairway. A, dink ek, dis mos nou maklik: wenteltrap. Ek het genoeg liefdesverhale in my lewe gelees en genoeg vryflieks gekyk dat ek weet hoe lyk ʼn heldin wat in volle bruidsgewaad by so ʼn trap afgestap kom. Dis die beeld waarvan sprokies gemaak is: Aspoester, die Slapende Skoonheid, Skoonlief, Raponsie … Elke gelukkige vrou van my kinder- en volwasse jare het op ʼn kritieke oomblik in die verhaal aan die bopunt van so ʼn trap gestaan, terwyl haar held haar met ʼn lig in sy oë en uitgestrekte arms onder staan en inwag sodat hulle saam op sy perd die ewigheid kan binnery.

Aha! trap my kollega, doktor Frikkie Lombard van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, my sprokie plat. ʼn Wenteltrap en ʼn spiraaltrap, sê hy, is twee verskillende goed. Ek snak na my asem, Aspoester steier in haar spore tot stilstand, die Slapende Skoonheid hol terug kamer toe en trek die beddegoed oor haar kop, en Raponsie haal haar kam uit. Is dit die einde van die feëverhaal soos ons dit ken?

Hy sien toe seker hier is ʼn emosionele ineenstorting aan die kom, want hy verduidelik vinnig: ʼn Wenteltrap is ʼn trap wat om ʼn sentrale pilaar draai. Dis so ʼn nou, regop gedoente met wigvormige trappe wat aan die pilaar in die middel vas is en ʼn reling aan die buitekant van die trap het. So ʼn konstruksie word gewoonlik in ʼn eng ruimte gebruik, en enigeen wat al ooit bagasie by so ʼn trap probeer opdra het, sal weet presies hoe eng so ʼn ruimte kan word. Brandtrappe is dikwels wenteltrappe. Die mooi houttrap in Henry Higgins se studeerkamer (kyk weer ʼn slag na My Fair Lady as jy vergeet het hoe dit lyk) is ʼn wenteltrap.

Daarteenoor is ʼn spiraaltrap ʼn groot, grasieuse ding. Dit draai ook, maar die middelpunt is oop, en in plaas daarvan dat die trappe aan ʼn middelpunt vas is, is hulle aan die buitenste rand van die konstruksie geheg, met die reling in die middel. Dis die trappe waarvan sprokies en kunsfoto’s gemaak is: Jy sal op die internet heelwat foto’s kry wat van bo af van sulke trapskagte geneem is waar ʼn mens die illusie van ‘n skulp kry. Dis dan ook ʼn eienskap van ʼn spiraaltrap: Die trappe is geneig om soos ʼn spiraal nouer of wyer te loop.

Die heldinne van my kinderdae kom dus by spiraaltrappe afgestap, met hulle syonderrokke al sissend en hulle behandskoende vingers wat liggies op die koel marmer van die binneste trapreling rus. Afrikaans het ons nie in die steek gelaat nie, ons kan ook in Afrikaans grasieus in ons wagtende helde se arms instap. Ons moet net die regte trap kies om dit mee te doen.

VivA-groete
Sophia

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alta ·

Oulike artikel! Baie dankie vir al julle harde werk om ons mooie taal verder uit te brei. Afrikaans is beslis nie aan die uitsterf nie.

Riëtte Heslinga ·

“Toetentaal” is ‘n groot leesplesier op ‘n Vrydagmiddag. Ek het hierdie jaar begin met ‘n liefdeswerk; redaktrise vir ons kerk se jaarblad. Baie lief vir Afrikaans maar nie besef hoe tegnies dit kan raak nie. Gelukkig verlede jaar die nuwe AWS aangeskaf.

Koos le Roux ·

Ek voel dis belangrik om na die Nederlands ook te kyk en die tale so na as moontlik aan mekaar te hou, Dis vir ons Afrikaanssprekendes ‘n groot voordeel as ons ook die Nederlandse/Vlaamse tale kan lees en verstaan. Met al die tegnologiese ontwikkelinge is daar opnuut ‘n geleentheid om die tale nader aan mekaar te trek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.