Tel jou woorde: Om ʼn storie te maak

Argieffoto (Foto: comfreak, Pixabay)

Deur Sophia Kapp

As ʼn skrywer kry ʼn mens baie keer die vraag: Waar kry jy jou stories vandaan?

Dis ʼn maklike en ʼn moeilike vraag om te beantwoord: Stories is oral om jou. Jy hoef nie in verafgeleë plekke of eksotiese bestemmings te gaan soek na stories nie, hulle sit in die gewoonste van insidente en in die voorspelbaarste van geleenthede: die paniek van ʼn ma as haar kleuter in ʼn supermark verdwaal; ʼn tiener wat by die huis kom, flenters en verpletter oor ʼn kêrel wat haar gelos het; ʼn man wat moeg en knorrig is oor finansies wat nie wil klop nie, maar wat weer moed kry wanneer sy geliefde hom troos en sê alles sal regkom; ʼn vrou wat moet ma, huishoudster, verpleegster, versorger en berader wees en op ʼn Saterdagoggend ʼn blom voor haar bed kry. Ja, ʼn storie kan in Somalië of Indië of Oezbekistan afspeel en jou wegtrek na ʼn wêreld waarvan jy nooit geweet het nie. Maar dit hoef nie. Dit kan in jou eie kombuis op ʼn gewone weeksoggend afspeel, jy moet hom net raaksien.

Dis die maklike deel van die antwoord. Die moeilike deel is dat dié klaargemaakte stories op ʼn manier vertel moet word dat dit vir ʼn leser iets beteken. ʼn Goeie skrywer is die een wat die generiese elemente aan die waarneming kan onttrek en dit aan lesers in die vorm van ʼn storie kan aanbied waarin hulle raakpunte vind. Om in woorde te gaan sit wat elkeen van ons in ʼn bepaalde situasie ervaar en word en voel. Dis nie net moeilik nie, dis werk.

Die ding wat die werk hoegenaamd uitvoerbaar maak, is ʼn skrywer se beheersing van die taal. Want sonder woorde verwoord ʼn mens moeilik. Sonder die reikwydte van ʼn ontwikkelde woordeskat, sonder ʼn grondige begrip van beelding, van idiome, van beskrywing en omskrywing, vervlak jou vertel tot ʼn eendimensionele voorstelling van ʼn ding wat diepte moes gehad het. Ja, jy kan gestroop skryf, jy kan selfs eenvoudig skryf. Maar jy mag nooit, nooit, nooit gewoon skryf nie.

Juis daarom verstom dit my dat voornemende skrywers, veral die jongetjies, ʼn ding skryf wat klink asof dit iets is wat hulle op ʼn selfoon getik het en dan, ewe verontwaardig, vir my sê: “Ja, maar almal praat so.” Almal praat (mos) van ʼn “laptop” en van “gross” en “cool” en “awesome”. Niemand praat van ʼn “skootrekenaar” en “afgryslik” en “asembenemend” en “weids” nie, en dan skryf hulle soos hulle klink en dan klink hulle soos almal.

Die kuns van skryf lê nie (net) in jou vermoë om ʼn storie te genereer nie. Dit lê beslis nie in jou kennis van literêre teorie nie en dit lê allermins in jou skryfsels se skokwaarde. Om ʼn rits taboewoorde in ʼn sin in te ryg, of om vyftig skakerings van seks in boekvorm saam te flans, dié kan enigeen. Dis nie ʼn kuns nie, en nie eers die feit dat miljoene mense lus (ek wou ʼn ander woord hier gebruik het, maar my ouma het gesê dis onbetaamlik) genoeg was om R300 vir papierseks te betaal, maak dit goeie skryfwerk nie.

Die skrywers van hierdie wêreld wat ons verbeelding aangryp, is die skrywers wat ons meevoer. Wat vir ons wêrelde oopbreek wat ons nog nooit raakgesien het nie, al is daardie wêreld dan nou in ons eie agterplaas. Ware woordkunstenaars is dié wat ons meesleur, soos ʼn kano in ʼn stroomversnelling, en ons oor die lip van die waterval skiet sodat ons vreesloos en gewillig die onbekende inval. En of hulle nou 400 jaar gelede geskryf het, soos William Shakespeare, en of hulle eergister hulle debuut by die drukkers gaan afhaal het, ons is ewe bereidwillig om die werklikheid prys te gee en saam met hulle die onbekende aan te durf. Vir die uur of twee of tien wat ons met hulle boeke in ons hande sit, is ons heerlik, onbeskroomd en onbeskaamd in hulle mag. En ons vrek oor elke gevleuelde oomblik.

Broei daar ʼn storie in jou? Werk jy met koppe wat die volgende generasie se skrywers moet word? Dan mag jy nie toelaat dat “ja, maar almal skryf so” ooit deel word van jou denkwyse nie. Jy mag nooit tevrede wees met wat jy weet van die taal nie. Jy mag nie ophou leer, ophou lees, ophou naslaan, ophou groei nie. Jy mag nie agteroor sit en glo jy het alles tot jou beskikking om jou storie ten beste te vertel nie. Want jy is ʼn kunstenaar en al wat jy het waarmee jy jou kan onderskei, is jou woorde. Al instrument wat jy het, is die taal. Al raakpunt wat jy met jou leser het, is die vlyt waarmee jy skryf sodat hulle kan wegraak in die belewenis en nie verstrengel raak in taalslordighede nie. Jy mag, om dit so reguit te stel, nooit, ooit weer dink middelmatig is goed genoeg nie.

*Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans. Besoek gerus die VivA-webblad of laai die gebruikersvriendelike slimfoontoepassing af (kyk in die iStore en op Google Play vir VivA-aanlyn)

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

charmaine ·

Perfekte artikel van een van my gunsteling “DIVA” skrywers. Stem saam in ons wat verslaaf is aan lees glo ek ons kan n storie of n boek skryf, alhoewel ek het n storie (ware verhaal) maar moet nog daarby uitkom en ek het al die nodige artikels van hoe en hoeveel woorde maar ek moet gaan sit en die storie bymekaar maak. Gaan beslis die bladsy print. Baie dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.