Tel jou woorde: Oos, Wes, Bluff bes

Argieffoto (Foto: stokpic, Pixabay)

So ‘n rukkie gelede gewaar ek op ‘n taalforum ‘n vieserige vraag: Hoekom is dit alewig vir Afrikaanse taalvoorskrywers nodig om die name van stede of geboue in die buiteland te vertaal? Dis so ‘n simpel ding om te doen, kla die klaer – almal weet mos waar London is; die enigste mense wat omgee dat dit eintlik “Londen” in Afrikaans is, is eksaminatore wat jou met slap rieme wil vang of subredakteurs wat wil lyk asof hulle hulle salarisse verdien.

Op die oog af gee dit ook dikwels ‘n onsinnigheid af, sulke vertalings. Die naam van die basilika in Rome wat na die apostel vernoem is, is byvoorbeeld in Engels “St. Peter’s Basilica”, maar in Afrikaans “Sint Pieter se Basilika” (en die plein voor hom die Sint Pietersplein”). Dit is beslis ‘n eienaardige verskynsel – dat ons die apostel se naam op een manier verafrikaans en die kerk se naam op ‘n ander. ‘n Nog vreemder vertaling is die “Kantelberg” waarmee ons na “Canterbury” verwys. (Dis nou natuurlik die een in Engeland, die setel van die Anglikaanse aartsbiskop, die Canterbury in Nieu-Seeland bodder ons nie om te vertaal nie, daar speel hulle tog net rugby.) En daar is dit weer, hierdie onvoorspelbaarheid: Ons vertaal “Nieu-Seeland”, maar nie “New York” nie, al praat hulle Engels in albei dié plekke en al praat ons van albei in Afrikaans. Ons vertaal “Londen”, “Parys”, “Rome”, “Berlyn”, “Lissabon” en “Tokio”, maar ons peuter nie met “Hong Kong”, “Reykjavik” of “München” nie, al moet ‘n mens elke keer gaan naslaan of jy “Reykjavik” reg gespel het en al is dit ‘n gesukkel om die deelteken op die u te kry. Eenvormig en voorspelbaar is dié vertaalproses beslis nie.

Maar daar is darem ook ‘n troos aan dié storie, al is hy oënskynlik skraal: Die lastige en puntenerige vertalers wat so aandring op die vertaling van vreemde plekname het ook die ondeursigtiges klaar vir jou vertaal. Weet jy byvoorbeeld waar مكة of Ϲанкт-Петербруг is? (En tik ‘n bietjie daardie twee name in ‘n dokument en kla dan weer oor die deelteken op die u!) Nee? Kom ek help: Die eerste is die Arabies vir “Mekka” en die tweede die oorspronklike spelling van “Sint Petersburg”. (Hoor ek jou mompel dat dit dan seker ook eintlik “Sint Pietersburg” moes gewees het? Nee, hoor. Hierdie stad is na die Rus vernoem, nie die apostel nie. En die apostel was bloot opvlieënd, die Rus was moorddadig – ons kan dit nie waag om sy naam verkeerd te vertaal nie!)

En miskien is dit dan ook die beste rede wat ek kan aanvoer waarom ons sommige plekname vertaal: Weet jy nog wat die oorspronklike naam van die plek is, of beskou jy die Engelse naam as die oorspronklike net omdat jy dit eerste leer ken het? Mense kla omdat hulle nie ”Munich” mag skryf nie, maar vergeet dat dit reeds ‘n vertaling is – Engels uit Duits. Hulle wil nie “Sint Pietersplein” skryf nie, maar vergeet dat die ruimte se eintlike naam “Piazza San Pietro” is en dat die apostel se naam nie Peter, Pieter, Petrus of Pietro was nie, maar iets in Aramees wat ek nie hier gaan aanpak nie.

Juis omdat die wêreld al hoe kleiner word en die planeet al hoe toegankliker, het die Taalkommissie in die AWS lyste ingesluit wat die hantering van plekname in Afrikaans te vergemaklik. Agter in die boek is daar ‘n lys buitelandse geografiese name met hulle afleidings (Sint Petersburg -> Sint Petersburgse -> Sint Petersburger), ‘n lys landname met hulle vertalings in Engels en ‘n lys plekname in die Ooste, wat dit vir jou moontlik maak om na dorpe en stede in China te verwys sonder om jou kop te breek. Vir diegene wat nie weet nie: Die Chinese regering het self plekname in China vertaal, juis omdat hulle besef het die uitspraak en onbekende skrifbeeld gaan probleme veroorsaak. Alle Chinese plekname word in alle tale wêreldwyd dieselfde gespel – wat ons vieserige vriend op die forum heelwat vriendeliker behoort te maak.

Laat ek afsluit met ‘n ou familiegrappie wat my pa altyd tot ons groot verleentheid vertel het as iemand wou weet waar ons vandaan kom. Ons het gewoon in die blouboordjievoorstad in Durban wat bekend staan as die Bluff. As jy suiwer Afrikaans wou pleeg, was dit die Bult. Maar jy kon so stoer wees as wat jy wil, as iemand vir jou gevra het wat jy is, was jy dadelik ‘n oorloper, want dit was darem wraggies baie makliker om te sê jy is ‘n Bluffiet as ‘n Bultiet.

VivA-groete
Sophia

Lees alle vorige Tel jou woorde-rubrieke op Maroela Media. 

*Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans. Besoek gerus dieVivA-webblad of laai die gebruikersvriendelike slimfoontoepassing af (kyk in die iStore en opGoogle Play vir VivA-aanlyn)

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jacques ·

Sê die nuwe AWS nou China en nie meer Sjina en Sjinese nie? Hoe spreek mens China uit?

Sophia Kapp ·

Die uitspraak bly soos altyd [sjina]. Ons het gewoon op grond van (baie lae) gebruiksfrekwensie die Sj-vorm geskrap.

Piet Snot ·

Dis waar, Sophia: dié wat so kla oor vertaling in Afrikaans, verkies die Engelse weergawe wat ook maar ‘n vertaling uit die oorspronklike taal is.
Maak nie sin nie.

JC ·

Baie oulike artikel!!
Ek wil ook die nuwe AWS aanskaf, dit is maar net ‘n bietjie duur, maar ek sal definitief ‘n plan maak!
Afrikaans is Groot.
Istanboel wil ek graag besoek, asook Keulen, Luik en Londen. Sjina is interessant, maar Wladiwostok en Tjernobil wil ek nie sien nie!!

Sophia Kapp ·

Hou ‘n bietjie VivA se blad op Facebook dop. Die uitgewer, Pharos, stel die AWS digitaal beskikbaar. Dis dan ‘n intekenbron wat jou heelwat minder uit die sak jaag en waarin jy digitaal kan soek (maar waarop jy dan jaarliks moet inteken). Instussen kan jy natuurlik op VivA gratis toegang tot die Woordelys-gedeelte van die AWS kry.

Basson ·

Baie dankie, ek hou hiervan! :) Sal graag weer wil lees oor die.

En dan nog die hoogdrawendes wat in Afr iets se soos bv verwysend na Parys (Frankryk) as ‘ons was in ParIE (foneties met so oktaaf hoer klank op die einde ) gewees’, ens ens.

JC ·

Hoogdrawendes is uit die mode uit Basson hehe(soos bewys deur Trump, die “gewone” man op straat is weer “in”, en konserwatisme is die nuwe “punk rock”!
Ek sit in elk geval nie my voet in Parys(wel die Vrystaatse een hehe!) nie, al kan ek ook. Eerder Praag(Tsjeggiese Republiek), Boedapest(Hongarye) of Warskou(Pole) vir my!

Stephan ·

Ja, more word my en jou name met ‘n “f” (of selfs met ‘n “v”!!!) gespel!
Wat vir my erger is, is die uitspraak van name! Genade! En dan is dit “nuuslesers” oor Afrikaanse radiostasies! Ek skaam my só vir hulle…ag, maar dan voeg mens maar net díé “dommes” se name by Vasco da Gama, Bartolomeus Diaz, Columbus en vele ander…nee dit bly ‘n skande/skade.
En verder…is dit nou “Johburg” of Johannesburg? Is dit regtig Bloemfinteen?
Spreek die name korrek uit!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.