Tel jou woorde: Taalbybel is 100 jaar jonk

Die splinternuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls is pas op die rakke. Dié boek verskyn hierdie jaar, 100 jaar ná die eerste kopie daarvan die lig gesien het. Dit is ‘n merkwaardige mylpaal, wat sekerlik so ‘n bietjie beuelblasery regverdig.

Voor in die nuutste uitgawe is daar ‘n bondige geskiedenis wat van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se werk vertel om ‘n boek vir gewone taalgebruikers beskikbaar te stel wat sou dien as ‘n verwysingsbron vir die spelling en skryfwyse van Afrikaans.

Vir ons wat grootgeword het met Afrikaans as voertaal in skole en op universiteite, met Afrikaanse koerante, boeke, films, teaterstukke, liedjies, advertensies en dokumente, is dit moeilik om te begryp hoe hard die taalvaders daaraan moes werk om die taal wat ons vandag amper as vanselfsprekend aanvaar, gevestig te kry.

Daar was byvoorbeeld aan die begin van die vorige eeu ‘n kamp wat nog baie sterk geglo het dat Nederlands ons voertaal moet bly en wat die Nederlandse taal en letterkunde in Suid-Afrika, ten koste van Afrikaans, wou bevorder. Dit was eers toe CJ Langenhoven rondom 1914 sy veldtog van stapel gestuur het om Afrikaans as voertaal in laerskole te laat invoer dat die Akademie genoeg steun gehad het om met ‘n gestandaardiseerde lys taalreëls en ‘n Afrikaanse woordelys vorendag te kom. Die eerste Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls is in 1917 gepubliseer.

Dié boekie het 48 reëls bevat, daar was ongeveer 7 500 woorde in die woordelys en die boekie het ongeveer 200 bladsye beslaan. Die samestellers was individue wat deur die Akademie benoem is en wat beskou is as taalkenners – skrywers, joernaliste, dosente … mense wat hulle brood en botter in en met Afrikaans verdien het. Die Akademie het hulle formeel benoem, en sedert daardie dae staan dié groepie benoemdes as die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en kuns bekend. Dit is die taak van die Kommissie om die AWS bygewerk te hou.

Daar is groot name op die lys Kommissielede: Einste CJ Langenhoven, SJ du Toit, DF Malherbe, Gustav Preller, Jan FE Cilliers, LW Hiemstra, Willem Kempen, Meyer de Villiers, Johan Combrink, Louis Eksteen, Hans du Plessis, Ernst Kotzé, Tom McLachlan … Mense wat diep spore in die Afrikaanse taal- en letterkunde en die skryfwêreld getrap het, en steeds trap. Die huidige AWS is die omvattende bron wat hy vandag is omdat taalreuse in die verlede bereid was om hulle tyd en kundigheid tot die beskikking van die Akademie en die taalgemeenskap te stel en die taal van hulle hart te dien. (Kyk hier vir meer inligting oor die Taalkommissie.)

Afrikaans en die AWS het ‘n ver pad gestap sedert 1917. Die huidige AWS beslaan amper 750 bladsye, bevat 457 reëls en het meer as 34 000 inskrywings in die woordelys. In die jongste uitgawe is daar, benewens die bestaande hoofstukke en lyste in die 2009-uitgawe) ‘n hoofstuk by wat leestekengebruik in Afrikaans bereël (jy hoef nooit weer te wonder of jy ‘n komma voor “en” mag gebruik nie – jy mag!) en ‘n hoofstuk oor trappe van vergelyking. Daar is ook nou ‘n lys landname met hulle vertalings, hulle geldeenhede en ISO-kodes, daar is ‘n lys plekname in die Ooste (met fonetiese transkripsies wat uitspraak aandui), elemente van die periodieke tabel (met vertalings) en gebruiksriglyne vir die SI-stelsel (met vertalings).

Die boek is moontlik vir “gewone” taalgebruikers effe skrikwekkend – 457 reëls leer ‘n mens immers nie oornag nie. Maar die Taalkommissie en die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is bereid en gewillig om taalgebruikers wat meer inligting wil hê oor die AWS en die reëls daarin, by te staan. VivA bied gratis werkwinkels op versoek aan, en die Taalkommissie kan die vernaamste veranderinge aan reëls onder die aandag van taalpraktisyns en ander taalgebruikers bring indien hulle so ‘n versoek sou ontvang. Enigiemand is ook welkom om vrae aan die Taalkommissie op hulle Facebook-blad te rig.

Die doel van die boek is steeds om vir taalgebruikers ‘n riglyn te verskaf oor die gebruik van geskrewe Afrikaans. Die idee is steeds dat mense wat die taal in openbare kontekste gebruik, dié bron as verwysing sal aanwend. Die oogmerk is steeds, soos wat dit in die oorspronklike AWS van 1917 gestel is, en soos wat dit op die agterblad van die huidige uitgawe aangehaal word: “Vanself dus wil ons sôre dat ons taal in ieder opsig tot sij reg kom.”

Die boek word uitgegee deur Pharos, en is van Augustus af ook in elektroniese formaat beskikbaar.

Afrikaanse Woordelys en Spelreëls
Uitgewer: Pharos
Prys: R450-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die AWS nou by Graffiti Boeke teen R360-00

Lees alle vorige Tel jou woorde-rubrieke op Maroela Media. 

*Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans. Besoek gerus dieVivA-webblad of laai die gebruikersvriendelike slimfoontoepassing af (kyk in die iStore en opGoogle Play vir VivA-aanlyn)

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Eish ·

Beste Maroela Media,
Mnr. Teorien skryf baie insiggewende berigte en ek het gister n nuwe woord geleer, ” Vyfdekolonner”
Na n gegoogle, n gewoordeboek en n geraai, het Adam tot my redding gekom en laat weet die beteken wanneer n groep mense, n groter groep van binne af ondermyn. Vergewe tog indien ek bietjie laat by kom, maar kan jul asb so bietjie agergrond gee waar die uitdrukking vandaar kom?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.