Tel jou woorde – Trap versigtig as jy nie kan sien nie

Argieffoto (Foto: kaboompics, Pixabay)

Die internet is ‘n fantastiese plek, in die ware sin van die woord. Dis ‘n ruimte waarin niks werklik is nie en alles vir die waarheid aangebied word. Dit is ‘n versameling kosbare inligting en terselfdertyd die moderne wêreld se grootste rommelhoop. Jy ontmoet groot geeste en denkers daar, en jy loop jou vas teen trolle. Jy kom daar weg verlig, verlos en vermaak, of jy gaan kruip in ‘n donker gat in waar jy vir dae nie met mense hoef te kommunikeer nie omdat jy weer eens besef hoe onguur die menslike natuur kan wees.

Sien? Fantasties.

Maar ek is nie net ‘n gewone internetbesoeker nie, ek is op die internet vir ‘n rede. ‘n Goeie een – ek doen my werk daar. En vir ‘n taalwerker-skrywer-onderwyser-praktisyn-leerder-gebruiker is die internet ‘n onontbeerlike hulpmiddel. Elke oggend as ek aanteken, voel ek soos Ali Baba wat “Open, Sesame” skree en ‘n hele skatkamer vol kosbaarhede gaan ontdek. Op die internet is ek deel van ‘n gemeenskap vertalers en taalkenners wat bereid is om hulle kennis en ervaring met mekaar te deel, ek kry via die internet navrae van taalgebruikers wat my intrigeer en na woordeboeke laat gryp om na te slaan wat ‘n vorige generasie daaroor te sê gehad het, ek doen korpusondersoeke en stel gebruiksfrekwensies vas, ek grawe in digitale argiewe, ek kyk in informele skryftekste wat “gewone” taalgebruikers maak, ek lees, ek leer, ek dolwe, ek groei. Lekker, lekker!

Maar daar woon ook in die taalgrot trolle wat my elke nou en dan ernstig ontstig. Dalk herken jy hulle ook:

  • Die oningeligte wysneus. Dié het baie eienskappe, maar die belangrikste is dat hy/sy verkeerd is. Die raad wat met groot gesag en oortuiging uitgedeel word, het dié kandidaat in 1964 in ‘n Afrikaansklas op Gatsonderend geleer en daarom is dit Die Waarheid. Dit help niks jy sê iets anders nie, hierdie perd is Reg en hy/sy het ‘n skare dissipels.
  • Die roerder. Hierdie een is die daaglikse wenner van die silwerteelepeltoekenning. Die vraag lyk onskuldig, maar jy weet sommer daar sit ‘n angel iewers, want as jy antwoord, word jy ewe geniepsig gesteek. Hy/sy soek nie ‘n antwoord nie, hy/sy soek skoor.
  • Die parmantige Samaritaan. Hierdie kandidaat help, baie toegewyd. Op elke vraag het dié ‘n antwoord. Maar dis die Samaritaan wat sy dokterstas by die huis gelos het en wat nou met spoeg en vyeblare probeer om hulpvaardig te lyk, want die raad is uit ‘n mondhoek gesuig en nêrens in ‘n bron opgeteken nie. As jy sê dis verkeerd, raak hulle snipperig.
  • Die kryger. Hierdie een is klaar kwaad, nog voor hy/sy die vraag gestel het. Iewers het ‘n kollega/juffrou/ouer/kind gesê dié persoon het ‘n fout begaan, en die aantyging het reg op die ego geslaan. Hulle wil nie taalraad hê nie, hulle soek ‘n ref in ‘n kryt.
  • Die plagieerder. Dié probleem is meer subtiel, en meer van ‘n kwelling. Daar bestaan by mense ‘n opvatting dat alle kennis oor taal gratis moet wees, omdat taal aan almal behoort. In ‘n perfekte wêreld sou dit seker die geval kon wees. Maar dit is nou ook ongelukkig so dat inligting oor taal, soos enige ander geverifieerde inligting, deur kundiges opgeteken word wat moet eet en aantrek en dakke oor hulle kinders se koppe moet hou. Hulle werk vir maatskappye wat aan hulle aandeelhouers moet kan toon dat die woordeboeke wat hulle uitgee, wins maak. As dit nie gebeur nie, word die woordeboek nie verder uitgegee nie. Welmenende helpers wat uit woordeboeke knip en plak (of foto’s van blaaie in woordeboeke neem en dit op Facebook plaas) toon min respek of begrip vir hierdie delikate oorlewingsdans. En ja, die leksikograaf kan seker maar ‘n bietjie afskaal en gaan strate vee, maar die taal is een woordeboek armer, en dit kan nie met straatvee reggemaak word nie. En net voor jy my gooi met “ja, maar …” sê my dit: Watter ander professionele, opgeleide persoon (prokureur, dokter, rekenmeester, ouditeur) gaan jou nie oor die vingers tik as jy hulle kennis op ‘n openbare forum uitdeel en brood uit hulle monde haal nie? Hoekom beskou jy taalkundiges se kennis en ervaring as minderwaardig? Hoekom, as Afrikaans jou trots is, bestee jy nie R175 per jaar aan ‘n digitale AWS of R700 ‘n jaar aan VivA+-lidmaatskap wat jou toegang gee tot HAT en WAT nie? (Hoeveel betaal jy vir DStv, waarop jy in elk geval net sien hoe jou span verloor?)

Ja, VivA bied vir jou gratis taalhulp. Ek verstaan dat nie almal geld het vir woordeboeke nie. In sommige huise is R175 per jaar vir ‘n AWS onhaalbaar en in sulke gevalle help ek sonder om te verkwalik of twee keer te dink – ek wil graag hê so ‘n persoon moet weer vra en ek gee die inligting. Ek knip en plak steeds nie, ek parafraseer, want ek beskou my steeds gebonde aan kopieregwetgewing, maar dis ‘n tweerigtinggesprek waar die vraagsteller die moeite gedoen het om ‘n WhatsApp of e-pos te stuur en dus reeds sy of haar bona fides bewys het. Dis nie iemand wat te lui of inhalig of onderduims is om hulpbronne aan te skaf nie. Dis nie ‘n vrybuiter nie.

Wees versigtig as jy taalhulp in jou fantastiese ruimte vra. Wees versigtig hoe jy daarmee omgaan. Onthou dat jy nie skuldig raak aan ‘n ding wanneer jy uitgevang word nie, jy word skuldig as jy die oortreding pleeg. En dis ‘n oortreding, want daar is ‘n slagoffer. En die slagoffer, in hierdie geval, is die taal waaroor jy kastig so begaan is.

Viva-groete
Sophia

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.