Tel jou woorde: Varsgebek

Een van die kortlyskeuses op Varsgebek.org

Onlangs besoek ek die Kaap en ʼn kollega in die onderwys vertel dat haar seun hierdie jaar met sy honneurs klaarmaak. Laaste kind se laaste jaar op universiteit. Sy en haar man het betaal, harde kontant, vir die twee seuns se opleiding, maar dis nou verby. Toe nommer twee sê hy wil verder leer, het sy vir hom gesê: “Dis reg so, maar dan gaan werk jy sodat jy self betaal. Ek het nou lank genoeg vir jou langs my skoene geloop.”

Ek hoor die uitdrukking en verwonder my aan die mooi daarvan. Ek weet waarvan sy praat (ek het self ʼn eerstejaar in die huis wat met harde kontant deur universiteit gesit moet word, en ek weet goed hoe smaak brood en swart koffie), maar ek het nog nooit gehoor dat dit so verwoord word nie en ek weet nie hoekom dié mooie taaldingetjie nie opgeteken is nie.

So hier en daar is daar ʼn organisasie of ʼn liggaam of ʼn individu wat al opgemerk het hoeveel nuwe idiome, spreekwoorde, vergelykings en gesegdes in Afrikaans ontspring, en wat dit probeer versamel. Daar is ʼn paar lyste op die internet, en daar is groepe op Facebook wat dit deel, maar dis selde dat dié uitdrukkings formeel opgeteken word. Dalk is een van die redes daarvoor dat sulke taalbousels dikwels streeks- of groepsgebonde is en dit dus nie algemeen bekend is nie. Dalk besef mense nie hoe kosbaar dié eiesoortighede in hulle taal is nie en stuur hulle dit nie aan vir woordeboekmakers nie. Dalk is dit omdat idiome uit die aard van hulle syn versiersels is en mettertyd hulle trefkrag (en gevolglik hulle nut) verloor. Mense hoor dit gewoon nie meer raak nie. (Sien jy werklik nog in jou geestesoog hoe dit lyk as iemand se bont varkies die wêreld vol hol, of knik jy maar net jou kop en dink die arme drommel is wel effe eienaardig.)

Dit sal jammer wees as hierdie skatte onerken verdwyn. Jy ken waarskynlik kosbaarhede soos hierdie wat uit alle uithoeke van die land kom, maar is jy seker dit is iewers opgeteken:

  • ʼn mank esel se agterpoot af praat (baie en aanhoudend praat)
  • slaan my met ʼn pap snoek (dieselfde as “nou toe nou”)
  • ankers uitgooi (vinnig stop)
  • op iemand se battery piepie (iemand se entoesiasme demp)
  • soos ʼn ou vrou met ʼn nat broek (al kermende)
  • hand om die blaas wees (dik vriende wees)
  • iemand in die oë sit (iemand in die verleentheid stel)
  • nie buskruit uitgedink nie (nie slim nie)
  • vooruitstrewend en agterbaks (gesê van ʼn vrou met groot borste en ʼn groot agterstewe)
  • die hoofseun/hoofmeisie van iets wees (die beste daarin wees, byvoorbeeld: “Sy is die hoofmeisie van skinder.”)
  • voor in die koor (eerste; voor op die wa)
  • soos iemand met ʼn broer in die tronk (weet daarvan, maar praat nie daaroor nie)

By VivA gee ons kompetisie, Varsgebek, alle sprekers van Afrikaans ʼn geleentheid om hierdie mooigoed, ougoed en hougoed in te skryf sodat dit in ons databasis opgeneem kan word. Op dié manier word dit deel van Woordeboekportaal, en is dit vir almal in die taalgemeenskap toeganklik.

Verlede jaar se kompetisie het ʼn paar baie oulike inskrywings opgelewer:

  • jy kan jou nie ryk koop nie (vertaling vir: “keeping up with the Joneses”)
  • nie ligte musiek nie (moeilik; ingewikkeld)
  • jou kuite styf trek (jou vererg)
  • ʼn satelliet sonder sein wees (hoor, maar nie verstaan nie)
  • klein klippies rondskop (jou besig hou met beuselagtighede)

Die weninskrywing (bepaal deur VivA-gebruikers) was “elke moer wil ʼn ertappel wees” (elkeen wil belangrik wees), en is ingeskryf deur André Oberholzer. Daarmee het hy ʼn gesonde R7500 losgeslaan – ʼn lekker gelukkie hier kort voor die Desembervakansie.

As jy so ʼn onopgetekende sêding ken, skryf dit gerus in by varsgebek.org. Daar is elke maand ʼn wenner en die sluitingsdatum is 30 November 2017. Ja, jy kan lekker pryse wen, maar jy kan jou ook daarin verlustig en daaroor verwonder dat die taal wat jy sommer so elke dag praat nou vir die nageslag opgeteken staan. So bou jy saam aan die erfenis wat ons kinders by ons moet oorneem.

VivA-groete
Sophia

*Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans. Besoek gerus die VivA-webblad of laai die gebruikersvriendelike slimfoontoepassing af (kyk in die iStore en op Google Play vir VivA-aanlyn)

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannah ·

Baie dankie Maroela vir hierdie heerlikheid. Sophia – jy is maar net ‘n voorslag in die Taaldepartement hoor!

My Skoonma het aan die Weskus grootgeword en het ook ‘n heerlike uitdrukking gehad wanneer iets haar werklikwaar verstom het, dan skud sy die kop en uiter: “Slaan my vierkant plat!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.