Tel jou woorde: Versamelname, vers 2

Argieffoto (Foto: Ildigo, Pixabay)

So ‘n rukkie gelede het ek ‘n blog geskryf oor die liewe versamelname. My oogmerk was om te toon hoe onvas en onvoorspelbaar versamelname is, veral oor taalgrense heen, hoe geskiedenis en verouderde opvattings daarop ingespeel het en hoe verkeerd dit is om vandag wetties daaroor te wees. Die goeie saad, sien ek, het tussen die klippe beland. Gister is daar so werklik weer ‘n vraag: Wat is die versamelnaam vir dolfyne?

Hierdie keer is die antwoord darem effe meer voor die hand liggend. Die WAT en Pharos se tweetalige woordeboek het opgeteken dat dolfyne en walvisse in skole voorkom. Dit, aanvaar ek ewe naïef, gaan die einde van die storie wees. Ek kan rustig agteroor sit, my tee drink en my verlustig in die wete dat ek een siel se las verlig het. Ehem, toe nou nie. Want “dolfyne is nie visse nie en hoekom is dolfyne en walvisse nie troppe nie?”

Ek wil eers my oë rol, maar dit is ‘n geldige vraag, en ‘n geldige vraag verdien ‘n geldige antwoord.

Die beginsel wat ‘n mens altyd moet onthou, is dat taal nie iets wat deur bleek en gifpennige akademici in stowwerige kantore geskep word en dan in lyste aan ‘n dankbare bevolking deurgegee word nie. Die taal behoort altyd in die eerste plek aan sy sprekers, en sprekers steur hulle soms aan die Waarheid en soms nie. Versamelname is by uitstek iets wat deur sprekers geskep word. Dit leef en groei en sterf in die monde van gewone mense, en vir gewone mense (veral die klomp wat honderd jaar gelede met die versamelnaam vorendag gekom het) is ‘n dolfyn ‘n ding wat in ‘n skool voorkom omdat hy kan swem.

Op dieselfde manier praat ons van ‘n swerm bye omdat hulle kan vlieg, al is hulle nie voëls nie. Sprinkane kom ook in swerms voor, al is hulle nie altyd vlieënd nie, en vlermuise maak swerms al is hulle nie voëls of insekte nie. Daarbenewens is kreatiewe taalgebruikers heeltemal gemaklik daarmee om te skryf dat bedelaars, rowers, toeriste en ander groepe mense wat soms ‘n irritasie is in swerms voorkom (kyk HAT6 se inskrywing by “swerm”). Punt is: Al weet gewone mense vlermuise is nie insekte of voëls nie en bedelaars kan nie vlieg nie, is gewone mense heeltemal gemaklik daarmee om versamelings vlermuise of bedelaars ‘n swerm te noem, want gewone mense gebruik soms logika en talige instink eerder as akademiese kennis wanneer hulle taal maak.

Om in ‘n klas te sit en vir kinders te leer dat dolfyne net in ‘n skool kan voorkom, is gewoon verkeerd. Want jy kan ook ‘n spul dolfyne, ‘n groep dolfyne, ‘n tenk dolfyne (in ‘n akwarium), ‘n besending dolfyne (wat aan ‘n ander akwarium verkoop is) of ‘n rak dolfyne (beeldjies wat jy by die akwarium se winkel kan koop) kry, en taalkundig is elk van hierdie vetgedrukte woorde ‘n versamelnaam. ‘n Versamelnaam is nie ‘n vaste, voorskryfbare ding nie, dit is deel van ‘n sintaktiese konstruksie (soortnaam + soortnaam) waar die eerste soortnaam ‘n versameling van die tweede aandui. Sommige van hierdie konstruksies is vaster, bekender en meer tradisioneel as ander en dit kan ons in lyste in handboeke publiseer en aandring dat leerders daarvan kennis neem, maar ‘n vraag soos “Wat is die versamelnaam vir x?” is heeltemal ongeldig, want as ‘n kind daar skryf “spul” is dit korrek en mag dit nie verkeerd gemerk word nie. (Voor jy stry, kyk gerus wat HAT6 aandui die woordsoort van “spul” is.)

Ja, leer asseblief vir kinders dat daar taalreëls is. Gee vir hulle die lys met bekende versamelname. Ja, koop die Afrikaanse woordelys en spelreëls en maak seker jy weet hoe om dit te gebruik. Skryf keurig. Vra as jy nie weet nie. Leer as jy besef jou kennis en opvattings is verouderd of verkeerd. Maar moenie taalgebruikers, veral die jonges, se kreatiwiteit in ‘n blik druk met lyste goed wat hulle moet leer en dan sê daar is nie ‘n ander manier om ‘n ding te skryf nie. Want dié van ons wie se werk dit is om taal te beskryf, weet al: Jy kan hierdie ding wat Afrikaans is nie in ‘n blik druk nie. Hy is gewoon te groot en te lewend en te kragtig daarvoor.

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pixie ·

Jy kan hierdie ding wat Afrikaans is nie in ‘n blik druk nie. Baie mooi gestel. Ek het hierdie artikel interessant gevind. Ek is trots op my taal !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.