Tel jou woorde – Wys my hoe jy spel, dan sê ek vir jou wie jy is

Argieffoto (Foto: rawpixel, Pixabay)

ʼn Kollega plaas ʼn rukkie gelede ʼn aanhaling van Bill Bryson op ʼn taalforum. Dit lui:

Two days before I left on the trip, I Googled ‘Favo’loso Cafe’ … I was appalled to discover that most people didn’t view it very favourably at all. One recent visitor pronounced himself “Dissapointted” with the experience. Well, here is a new rule: if you are too stupid to spell “disappointed” even approximately correctly, you are not allowed to take part in public discourse at any level.

We live in a world that has practically no appreciation for quality, tradition or classiness, and in which people who can’t spell even common words get to decide what survives. That can’t be right, surely. I was, as a TripAdvisor correspondent might put it, deply trubbled.

Ek hoef seker nie hier te sê wat die reaksie op die plasing was nie. Die kollega en Bill Bryson is oor die kole gehaal oor hulle spellingsnobisme, en iemand was namens almal met disleksie geaffronteer oor onverdraagsaamheid en Mense se Totale Gebrek aan Deernis. Ek ken nie vir Bill Bryson persoonlik nie en gaan hom nie verdedig nie, maar ek ken my kollega en weet darem hy is nie aan een van die aantygings skuldig nie.

Die opstootjie het my egter aan die dink gesit: Dit is nie die eerste keer dat kritiek oor spelling mense kwaad maak nie, en die geskil draai elke keer hier kort duskant bloedvergieting. Dit het my laat wonder wat die geskikte reaksie op Bill B se uitlatings behoort te wees. Wat is die plek en rol van spelling, en hoe moet ons dink oor mense wat nie dié vaardigheid (kan) bemeester nie?

Om dit te kan doen, moet ʼn mens eers terugtree en weer besin oor wat taal is en waarvoor ons dit gebruik.

Vir my is taal soos klere – dit is (lank, lank gelede) in die eerste plek geskep as ʼn instrument waarmee ons in hierdie wêreld moet oorleef. Ja, dit is presies hoe belangrik die twee goed is: Sonder klere is ons aan die elemente uitgelewer; sonder taal het ons geen manier om met mense te skakel nie. Kyk maar hoe sukkel dit as ʼn mens met buitelanders wat nie Engels magtig is nie moet kommunikeer. Ek het een keer in my lewe in Hongkong by ʼn restaurant weg van die gewone toeristebestemmings probeer kos bestel. As ʼn gawe tantetjie haar nie oor my ontferm het en beduie het dat ek liewer die gereg in die rooi bakkie moet bestel nie, het ek waarskynlik kakkerlaksop vir aandete gehad en dit nie geweet nie. Glo vir my, sonder taal kan dinge lelik lol.

Maar, soos klere, het taal met die tyd saam bykomende betekenis gekry wat nie meer net op die vlak van oorlewing lê nie. Klere beskerm ons nie net nie, dit gee ook ʼn klomp goed van ons te kenne: Dit merk ons as lede van ʼn bepaalde kultuur, dit sê vir mense hoe oud ons is, aan watter gender ons behoort, hoeveel geld ons het (ja, ons wys af met ons klere), en verklap selfs waar ons woon: Durbaniete het nie sommer jasse nie, Kapenaars se jasse is reënbestand, en Bloemfonteiners se jasse het diep sakke waarin jy jou hande kan steek sonder om jou handskoene uit te trek. As jy in die middel van die winter met ʼn T-hemp en ‘n kortbroek rondloop, is jy waarskynlik ʼn student op Tukkies, as jy in die somer ʼn trui en ʼn mus aantrek, is jy ʼn Zoeloelander wat ʼn koue front oorleef.

So werk taal ook: As jy sê jelp in plaas van help, lê jou wortels in die Kalahari. As jy nog sê vanmelewe of almaskie is jy waarskynlik ouer as sestig. As jy sê want sy is cool soos dit, is jy waarskynlik jonger as twintig. As jy praat van die ou babatjie is jy waarskynlik ʼn vrou, en as jy praat van jou gabba is jy waarskynlik ʼn man. As jy woorde soos diglossie, kreool en geolek in jou aktiewe woordeskat het, is jy waarskynlik ʼn variasietaalkundige, en as jy weet wat beteken desalnietemin is jy waarskynlik op die Taalkommissie. Ons taal merk ons, of ons dit nou wil weet of nie.

Soos wat ons ons kleredrag aanpas by die geleentheid, so pas ons ons taalgebruik aan. Ons dra nie hofskoene en ʼn aandrok op die strand nie; ons dra nie ons oudste sweetpak kerk toe nie. Dieselfde persoon mag albei dié uitrustings besit, maar gaan kies wanneer en waar albei gepas is. Nee, niemand gaan iemand met ʼn gestremdheid kwalik neem dat hulle kisklere anders lyk as ons s’n nie. Nee, niemand gaan iemand met ʼn gebrek aan geleenthede kwalik neem dat hulle uitgaanklere nie Chanel-skeppings is nie. Maar as jy die tyd, geld en geleentheid het om gepas aan te trek en jy daag met flenters aan jou bas by ʼn openbare geleentheid op, gaan die wenkbroue lig.

Net so werk taal. Jy mag op die strand praat nes jy wil, maar as daar ʼn aandrokgeleentheid is en jy praat verflenterde sweetpak, gaan die wenkbroue lig. As jy, met woordeboeke en speltoetsers tot jou beskikking, op ʼn openbare forum slordig skryf, moet jy vir lief neem dat mense jou gaan kritiseer.

Wat ons nié mag doen nie, is om oordele oor mense se karakter te maak op grond van wat hulle aantrek of hoe hulle skryf. Iemand is nie dom, sleg of onaangenaam omdat hulle nie netjies aantrek of sleg spel nie. Hulle menings is nie ongeldig nie, en hulle demokratiese reg om aan openbare debatte deel te neem, mag nie ingekort word op grond van hulle voorkoms of hulle spelling nie. En die slegte gewoonte van sommige gespreksgenote om iemand oor hulle spelling aan te val as dié persoon se standpunt hulle nie aanstaan nie, is sommer net gemeen.

Daarom moet ek nou ongelukkig, so veel as wat ek van meneer Bryson hou, van hom verskil. Selfs ʼn gebruiker wat dissapointted” skryf, mag aan ʼn openbare debat oor ʼn restaurant deelneem, en ek mag nie die gebruiker se karakter of integriteit aanval omdat sy/haar spelling vrot is nie … Wat ek wel mag doen, is om te besluit hoeveel ek my aan iemand wil steur wat, met woordeboeke en speltoetsers tot sy/haar beskikking, met flentertaal aan ʼn openbare debat deelneem.

VivA-groete
Sophia

Lees alle vorige Tel jou woorde-rubrieke op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Cherokee ·

En Sophia, dit nie nie slegs spelling wat dikwels vrot is nie maar soms ook grammatika. Miskien behoort toegewings te bestaan by sinsbou. Jy maak kommas voor die woord ‘en’ terwyl ek ‘n sin begin met ‘en’, terwyl albei na my mening nie korrekte Afrikaanse gebruik is nie. Tog klink dit reg soos jy en ek dit gebruik.

Mense wat andersins heel leesbaar skryf, weet dikwels nie of dit ‘n v of f, .. d of t, .. y, ei of ui is nie en daar is veel meer voorbeelde. Hulle praat van leiers wat ly en hulle skied met gewere. Hulle skryf heel interessant maar sleep dan die famielie in. Hulle spog met hul trots op Afrikaans maar doen dit onder ‘n Engelse skuilnaam. Soos jy dan ook met reg sê, mag ek self besluit oor hoeveel waarde aan so ‘n skrywer se opinie te heg.

Sophia ·

Kyk gerus na die spelreëls soos vervat in hoofstuk 13 van die nuwe AWS. Die reëls vir kommas is ook daarin. Die komma voor “en” is nie net wettig nie, dis soms verpligtend. En jy mag beslis jou sin met “en” begin.
S

Casper Labuschagne ·

@Sophia, ek voel oor hoofstuk 13 van die nuutste AWS soos oor paragraaf 12, bladsy 51, uitgawe 345 van die staatskoerant – dit is alles geskep om my lewe te vergal. Taal en spelling is ‘n konstante vloeiproses en kan nie geblik, gebottel of ingelê word in prosesse waar ons almal soos bliksoldaatjies onder die dikatuur van die spelling- en taalnazis moet masjeer nie.

Cherokee ·

Dankie vir die uitwysing. Soos reeds gesê was dit slegs ‘n eie opinie wat ek nie eens weet van waar ek dit onthou nie en somtyds ook nie heel van pas geklink het nie… en wat nou gekorrigeer is. Dit is waarom ek sê dat reëls met betrekking tot sinsbou nie in sement gegiet behoort te wees nie.
C

Sophia ·

Aaaaaa, Casper, wie is dié taalnazi’s? Iewers moes jy jou tog aan hulle gesteur het, want ek let op dat jy baie mooi binne die bepalings van al die spelreëls in die AWS hou as jy skryf.

Taalreëls is nie bedoel om enigeen se lewe te vergal nie, dis bedoel om ons in staat te stel om behoorlik en maklik te kommunikeer. En om te keer dat onskuldige mense hel toe gaan. (Jy ken die ou grappie van die man wat ‘n grafskrif vir sy oorle vrou laat aanbring het: “Hier lê my vrou Griet. In die hemel is sy, nie in die hel, dit weet ek wel.” Toe loop die kommaplasing skeef en daar staan: “Hier lê my vrou Griet. In die hemel is sy nie, in die hel, dit weet ek wel.”)

Reëls is bietjie soos speserye in ‘n bredie. As jy een wegneem, gaan min mense dit agterkom. Maar as jy almal wegneem, gaan almal weet jy sit nou met ‘n pot vol warm en geen rede om dit te eet nie.

Willem ·

Taal is ‘n instrument wat in die eerste plek gebruik word om te kommunikeer. Of in eenvoudige terme, dis gereedskap. Gebruik ek die verkeerde skroewedraaier om ‘n skroef in te draai, gaan daardie skroef vrot ingedraai wees. Gebruik ek ‘n stomp beitel, gaan die artikel nooit so goed lyk of werk nie. Ditto taal en spelling.

Rupert Ashford ·

En so maak ons alles makliker (dumbed down) in die naam van politieke korrektheid. Doe so voort. En rooihuid persoon (of in meer politiek korrekte terme, first peoples van die Noord-Amerikaanse vasteland persoon), ek hou van my Ingelse skuilnaam…;-) Koebaai!!!

Cherokee ·

Wanneer ek sê Cherokee, praat ek nie van Indiane in Noord Amerika of selfs ‘n Jeep nie. Ek praat Piper.

Casper Labuschagne ·

As ‘n ongerehabiliteerde slegte speller vir meer as ‘n halwe eeu, het ek tot die slotsom gekom dat die wêreld verdeel is in mense met pedantiese breins wat gestel is op orde, organisasie en elke dingetjie perfek op sy plek gesorteer (spelling inkluis), en mense wat skaars tyd het om neer te skryf wat hulle amper al vergeet het omdat daar belangriker goed is om aan te dink en te skep en uit te vind. Laat staan nog onsinnige en lastige reels ivm spelling. Maar daar is ook ”n derde groep, mense wat behoort te weet van beter maar wat so onkundig is dat hulle nie weet hulle is onkundig nie. En daardie groep steek my ook dwars in die krop. Boonop, as die geskiedenis nagevors word van die persone wat die eerste woordeboeke opgestel het, sal jy uitvind dat dit juis hulle vrot onfonetiese spelling is wat nou deur die spellingnazis aan ons almal opgedwing en afgeforseer word.

Liza101 ·

Mense lees nie meer nie! Sit soos zombies voor die tv dag en nag… Mense kyk my vreemd aan as ek vertel dat alles om my kan vergaan as ek goeie boek het. As jy nie lees nie gaan jy ook nie kan spel nie!

Mien ·

Liza jy het die spyker op die kop geslaan ! My kinders weet hoe om te spel, omdat hulle boeke saam met hulle moedersmelk ingekry het en dieselfde geld ook vir my kleinkinders. Hopelik sal die blootstelling aan boeke hulle ook leer om ordentlik te spel. Sofia, baie dankie vir die heerlike leesgenot wat jy verskaf. Dit is my verweer teen die aanslae van die lewe. Jy is voorwaar ‘n Diva.

Mien ·

Liza jy het die spyker op die kop geslaan ! My kinders weet hoe om te spel, omdat hulle boeke saam met hulle moedersmelk ingekry het en dieselfde geld ook vir my kleinkinders. Hopelik sal die blootstelling aan boeke hulle ook leer om ordentlik te spel. Sophia baie dankie vir die heerlike leesgenot wat jy verskaf. Dit is my verweer teen die aanslae van die lewe. Jy is voorwaar ‘n Diva.

Cherokee ·

Ek wonder dikwels of dit vir ander net so irriterend is wanneer mense skryf en klinkers uitlaat. Waarskynlik word dit gedoen om bandwydte te spaar maar hoeveel word werklikgespaar deur enkele karakters nie te plaas en jouself die mismoë van lesers op die hals te haal? Dit is wanneer respek vir die Taal ernstig bevraagteken word.

brt vd merwe ·

Met die tegnologie vandag tot ons beskikking, bv rekenaars en outomatiese motors, moet ons net oppas om nie mense wat nie meer telrame kan gebruik of osse kan inspan goeds moeds voor die kop te kyk eerder as in die krop nie – negatief beoordeel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.