Terry Pratchett se laaste skryfwerk deur stoomroller vernietig

Die hardeskyf langs die stoomroller (Foto: Rob Wilkins, Twitter)

Sir Terry Pratchett se ongepubliseerde werke is deur ʼn stoomroller vernietig, op versoek van die wyle skrywer.

Die Discworld-skrywer is in Maart 2015 in die ouderdom van 66 oorlede ná ʼn lang stryd met Alzheimer se siekte. Hy was bekend vir dié kleurvolle en satiriese reeks. Hy is ook bekend vir sy omstrede dokumentêr in 2011 oor bystanddood genaamd Terry Pratchett: Choosing to Die.

Sy vriend, outeur Neil Gaiman, het gesê Sir Terry wou hê “enigiets waaraan hy gewerk het ten tyde van sy dood moet saam met sy rekenaars in die middel van ʼn pad neergesit word, en ʼn stoomroller moet dit vernietig”.

Rob Wilkins, wat Pratchett se boedel behartig, het verlede week ʼn foto van ʼn hardeskyf langs ʼn outydse John Fowler & Co-stoomroller by die Great Dorset Steam Fair, op Twitter gelaai met die woorde “Gaan nou my verpligting aan Terry vervul”. Hy het direk daarna ‘n foto van die stukkende hardeskyf ook op Twitter gelaai.

Die stukkende hardeskyf sal van 16 September by die Salisbury-museum te sien wees, as deel van die uitstalling, “Terry Pratchett: His World”.

Meer as 70 boeke het uit Pratchett se pen verskyn. Hy is in 2007 met Alzheimer se siekte gediagnoseer, maar het tot in 2015 nog boeke geskryf en gepubliseer, al hoe meer met bystand van ander. Twee boeke het ná sy dood verskyn, The Long Utopia (in samewerking met Stephen Baxter) en The Shepherd’s Crown – die laaste Discworld-boek.

© Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Disselboom ·

Vraag oor goeie Afrikaans taalgebruik”: Is die werke “deur ‘n stoomroller” of “met ‘n stoomroller” vernietig?

Nie almal hou van die debatte oor suiwer Afrikaans nie, maar dis tog nie verkeerd om so bietjie te redeneer oor goeie taalgebruik nie.

Henk ·

Hahaha goeie punt, nou laat jy my kop krap. Ek reken dit moet wees: met ń stoomroller.

Nie seker ·

Ek mag verkeerd wees (ek is nie ‘n taalkundige nie), maar ek vermoed dat “met ‘n stoomroller” die korrekte afrikaans is. Die stoomroller is die voorwerp waarmee die werke vernietig is.

Eish ·

Wat jy sê voel vir my ook reg. Dit is deur Piet met n stoomroller vernietig.

John ·

‘Met’ of ‘deur’ ~ die oom wou steeds aandag trek na’ sy dood… en die’ van sy blikboeke…

Paul ·

Dis jammer. Ten minste is meeste van die dinge wat hy geskryf het, wel gepubliseer.

Franz Kafka het ook opgrag gegee dat sy ongepubliseerde werke na sy dood vernietig moet word. Sy vriend, Max Brod, het die opdrag egter geignoreer en gevolglik het ons vandag meeste van Kafka se werke om te lees.

Nico K ·

My mening: ek vernietig iets MET ‘n stoomroller, maar daai ding is vernietig DEUR ‘n stoomroller. En ek moet byvoeg ek is ‘n groot Terry Pratchett leser.

Johnny ·

As die man “slim” was het hy die data afgelaai voor hy die skywe vernietig het. Moeilik om te bewys dis Pratchett se eie werk, veral as hy met hulp van ander geskryf het in sy laaste jare.

Dina ·

Die werke is deur iemand met (behulp van) ‘n stoomroller vernietig. Onthou lydende en bedrywende vorm?

Net 1 ·

Van al die kommentaar is net 1 wat te doen het met die artikel. Die berig gaan oor Terry Pratchett en nie die stoom roller nie. Asof julle ook net “suiwer afrikaans” heeldag praat. I dont so.

Daan ·

Dis met ‘n stoomroller.Dit bly ‘n instrument in iemand se hand.Dit kan nie self besluite neem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.