Treffende handelsname vir WAT-kompetisie gesoek

(Foto: Oep ve Koep/Facebook)

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) hou vanjaar weer ʼn kompetisie vir die treffendste Afrikaanse handelsnaam.

Eienaars van ondernemings of produkte met Afrikaanse name word genooi om in te skryf. As jy weet van ʼn treffende Afrikaanse handelsnaam in jou omgewing, vra hulle om in te skryf, of stuur die naam vir die WAT-span sodat hulle die persoon of onderneming kan nader.

Die vorige kompetisie is in 2020 aangebied. Moer Op Als (geurmiddel) het die meeste stemme getrek, terwyl Koer (afspraakklub) en Oep ve Koep (restaurant) die naaswenners was.

Stuur jou inskrywing met ʼn handelsnaam, webwerfadres, logo of foto na [email protected]. Inskrywings sluit op 14 Augustus (Afrikaanse Taaldag).

WAT hou Woordpret-funksie

Dr. Willem Botha en Jak de Priester. (Foto: Wat.co.za)

Ná twee jaar kon die WAT op 29 April uiteindelik weer ʼn Woordpret-geleentheid aanbied.

Tydens die geleentheid het die Sally Williams Nougat-sanger Jak de Priester gaste vermaak met van sy bekende treffers soos “Groen Mamba” en hy het ook die hartsnare met ʼn paar nuwe komposisies geroer. De Priester was in 2002 die wenner van die ATKV se Crescendo-sangkompetisie.

Aletté van Vuuren van Ken Forrester Wingerde was daar om van die wynkelder se uitsoekwyne met gaste te deel. Die oudrugbyspeler Kobus Wiese het sy Wiesenhof-koffie bekendgestel en ligte verversings is deur La Coco-restaurant bedien.

Renier Stapelberg, wat saam met sy broers Werner en Wouter die woord “legende” gekoop het, het hier ook amptelik die Borg ʼn Woord-Sanlamprys van R25 000 in ontvangs geneem.

Hy het vertel dat hulle die woord ter nagedagtenis van hulle oorlede vader, Len Stapelberg, gekoop het. “Baie mense wat hom geken het, het ná sy afsterwe na hom as ʼn legende verwys.”

Volgens Stapelberg het hulle pa ook vroeër die woord “heldin” vir sy vrou gekoop nadat sy haar stryd teen kanker oorwin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.