Tuin van digters-fees in Wellington gehou

Haal uit die digwoorde, gryp die digbundels en koop jou kaartjie: dit is tyd vir die sesde Tuin van Digters-fees op 15 en 16 September 2017 by die Breytenbach-sentrum in Wellington.

Vanjaar se program is propvol hoogtepunte. Een daarvan is die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse debuutdigbundels wat in 2015 en 2016 gepubliseer is en op Saterdag, 16 September, aan die wenner oorhandig word. Die Breytenbach-sentrum se 10de bestaansjaar word ook gevier.

Die tema vir 2017 is “Uitdagend skeppend”, verduidelik Francois Lötter, bestuurder van die sentrum. “Die aanhaling dui op beweging – in uitdaag en in skep. Dit is ook die Breytenbach-sentrum se tema vir 2017 en vorentoe en het sy oorsprong by Breyten Breytenbach se woorde tien jaar gelede op 26 Februarie 2007 met die opening van die Breytenbach-sentrum.”

Ander programhoogtepunte sluit in die huldiging van die digter Wilma Stockenström; ’n gesprek deur PEN Afrikaans oor “Breyten se invloed op die generasies ná hom”; die bekendstelling van Nuwe Stemme 6; Andries Bezuidenhout wat gesels met Bibi Slippers oor haar veelbekroonde digbundel, Fotostaatmasjien; gesprekke met digters van wie onlangs nuwe bundels verskyn het, ’n “Oop mikrofoon” vir voorlees van gedigte; ’n spesiale groepuitstalling deur ongeveer 40 kunstenaars ter viering van die Sentrum se tiende jaar; Riku Lätti en die Wasgoedlyn se digtersangers van die nag; Tribal Echo wat nuwe toonsettings van gedigte van Adam Small sing; en oorgenoeg eet- en drinkgoed vir lekker kuier.

Kaartjies kos R100 vir die Vrydag, R200 vir die Saterdag en R250 vir die tweedag-pakket. Studente met bewys van ’n geldige studentekaart betaal R60 per dag. PEN Afrikaans se jaarvergadering sal ook op Saterdag 16 September by die Tuin van Digters plaasvind en opbetaalde lede sal gratis toegang kry.

Besprekings en navrae kan gedoen word by Jeanne-Mari Gerber by [email protected], 021 873 2786, 073 435 1022.
Die sentrum is geleë op die hoek van Burger- en Malherbestraat, Wellington, 7655.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.