Uittreksel: Jan Spies se “Politiek vir ʼn esel”

Jan Spies (Skermskoot uit 'n video van die SAUK)

Jan Spies (Skermskoot uit ‘n video van die SAUK)

Uit: Profeet met kondensmelk (Vertellings 3)
Deur Jan Spies

ʼn Donkie is ʼn wonderlike ding.

En ʼn wonderlike ding sal hy bly.

Waar jy een keer uitgespan of stilgehou het of teëspoed gehad het, daar wil jou donkies die volgende keer weer uitgespan wees, of weer teëspoed hê.

Die bitterste wat jou kan oorkom, is dat jy jou met ʼn span vreemde donkies begewe op ʼn pad wat hulle ken. Want al sou jý ook daardie pad baie beter as hulle ken, weet jy nog nie wat hulle tevore op hom beleef het en watter herinneringe by hulle al ʼn soort tweede natuur geword het nie.

So gebeur dit eenkeer dat my vader van ons plaas af Mariental toe moes ry met ʼn wa. Sý ou was stukkend en die vrag was te groot vir die kar; daarom moes hy êrens in die omgewing ʼn wa leen.

Maar dis nie al wat hy moes leen nie. Hy moes ook met ʼn span donkies oor die weg gehelp word. Want in daardie dae was die wêreld oop; die grootgoed soos donkies, perde en beeste het geloop waar hulle wou, en dit was daarby nog in die reëntyd ook. So was daar baie oopwater en gevolglik lekker vlugkans vir ʼn mens se donkies. En toevallig was dit so, dat die oom by wie my pa die wa te leen kon kry, sy donkies in die hand gehad het.

“Span in die verdamde goed,” sê hy vir my pa. “Hulle werk hoeka te min.”

En so val my pa met hulle voor die wa in die pad huis toe ná hy die hele ent tot by die oom te voet geloop het.

By die huis aangekom, span hy hulle, sodat hulle nie ook die wye wêreld indons nie.

En ʼn dag of wat later gryp hy die pad Mariental toe.

Vir die eerste dag se ent gaan dit goed, want die pad loop in ʼn harde pan tussen die duine langs.

By party plekke mik die donkies hier na ʼn boom of daar na ʼn uitspanplek toe. Maar die klagte is nie te ernstig nie; ʼn mens ken mos dié storie.

Die gesukkel begin eers die volgende dag toe die pad die duine klim.

Snaaks genoeg gaan dit oor die eerste groot duine sommer lekker, en my pa begin voel half jaloers op dié uithalerspan donkies. Maar teen een van die laaste ou platsandjies, net voor ʼn mens op die kalkwêreld tussen die sand en Mariental aanland, staan die donkies.

Om die dooie dood kan hulle nie die wa roer nie.

My pa spook hom stokflou. Praat help nie. Slaan help nie. Vloek help nie. Niks help nie.

Toe span hy maar uit en jaag die spulletjie na die naaste put sowat ʼn uur se loop daarvandaan af, dat hulle ʼn slag behoorlik kan suip. Hy span hulle weer in en probeer van voor af. Maar niks te make. Dis nie lank nie, of dit gaan maar weer rof daar by die wa. Want dis ʼn wrede storie as jý dink ʼn donkie kan ʼn ding doen, terwyl hý glo hy dit nié kan doen nie. Dan is die hele span later op ʼn stelsel dat net een op ʼn slag probeer trek – dié een wat jy onder die slaanding steek.

Sononder span my pa uit, sodat hulle kan wei.

Die anderdagmôre probeer hy weer. Maar vorentoe kom hy nie. Later voel hy al aardig oor die kryg.

Hy loop ʼn slag agter om die wa om te kyk of die briek nie dalk op die een of ander onverklaarbare manier vas gekom het nie. Maar daar is nie fout nie.

En toe tref die geluk by die ongeluk hom: sy oog val op een van die droë bokvelle wat hy wou gaan verkwansel. En ʼn droë bokvel kan mos darem amper so hard soos ʼn sinkplaat wees.

En die ou-kêrel vat een van die bokvelle en hy hou dit in die lug en hy begin slaan met die sweepstok se punt daarteen. En dadelik kry die donkies lewe. Want dis ʼn vreemde ding wat hulle hoor. Hulle roer hulle ore en party begin beur glad só dat die stringe snaarstyf begin span.

En dis toe dat my pa die regte ding op die regte tyd doen. Hy hardloop langs die wa verby en bly trommel met die sweepstok teen die vel. En die donkies hoor die gevaarte kom op hulle af. En hulle vlie met die wa daar weg of hy op ʼn harde pad teen ʼn afdraend gestaan het.

Hulle is met hom bo-oor die duintjie en ander kant deur die straat en oor die volgende duin. Teen die tweede duin kry my pa hulle eers ingehol en tot bedaring gebring.

Toe kos dit hom terugloop tot by die blystaanplek om sy kos en kooigoed te gaan haal en aan te dra tot by die wa.

Sowat ʼn week later hou hy met die wa en donkies by hulle-se baas stil. En hy vertel die oom van die termelt.

Hy is vreeslik jammer hy het my pa nie vooraf vertel van die donkies se maak teen die platsandjie nie, sê die oom.

“By darie duintjie moet jy met hierie span donkies met politiek en geduld werk,” vertel die oom.

“Met politiék?” wil my pa weet.

“Ja, met politiek. Jy moet een ding doen, maar dit laat lyk na ʼn anner ding,” verduidelik die oom vir my pa.

“En jy moet geduld hê.”

En toe vertel die oom hoe sy donkie-politiek werk: Wanneer die spulletjie ouder gewoonte by die plek kom waarvoor hulle glo geskape is om te bly staan, gaan hou hy sy lyf touleier soos voor ʼn span osse.

Hy trek die twee voordonkies uit die pad en lei hulle met span en wa en al met ʼn wye draai teen die duin af en vat in die straat weer die pad.

Kort voor die blystaanplek draai hy weer uit die pad, lei hulle weer met ʼn draai op hulle spore langs. En so ná ʼn drie of vier keer se kringlooppolitiek lei hy hulle sonder dat hy ʼn enkele keer hoef te gevloek het bo-oor die duin.

“Jy moet ʼn donkie sover pampalielie, dat hy glo hy kan ʼn ding gedoen kry. Hy moet so min of meer dink hy is al ʼn paar keer bo-oor die swaar plek, dan ken hy nie meer die verskil tussen swaar en maklik nie,” beduie die oom.

“Want geloof is ʼn wonnerlike ding – hy kan vir jou baie krag gee. Maar as jy gló jy kan ʼn ding nie doen nie, dan kan darie einste geloof darem vir jou kragteloos sleg ook maak. Dit het ek teen darie een enkele ou duintjie met my eie span donkies sovele kere gesien voor ek op die regte politiek met hulle afgekom het.”

“Ja, Oom,” sê my pa. “Oom se draailooppolitiek werk seker goed as ʼn mens tyd het. Maar dit lyk vir my met my skrikmaakpolitiek het ek tog vinniger oor die duin gekom.”

Die oom dink ʼn lang ruk voor hy iets sê.

“Jy praat mos nou ʼn groot storie, wat ʼn mens moet verder vat. ʼn Donkie ís ʼn wonnerlike ding. Maar sou hy nie nou nog méér wonnerlik gewees het as jy ʼn politiek kon bedink het wat hom sy hele herinnering oor ʼn blystanery kon laat wegskrik het nie? Dan sou geen pad op die ganse aarde mos vir jou met ʼn donkie onbegaanbaar gewees het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.