UJ en ATKV vier SA se meertaligheid

ATKV. Foto: Facebook via ATKV

ATKV. Foto: Facebook via ATKV

Die ATKV en die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Departement Afrikaans en Departement Linguistiek gaan vanjaar weer op 20 en 21 Mei die rykdom van Suid-Afrika se meertaligheid vier met twee verskillende geleenthede.

Taalliefhebbers kan vanjaar aan verskeie aktiwiteite deelneem wat op die Kingsway-kampus van die universiteit en by die Protea City Gemeenskapsentrum plaasvind.

Die program is volgepak met aktiwiteite vir leerders sowel as onderwysers.

Op Vrydag 20 Mei van 09:00 tot 11:00 word die Talethon, ’n meertalige vasvrakompetisie, vir graad 9-leerders by die universiteit se Kingsway-kampus gehou. Die doel van die taalkompetisie is om leerders vertroud te maak met meer as een taal (Afrikaans, Zoeloe en Sotho) en om ʼn liefde vir ons land se tale te help ontwikkel.

UJ se Departement Afrikaans bied op Saterdag 21 Mei ’n werksessie vir Afrikaans-onderwysers aan. Hierdie werksessie wil onderwysers toerus met innoverende en verfrissende klaskamertegnieke om die aanleer van Afrikaans nog meer pret te maak. Dit word op die Kingsway-kampus aangebied.

Lede van die publiek en taalliefhebbers kan ook op 21 Mei self gaan kyk hoe Afrikaanse klasse in Soweto aangebied word. Die Afrikaans-in-Sowetoprojek is ’n gesamentlike projek van die ATKV en die Departement Afrikaans van UJ waar kinders en ook volwassenes op informele en prettige wyse Afrikaans aanleer.

Karien Brits, bestuurder: taal van die ATKV, sê Afrikaanssprekendes kry op dié dag in Soweto ook die geleentheid om ʼn bietjie Tswana te leer. “Die aktiwiteite wat ons beplan vir die Saterdag in Soweto, illustreer weer die ATKV se verbintenis tot die bevordering van Afrikaans in ʼn meertalige konteks,” het sy gesê.

Prof. Ronel Johl, waarnemende hoof van die Departement Afrikaans aan die UJ, sê haar departement en die ATKV wil die waarde van meertaligheid vier deur die geleentheid so meertalig moontlik te hou. “Ons moet die rykdom van ons tale gebruik om by en van mekaar te leer.”

Dr. Eleanor Cornelius, hoof van die Departement Linguistiek, sê dié departement is ten volle verbind tot veeltaligheid in Suid-Afrika. “Ons omarm diversiteit en is terdeë bewus van die dringende nood om die tale en erfenis van ons land te koester. Die rol van tolking in opvoedkundige en ander omgewings moenie onderskat en misken word nie, want die een ná die ander studie dui op die enorme voordele van tolking in veeltalige kontekste. Dieselfde geld vir vertaling. Oor Afrikaans en die behoud daarvan is ons net so ernstig as wat ons is oor die behoud en ontwikkeling van die ander nege inheemse tale in ʼn veeltalige bestel.”

Besoek die ATKV se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johannes Comestor ·

Instansies soos die ATKV, die UJ se departemente vir Afrikaans en Linguistiek en die Afrikaanse Taalraad word deur meertaligheid geaktiveer. Dit sou tot groter heil vir Afrikaans wees as hulle ondubbelsinnig vir Afrikaans in die bres tree.

Xa ·

UJ wat eens n Afrikaanse universiteit was – het hulle nie amper heeltemal verengels nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.