UJ-pryse vir Afrikaanse tekste toegeken

Die vakgroep Afrikaans in die Departement Tale, Kultuurstudie en Toegepaste Linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg het die wenners van die 2019 UJ-pryse bekendgemaak.

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van genres heen, toegeken. Die pryse is die UJ-debuutprys vir die beste debuutteks in Afrikaans (met ’n prysgeld van R35 000) en die UJ-prys vir die beste teks in Afrikaans (met ’n prysgeld van R70 000).

Titels wat in aanmerking vir die UJ-pryse kom moet in die voorafgaande kalenderjaar, 2018, en in Afrikaans, gepubliseer wees.

Vir die 2019 UJ-pryse is altesaam 61 titels is ingeskryf, waaronder 11 debute. Die inskrywings het ’n wye verskeidenheid tekste verteenwoordig, waaronder dié van gevestigde, bekroonde en nuwe digters, kortverhaalskrywers, romansiers en ʼn dramaturg. Ook titels wat tradisioneel as nie-fiksie beskou is, is ingeskryf, waaronder brieweboeke, biografieë en verhale oor historiese bewegings.

UJ-debuutprys

Die wenner van die 2019 UJ-debuutprys, is Lodewyk G. du Plessis (pseud.), die skrywer van Die dao van Daan van der Walt.

Du Plessis is ʼn skuilnaam vir ʼn debuutskrywer. Dit mag waarskynlik die eerste maal wees dat ʼn literêre prys aan ʼn skrywer wat nie sy/haar biografiese identiteit wil openbaar nie, toegeken word.

Só lui die keurverslag:

DIE DAO VAN DAAN VAN DER WALT

“Die nuwe bedeling en algemene omstandighede in postapartheid Suid-Afrika, magonteiening, manlikheid, skuld en vergifnis, godsdiens, seksualiteit, taal en kommunikasie, en ʼn besinning oor die letterkunde, is maar slegs ʼn paar kwessies wat in die roman ondersoek word.

Dat die skrywer dit kon vermag om op so ʼn boeiende wyse ʼn groot en diverse lesersgehoor te bereik én die hartsnare te roer terwyl hulle uitgedaag en gekonfronteer word, tel sekerlik onder van die opwindendste kwaliteite waaroor ʼn debuutwerk kan beskik. Die funksionele vertelwyse van die roman is ʼn aanduiding dat hierdie outeur weet hoe om werklik kreatief met skryfwerk om te gaan, deurdat die dagboek en briefroman ingespan word om van hierdie ʼn beide pynlike en skreeusnaakse belydenisroman te maak – en sodoende word hede en verlede gelyktydig aan die leser meegedeel. Hierdie kreatiwiteit word verder gevind in van die mooiste en beeldryke sinne. Die skrywer kry dit ook reg om by tradisies soos die plaasroman aan te sluit, maar steeds ʼn vars nuwe perspektief na vore te bring wat hierdie tradisie verbreed. Die wye verwysingsveld wat die skrywer betrek bied ook interessante stof tot nadenke wat die leser se mening oor diskoerse wat tans in Afrikanergeledere heers, verruim.

Nog ʼn groot bekoring lê in die suksesvolle karakterontwikkeling van die hoofkarakter: die egtheid en herkenbaarheid van hierdie volronde en komplekse karakter maak van die roman ʼn onvergeetlike leeservaring.”

UJ-prys

Die wenner van die 2019 UJ-prys is Charl-Pierre Naudé vir sy roman, Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey.

Naudé, wat vanjaar 60 word, is ʼn bekroonde digter en dit is sy debuutroman.

Só lui die keurverslae:

DIE ONGELOOFLIKE ONSKULD VAN DIRKIE VERWEY

“Hierdie is die interessantste roman wat ek nog die afgelope paar jaar in Afrikaans gelees het. Wat voorkom as ʼn magiese realistiese besinning oor apartheid, word uiteindelik soveel meer. Mens sou dit ʼn metaroman kon noem: ʼn kreatiewe besinning oor die skryfproses, oor die ontstaan en aard van stories. Maar Naudé gaan verder en daag alles uit wat ons rondom die realiteit weet en wat ons as die werklikheid beskou.

Op ʼn uiters vernuftige wyse ondermyn hy die hele konsep van chronologie. Aangesien drome in die roman as werklike lewens aangebied word, speel Naudé met die idee dat hierdie lewe ook net ʼn droom kan wees. Hy bied swyes as geskiedskrywing aan. Hy daag die aard van menslike bestaan uit deur die moontlikheid te ondersoek dat ons gelyktydig op verskeie plekke in verskillende tye kan bestaan.”

“As Naudé se verse, poëties soos dit is, ʼn sterk verhaalmatigheid ingebou het, is die poëtiese inslag waarmee hy ʼn roman skryf nie vergesog nie. Nietemin steeds verrassend. Die gevolg is dat ʼn mens die roman wil lees met die aandag (en leesspoed) waarmee jy poësie wil lees.

Die verhaal voltrek hom in die domein van ewelewens en die gegewe word op só ʼn manier aangebied dat die leser willens en wetens betrek word. Die leser kry deurgaans ʼn gevoel van herkenning, van déjà vu, wat aangevul word deur historiese gebeure, maar ook deur liggings wat voortdurend van die landkaart (en terug) glip.”

“Die lywigheid van die roman dra sonder twyfel by tot die verwikkeldheid van die bestaan wat voorgestel word.”

“In sy eerste roman is Charl-Pierre Naude die digter, se poëtiese seggingskrag, voorkeur vir die narratiewe en sy ryk en verbeeldingryke metafore, ook sigbaar. Alhoewel dié keer in ʼn ander baadjie, naamlik ʼn komplekse vervlegting verhale van karakters, stories, lewens en ewe-lewens, vermoed ek dat ʼn groot deel van die roman Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey se leesplesier te wyte is aan die poëtiese neerslag daarin.

Die roman eis ʼn pond vleis van sy leser en bevind homself daarmee, tesame met sake soos die aansienlike opset en omvangrykheid daarvan, as deel van daardie geselskap romans in Afrikaans waar, weliswaar uiteenlopende tekste, met titels soos Agaat, Buys, Eilande, Die wêreld van Charlie Oeng en ook Casspirs en Camparis, tuishoort.

Parallelle bestaanswerklikhede en universums is lank nie ʼn nuwe idee nie, maar ek het nog nie tevore Naude se term ‘ewe-lewens’ teëgekom nie. Dat ʼn sentrale gegewe van dié roman deur ʼn nuutskepping wat so gemaklik kommunikeer, gedra word, is alreeds ʼn aanwins. Die hantering hiervan, dit is ewe-lewens en die gevolge daarvan, in ʼn komplekse metafiksionele roman waar die skrywer dalk self(s) ʼn ewe-lewe in die koerantman het (Verdomp), stel ook die roman in ʼn klas van sy eie. In ʼn sin herinner die verskillende stories, van die verskillende karakters, wat ook almal, dit is stories én karakters, (baie) dieselfde is, my aan die ooreenkomste met die manier waarop narratiwiteit in Die duisend en een nagte gebruik word – dit natuurlik afgesien van die raamvertelling.”

Die keurpaneel vir 2019 was:
Frederick J Botha
Dr Karen de Wet (UJ)
Dr Amanda Lourens (US)
Dr Johan Myburg
Prof Andries W Oliphant (UNISA)
Prof Marné Pienaar (UJ)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Charles ·

Baie geluk aan die skrywers en baie dankie vir wat julle vir Afrikaans doen!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.