US Woordfees stel eie leeskring bekend

Argieffoto

Argieffoto

Die jaarlikse US Woordfees het sonder twyfel een van die stewigste boekprogramme in die land. Maar met dié lekkerte beperk tot ʼn week in Maart elke jaar, het die Woordfees se programkoördineerder vir die Skrywersfees besluit om ʼn ander plan te maak:  ʼn eie Woordfees Leeskring.

“Die US Woordfees Leeskring is ʼn lekker manier om heeljaar deur oor boeke te praat – ook dié wat nie op die feesprogram is nie,” sê Victor oor hierdie inisiatief. “Ons kuier graag saam met ons feesgangers; ons wil hoor watter skrywers en boeke hulle graag op die fees wil hê, en gee hulle met só ʼn maandelikse kuier geleentheid om self ook met die skrywers in gesprek te tree. Die leeskring dien dus as ‘n lekker brug tussen die feeste. As jy die fees, om watter rede ook al, nie kan bywoon nie, kan jy steeds saam kuier by die leeskring.”

Die US Woordfees Leeskring sal tien keer ʼn jaar (buiten Maart en Desember) byeen kom vir ʼn oggend van boeke, koffie of tee en ’n lekker sny koek. Teen slegs R60 per persoon kan lesers en boekwurms kom aansit om meer te hoor oor hul gunsteling skrywer en dié se nuutste boek.

Die eerste US Woordfees Leeskring vind op 18 September plaas. Skrywer, joernalis en kosfundi Barbara Joubert (van Sarie en Sarie Kos) deel die stories agter haar nuwe boek Kostalgie met Madri Victor. Barbara roem haar daarop dat sy ʼn nuwe gereg kan proe voorddat sy dit maak. Klotalgie is ʼn nostalgiese reis deur lande soos Protugal, Frankry en Brittanje, maar ook die Karoo-kombuis van haar jeug.

Op 29 Oktober gesels Madri Victor met Alta Cloete oor Opdrag van Oorkant. Theresa Beyers se ontroue eksman gee as’t ware sy laaste opdrag van oorkant die graf: al die vroue in sy lewe – en daar was ʼn hele paar – moet deelneem aan die publisiteitstoer vir sy outbiografie. ʼn Resep vir konflik en drama!

Op 26 November vertel Johan Fourie, skrywer van Struisvoël, aan Madri Victor meer oor sy debuutroman. Op die plaas Vrede, langs die Gamkarivier in die Klein-Karoo, spoel drie kinders op 16 Desember 1880 soos opdrifsels uit. In die Blanckenbergs se plaaskombuis ontstaan op hierdie dag ʼn verbintenis tussen Klein Sarel, Victoria en Marja, ʼn voorbeskikte lot wat ʼn leeftyd sou duur.

“Die US Woordfees is ʼn wonderlike kuierplek vir boekmense; nou is daar elke maand so ʼn boekkuier om na uit te sien,” vertel ʼn opgewonde Victor.

Woon die US Woordfees Leeskringe by!
Waar:
Weltevreden, langs Welgevonden-landgoed op die R304 buite Stellenbosch

Wanneer:
18 September – Barbara Joubert, Kostalgie
29 Oktober – Alta Cloete, Opdrag van Oorkant
26 November – Johan Fourie, Struisvoël

Koste:
R60, koffie/tee en koek ingesluit

Besprekings:
Computicket

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.