Veels geluk, Afrikaans.com!

Idees vol Vrees wens Afrikaans.com geluk met sy eerste verjaarsdag

Dié webwerf het op 26 Mei 2016 sy digitale deure oopgemaak met sy “Hoe lyk jou Afrikaans?”-veldtog. Afrikaans.com het ʼn kuierplek geword waar gebruikers kan sien hoe Afrikaans lééf – in harte, op verhoë, in klaskamers en in die kuberruim.

“Ons sê dankie aan almal wat met hul passie vir Afrikaans bydra om die beeld van Afrikaans uit te bou,” sê redakteur Ingrid Erlank. “Afrikaans.com bly die plek waar ons Afrikaanse mense, projekte en organisasies ʼn spreekbeurt gee – ʼn toonvenster vir die taal in al sy verskeidenheid.”

Hoe lyk JOU Afrikaans?

In die “Hoe lyk JOU Afrikaans?”-kompetisie, wat byna 1 200 inskrywings gelok het, was dit duidelik, elkeen het ’n storie – ʼn Afrikaanse storie. Teks-, video- en foto-inskrywings het verras, hartsnare geroer, die lagspiere geprikkel, ’n mens aan jou ma se Sondagkos herinner… ’n mens laat verlang.

Daar is gereeld kompetisies op die webwerf met lekker kontant- en verrassingspryse op die spel.

Só het die kletsrymers van die Hartlanders-dramagroep uit Laingsburg in die Karoo gewys hulle staan op vir Afrikaans. Optrede deur die Laingsburgse Rymkletsers, Hiëna (Herschelle Farao), Walvis (Nuwaldo Kiewiets) en Kat (Kayo Kenwins) van Hoërskool Laingsburg.

 

Afrikaans.com deurkruis die land se stofpaaie, op soek na unieke mense en hulle stories.

Op pad met Afrikaans…

Die webwerf was ook nuuskierig oor hoe Afrikaans in die verskillende streke van Suid-Afrika gepraat en geleef word en Anoeschka von Meck het met ’n sonhoed, 4×4 en haar eie stoel die land se stofpaaie deurkruis. Op pad met Afrikaans vertel die rêrige stories van ons land se unieke mense… in Afrikaans.

Moedertaalonderrig

Moedertaalonderrig is die sleutel tot sukses en Afrikaans.com het met die hulp van Fedsas, ‘n nasionale organisasie wat skoolbeheerliggame verteenwoordig, en die Afrikaanse Taalraad ’n moedertaalonderrig-blad saamgestel waar almal se kwelvrae beantwoord word.

Lekker leerblaaie …

ʼn Leerafdeling is ook op die webwerf beskikbaar waar leerders, ouers en onderwysers geholpe kan raak met die magdom skakels en hulpbronne wat daar gelys word.

“Agter die skerms het die Afrikaans.com-span die afgelope jaar gewerk en ons het hande gevat met organisasies soos Fedsas, die Afrikaanse Taalraad, die SBA, die ATKV, die Afrikaanse Taalmonument en -museum, die FAK en VivA en nouer bande gesmee met ons nasionale media. Saam met Maroela Media, Media24 en RSG het ons Afrikaans se beeld uitgedra en versterk. Ons plaaslike media het entoesiasties saamgewerk en gesorg dat hul lesers en luisteraars van ons kennis neem,” voeg Erlank by.

“Ons het ook gesig gewys by die feeste en die US Woordfees, ATKV Oesfees, Suidoosterfees, KKNK en Innibos was net van die plekke waar ons saam feesgevier het en vir ons ondersteuners gewys het #waarsitlekka.

“Ons beskermhere en -vroue dra by tot ons beeld en is almal mense met ’n passie vir Afrikaans. Ons moes egter ook afskeid neem van een van ons eerste beskermhere, Adam Small, taalmens en filosoof, wat ’n maand na ons bekendstelling oorlede is. Dankie, aan alle Ambassadeurs vir Afrikaans. Mense met ’n hart vir Afrikaans, wat elkeen op hulle unieke wyse ʼn bydrae lewer.

“Terloops, meer mense praat Afrikaans as op enige stadium in die verlede (bykans 7 miljoen!). Afrikaanse musiek oorheers CD-verkope. Honderde duisende fiksie-titels word jaarliks verkoop en Afrikaanse letterkunde het diepte en momentum. Afrikaanse feeste – van kunstefeeste tot rieldanskompetisies – floreer. Kletsrym – in Afrikaans – raak al hoe meer gewild. Afrikaanse skole en onderwysers tel onder die land se bestes en moedertaalonderrig kry opnuut steun. Mense sê hul sê oral in Afrikaans. Afrikaanse TV-kanale word met groot sukses bedryf en die vraag na Afrikaanse vermaak neem toe – van sepies tot aktualiteitsprogramme. Afrikaanse radio gedy en die grootste ontploffing van Afrikaans is aanlyn.

“Ons sien uit na die toekoms!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.