Verbeel dit! Wêreldwye kinderboek-illustrasiekompetisie 2017

Die beoordelaars vind dat Angela Banks se uitnemende tekentegniek haar ’n plek onder die wenners laat besorg. Sy voeg ’n verrassingselement toe aan haar illustrasies wat die kyker innooi en vervoer na ’n betowerende verbeeldingswêreld.

Die wenners van Protea Boekhuis se “Verbeel dit! Kinderboek-illustrasie”-kompetisie is bekendgemaak.

Hierdie jaar het Protea Boekhuis weer, saam met drie internasionale uitgewers, ’n internasionale kinderboekillustrasiekompetisie georganiseer. ’n Groep professionele beoordelaars – in Suid-Afrika Piet Grobler, Alida Bothma en Marisa du Toit – het die drie beste inskrywings in elke betrokke land gekies. In Suid-Afrika is 50 uitstekende inskrywings ontvang en die kompetisie was geweldig sterk. Baie geluk aan Angela Banks, Neeske Alexander en Hjalmar Pretorius wat in Suid-Afrika as die wenkunstenaars aangewys is.

Die wenwerk van Angela Banks

Die beoordelaars vind dat Angela Banks se uitnemende tekentegniek haar ’n plek onder die wenners laat besorg. Sy voeg ’n verrassingselement toe aan haar illustrasies wat die kyker innooi en vervoer na ’n betowerende verbeeldingswêreld.

’n Illustrasie uit Neeske Alexander se storie ‘Jump’.

Die beoordelaars vind dat Neeske Alexander weet hoe om haar tekentalent in te span om atmosfeer te skep en ’n storie te vertel. Haar geloofwaardige en poëtiese uitbeelding het die beoordelaars oortuig.

’n Illustrasie uit Hjalmar Pretorius se “The Princess and the Squire”.

Hjalmar Pretorius se vertellende illustrasiestyl is ideaal vir aksie-gelaaide avonture. Hy het die vermoë om ’n verhaal op interessante manier te vertel deur van verskillende perspektiewe en gloeiende kleure gebruik te maak.

Hierdie kompetisie is ʼn uitstekende geleentheid om internasionale blootstelling te kry. Die werk van die twintig wenkunstenaars gaan deel wees van ’n internasionale reisende tentoonstelling. Die finale keuse van wenillustrasies gaan ook in ’n internasionale katalogus gepubliseer word en voorgestel word aan die bekendste internasionale kinderboekuitgewers by die Bologna-kinderboekebeurs in 2018.

Protea publiseer topkwaliteit kinderboeke. Die meeste hiervan is oorsese produksies wat in eerste instansie elders gepubliseer is. Vertaal-en publikasieregte word gewoonlik oorgekoop van internasionale uitgewers, die boeke word vertaal en aan ’n plaaslike mark in Afrikaans en/of Engels bekendgestel. Op dié manier kry Suid-Afrikaners toegang tot van die beste kinderboeke wat internasionaal gepubliseer word. Hierdie kompetisie is egter ’n manier om die teenoorgestelde te doen: om naamlik Suid-Afrikaanse illustreerders en kunstenaars aan ’n internasionale mark voor te stel. Die kinderboekbedryf is beslis ’n internasionale bedryf met boeke wat in verskeie tale regoor die wêreld vertaal word. Vir illustreerders om naam te maak, is dit vandag noodsaaklik om internasionale blootstelling te kry. Protea wil met hierdie kompetisie aan ’n internasionale gehoor wys watter talent daar plaaslik skuil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.