Verfyn jou skryfvernuf met dié aanlyn kursus

skrywers

Argieffoto (Foto: 85Fifteen/Unsplash)

PEN Afrikaans kondig met trots aan dat skrywers weer vanjaar in die gerief van hul eie huise by ʼn gehalte-skryfkursus kan inskakel.

“Die skryf van verhale” is vir die eerste keer in 2020 aangebied en die kursus word, na aanleiding van die groot belangstelling en positiewe terugvoer van deelnemers, vanjaar herhaal.

Volgens Marga Stoffer, voorsitter van PEN Afrikaans, is die bevordering van Afrikaanse skryfkuns hoog op dié organisasie se prioriteitslys.

“Ons is baie opgewonde daaroor om weer dié kursus aan te bied omdat ons weet dat dit uitstekende waarde aan deelnemers bied en ʼn goeie balans tussen teorie en praktyk tref,” sê sy.

Enigiemand is welkom om in te skryf en daar is ʼn aantal beurse beskikbaar vir gratis bywoning. Stoffer sê PEN Afrikaans wil hierdeur skrywers aanmoedig en geleenthede vir hulle skep, veral jonger skrywers en skrywers uit gemarginaliseerde gemeenskappe.

Die gevierde skrywer Marita van der Vyver is weer die aanbieder van die kursus waartydens deelnemers praktiese oefeninge sal doen, terugvoer kry oor hul eie skryfwerk, en saam dink, praat en leer oor wat die bestanddele van goeie skryfwerk is.

Vanjaar se kursusgangers kan ook uitsien na die insette van die bekroonde digter, skrywer en letterkundige, Jolyn Phillips. Sy sluit as gasspreker by Van der Vyver aan tydens een van die Zoom-sessies wat oor drie Saterdae versprei is.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Augustus. Vir meer inligting, stuur ʼn e-pos aan Catrina Wessels na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.