Versigtige optimisme oor stand, toekoms van Afrikaans

(Argieffoto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

“Gewone mense in Suid-Afrika is besig om oplossings te skep vir probleme wat ander lande in byvoorbeeld Europa nog nie eers weet op pad is nie. Ons moenie moed verloor nie en net aanhou doen wat ons doen.”

Só het Ziegfried van Huyssteen, adjunk- uitvoerende hoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Maandag tydens ʼn beraad oor die stand en toekomsvooruitsigte van Afrikaans gesê.

Dié byeenkoms is deur die Dagbreektrust in Johannesburg aangebied met die doel om ʼn platform te bied vir gesprekke oor aktuele onderwerpe soos die bevordering van Afrikaans in verskillende domeine, die invloed van wêreldgebeure op Suid-Afrika, en hoe die voorgestelde idees moontlik uitgevoer sou kon word.

Dr. Theuns Eloff, voorsitter van die trust, het die geleentheid ingelei deur ʼn oorsig te gee van die verskillende sfere waarbinne Afrikaans bestaan. Volgens hom gaan dit goed met Afrikaans in domeine soos die vermaak- en mediabedryf en godsdiens, maar in die onderwys, openbare sektor en die ekonomie word die taal toenemend verskraal.

“Ek dink nie ons hoef wanhopig oor die algehele stand van Afrikaans te wees nie, maar as ons niks doen nie gaan die taal groot skade ly.”

Betrokkenes wat die geleentheid bygewoon het, sluit onder meer verteenwoordigers van die Afrikaanse Onderwys Netwerk (AON), die Moedertaal in Onafhanklike Skole (MOS)-inisiatief, Maroela Media, die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en akademici van Sol Plaatje Universiteit in die Noord-Kaap, en die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), in.

Die algemene siening van persone wat die beraad bygewoon het, is dat daar – tesame met kommer oor en hantering van bepaalde uitdagings soos die Bela-wet en die verskraling van Afrikaans in die Suid-Afrikaanse regswese – ʼn sterker fokus op wonderlike inisiatiewe en gebeure in die Afrikaanse taalgemeenskap geplaas moet word.

“Ons is besig om oor oplossings en antwoorde te gesels, maar ek dink ons is lankal besig daarmee. As mediahuis kry ons elke dag op een of manier te doen met fantastiese inisiatiewe wat in die Afrikaanse gemeenskap aan die gang is,” het Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, gesê.

“Daar is ʼn magdom goeie stories wat oor ons pad kom en dit is amper moeilik om oor alles te skryf, maar ek wil die Afrikaanse gemeenskap aanmoedig om dit met ons te deel. Dit is ongelooflik bemoedigend en daarom moet mense hiervan weet.”

Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, het op sy beurt benadruk dat dit ook belangrik is om jou stem te laat hoor.

“Ons moet partymaal aktivisties wees, standpunt inneem en iets sê wanneer daar onsinnigheid oor Afrikaans kwytgeraak word. Solank ons dit met wysheid doen, en besef dat ons nie kan toelaat dat Afrikaans vertrap word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die slimmes jaag hul eie belange na. Hulle het gewone mense lankal versaak. Nou is dit elkeen vir hom/haarself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.