Verstaan vandag die waarde van taal

afrikaanse-taalmonument-leuse

Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Foto: commons.wikimedia.org

Vandag is internasionale moedertaaldag. Die toekoms van die wêreld se taalskatkis is egter donker met sowat 2 400 van die bestaande 2 700 tale waarvan die voortbestaan ernstig bedreig word. Globalisering en die afbreek van grense lei toenemend tot die redusering van taal tot ’n ekonomiese faktor wat beteken dat groot tale wat oor grense heen gepraat en verstaan word vernietigende gevolge vir kleiner en veral streeksgebonde tale het.

Die kulturele waarde van taal gaan toenemend verlore in ’n wêreld waar die materiële oor die kulturele heers. Vir dekades het filosowe in die rasionele empiriese tradisie beweer dat taal slegs ’n middel is om inligting te kommunikeer.

Die Kanadese filosoof en skrywer Charles Taylor beskryf egter in sy nuwe boek, The Language Animal, dat die rol wat taal speel om die gedagtes wat dit oordra ook te help vorm, vir te lank onderskat is. Die manier waarop taal deur artistieke uitdrukking, stemtoon, gebare, metafore en klemverskille die inligting wat dit oordra, beïnvloed, maak taal meer as net ’n middel van kommunikasie.

Die Amerikaanse skrywer John Ciardi, wat in 1986 dood is en wat bekendheid vir sy vertaling van die werk van Dante verwerf het, het gesê dat vertalings uit een taal na ’n ander verkeerd is omdat vertalings eintlik uit een kultuur na ’n ander plaasvind. Volgens Ciardi was sy ervaring met vertalings uit Italiaans na Engels dat die mens eintlik meestal onbewus is van die wyse waarop sy woordkeuse deur ’n breër kulturele raamwerk beïnvloed word.

In 1930 het Benjamin Lee Whorf ontdek dat die Hopi-taal van ’n inheemse Amerikaanse stam geen merkers vir tyd het nie. Woorde soos “later”, “voor” en “na” bestaan nie in dié taal nie en daar is ook geen verlede- of toekomstige tyd in die Hopi-taal nie. Een van die gevolgtrekkings van Whorf se studie is dat die Hopi-mense ’n totaal ander begrip en belewenis van tyd gehad het.

Nog ’n meer bekende voorbeeld van die kulturele uniekheid van tale is die feit dat sommige tale van volkere in Alaska en die noorde van Kanada tussen 50 en 70 woorde vir ys het. Deur ’n artikel oor ys uit byvoorbeeld die Inuit-taal na Engels te vertaal, lei tot ’n noodgedwonge verlies aan kulturele inhoud. In Russies is daar geen woord vir “blou” nie, maar wel woorde vir “ligblou” en “donkerblou”.

Taylor bevind in sy boek dat die mens deur taal homself inlig, die inligting op verskillende maniere verwerk en interpreteer en dan dit uiteindelik oordra of kommunikeer. Die betekenis wat ’n individu aan inligting gee, word beïnvloed deur die woorde, klemverskille en ander kulturele merkers in daardie persoon se gebruik van sy taal.

Wanneer ons dus vandag op internasionale moedertaaldag die vraagstuk oor die toekoms van die wêreld se taalskatkis probeer in oënskou neem, is dit belangrik om die waarde van taal verder as net die algemene persepsie van ʼn kommunikasiemedia te neem.

Vir ’n taal soos Afrikaans wat tot ’n streek en een of twee kultuurgroepe beperk is, sal sy voortbestaan afhang van ons vermoë om verby die aanhang van globalisering uit koue ekonomiese oortuigings, te tree.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Afrikaans, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Mense wat ander volke se tale doelbewus minag is dus nie baie intelligent nie, of wat?

Vaalseun ·

Goed gestel, Jaco. Nog ‘n voorbeeld, ek as Afrikaanssprekende kan Goethe se werke soos Faust in Duits vergelyk met die beste Engelse of Amerikaanse vertalings, want my Afrikaanse taalbegrip stel my in staat om die oorspronklike Duitse begrippe baie beter as die Engelssprekende te verstaan. En ek lees Faust liewer verder in Duits as om my te verlaat op die steeds gebrekkige beste Engelse vertalings, om sodoende Goethe se werklike waarde as skrywer te kan waardeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.