(Ver)taaltameletjies, Venter en Geldenhuys vertel

Een na die ander word internasionale skrywers se topverkopers in Afrikaans vertaal.

Die jongste vertalings sluit in Coelho se Veronika besluit om te sterf (oorspronklik in Portugees uitgegee as Veronika Decide Morrer), Hugo Claus se Die verdriet van België wat uit Nederlands deur Daniel Hugo vertaal is, die immergewilde Lord of the Rings-reeks deur JRR Tolkien (wat in Afrikaans uitgegee is as Die Heerser van die Ringe), Die belydenis, Negentien minute en Die boek van twee paaie wat deur Jodi Picoult geskryf is (Jonathan Ball Uitgewers) en die bekende kinderboekreeks Dork Diaries deur Rachel Renée Russell (NB-Uitgewers).

Maroela Media het by twee vertalers, De Waal Venter en Kobus Geldenhuys, gaan aanklop om meer uit te vind oor hul jongste boeke en tameletjies wat hulle al tydens die vertaalproses teëgekom het.

De Waal Venter sê Vandag is boordensvol

Venter is vanjaar bekroon met die SA Akademieprys vir vertaalde werk vir sy digbundel Vandag is boordensvol. Die bundel is uit ʼn versameling van die bekende Spaanse digter Pablo Neruda se poësie saamgestel.

De Waal Venter (Foto: Dewalvis)

Die vertalingsproses het nie oornag en moeiteloos gebeur nie. Venter dink terug aan jare se leeswerk en studie. Hy het as jong man kennis gemaak met Uys Krige se vertalings uit Spaans en Frans.

“Dit het my dekades geneem om genoeg kennis van Spaans op te doen,” verklap Venter. “Ek het ook geweldig baie navorsing oor Neruda se lewe gedoen en vertalings van sy gedigte in Europese tale bestudeer.”

Venter verduidelik dat hy ’n oorsig van Neruda se hele oeuvre wou gee. Daarom is gedigte uit verskillende tydperke van die digter se loopbaan gebruik.

Neruda word as een van die belangrikste digters van die twintigste eeu beskou. Hy het in 1971 die Nobelprys vir Letterkunde ontvang en sy gedigte is in ongeveer sestig ander tale vertaal.

“Neruda se helder, hartstogtelike stem gee uiting aan menslike emosies en verlangens op ’n manier wat min ander digters kan nadoen,” vertel Venter.

Die titel Vandag is boordensvol is ʼn beeldryke verwysing na geluk en vrede, verduidelik Venter.

“Die uitdrukking ‘boordensvol’ is baie beeldend en gelade,” sê hy. “Die ‘boorden’ in hierdie uitdrukking het niks met vrugte-‘boorde’ te doen nie. Dit beteken ‘rand’ of ‘kant’ soos wat dit nog in ’n hemp se ‘boordjie’ aangetref word.”

Venter sê die titel beteken dus iets soos “Die dag is gevul tot aan die rand” of “My beker loop oor (van geluk of vreugde)”.

Vandag, hierdie dag was boordensvol,
vandag, hierdie dag, was ’n geweldige golf,
vandag was dit die hele aarde (Uit die gedig “8 September”)

Venter benadruk die kompleksiteit van die vertalingsproses. Hy sê lesers moet in gedagte hou dat dit ʼn herskrywing eerder as ʼn blote omskakeling van een taal na ʼn ander is.

“Die vertaler kan nie ’n presiese weergawe van ’n gedig van een taal na ’n ander taal oorplaas nie,” sê hy. “Die gedig word ‘herskryf’ (of, anders gesien, herskep) in die teikentaal. En dit beteken dat die vertaalde gedig nogal kan afwyk van ’n letterlike, woord-vir-woord-vertaling.”

In Neruda se “Ode aan die boek (I)” kom die volgende reël voor “Escucho entrecortados gritos”. Die woord “entrecortados” is problematies vir die vertaler omdat dit ’n reeks woordeboek-betekenisse het wat wissel vanaf “woelig”, “staccato”, “wisselend”, “schokkerig” (Nederlands) tot “abgehackt” (Duits), vertel Venter.

“Maar na baie kopkrap het ek uiteindelik besluit dat die eerste reëls van die gedig só moet klink, dat dit is wat Neruda eintlik bedoel het:

Boek, wanneer ek jou toemaak
maak ek die lewe oop.
Ek hoor
emosiebelaaide geskree…(Uit die gedig ‘Ode aan die boek (I)’)

Ek het ‘entrecortados’ dus herskryf as ‘emosiebelaaide’.”

Venter erken dat dit menslik is om te voel dat jy ’n vak of ’n onderwerp nie heeltemal onder die knie het nie.

“Ek voel nog steeds dat my kennis en begrip nog beter moes gewees het, maar as ek nie so ver kon kom om die vertalings te publiseer nie, sou daar nie vandag so ’n bundel gewees het nie.”

Kobus Geldenhuys se nuutskeppings en taaltoffies

Geldenhuys is ʼn bekroonde vertaler wat onlangs Veronika besluit om te sterf, Die Heerser van die Ringe (Deel twee en drie) en die bekende kinderboekreeks Dork Diaries vertaal het.

Hy het in 2015 die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat en in 2016 is hy bekroon met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het.

Veronika besluit om te sterf het nie buitengewone taaluitdagings aan Geldenhuys gebied nie. Hy meen dit is omdat die Engelse vertaling (Veronica decides to die) ʼn uitstekende verwysingsgids was. Brida, ook een van Coelho se boeke, word later vanjaar uitgegee en het heelwat meer uitdagings gebied.

“Die uitdaging was om spirituele begrippe in verteerbare Afrikaans te vertaal sonder om onnodig hoogdrawend te raak,” verduidelik Geldenhuys.

Tolkien se Heerser van die Ringe het ʼn legio taaltoffies opgelewer.

“Gollum se voorliefde vir s-klanke is een voorbeeld. Ek het yes vervang met juis vir die s-klank en die ekstra ‘s’ by werkwoorde met -es by die Afrikaanse ons gevoeg. Dus verskillend, maar nietemin dieselfde effek,” verduidelik Geldenhuys. Dit vergelyk dan soos volg:

Die oorspronklike teks:

Yess, yes indeed,” said Gollum sitting up. “Nice hobbits! We will come with them. Find them safe paths in the dark, yes we will. And where are they going in these cold hard lands, we wonders, yes we wonders?

Geldenhuys se Afrikaanse vertaling:

Juiss, ja, juis, inderdaad,” sê Ghollum en sit regop. “Gawe hobbits! Ons sal saam met hulle gaan. Vir hulle veilige weë in die donker vind, juis, onses sal. En waarheen gaan hulle in hierdie koue, harde lande, wonder onses, ja, juis, wonder onses?

Geldenhuys onthou dat hy tydens die vertaling van ʼn jeugreeks wat oor seerowers handel met ʼn paar kreatiewe name vorendag moes kom.

“Die hoofkarakter in die reeks se van is Jolley-Roger en hy bly in die dorpie Dull-on-Sea, waar die dom kommissaris Klewless die polisiehoof is. Ek het sy van verander na Van der Brander, die dorpie se naam Grootgaapbaai, en die kommissaris Kleitrap,” vertel hy.

In dieselfde reeks moes hy woorde skep wat pas by seerowertaal.

Kobus Geldenhuys (Foto: nb.co.za)

“ʼn Mens se derms of binnegoed het ek goorgoete genoem, ʼn dispuut het ek ʼn bekrek gedoop. Die seerowers het ook skelwoorde vir mekaar soos scugs, skulks en squabs. My pogings daarvoor was ghwappe, skonke en twarre. So by my kool het ek vervorm tot so by my goor gorrelgat en maak die dek skoon het lek die dek geword.”

Vir sy vertaling van die gewilde reeks Hoe om jou draak te tem moes Geldenhuys ook ʼn hele Afrikaanse woordeskat vir Draaktaal uitdink. Hy het die hoofkarakter Hiccup se naam verander na Harwarrus Horribalus Heldehelm, die Viking-sam het die Harige Hierjy-Horde geword en sy aartsvyand is Snotbol Ghwelpel.

Geldenhuys meen vertaling bly ʼn moeisame proses wat baie voorbereiding verg, ongeag die teikenmark. Daar is talle vrae wat in gedagte gehou moet word soos of die vertaling se woorde binne die spraakborrel van ʼn strokiesprent pas, is die taal gepas vir klein of jeugdige lesers, boet die vertaling humor in en sal dit gemaklik wees vir voorlesers by geleenthede soos boekbekendstellings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.