Video: Afrikaanse Taaldag: Wat is jóú gunstelingwoord?

afrikaans_Afrikaanse Taaldag word jaarliks op 14 Augustus gevier, en dié dag is elke jaar ʼn bewys dat Afrikaans ʼn taal is wat in die harte van mense bestaan, en nie net in wetboeke nie.

Só het die vryskutskrywer Herman Toerien verlede jaar oor dié taal gesê.

Die viering van Taaldag op 14 Augustus het sy herkoms in die stigting van die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 in die Paarl.

Afrikaans het op 8 Mei 1925 ʼn amptelike taal van die Unie van Suid-Afrika geword. Die taal is tans een van 6 802 wêreldwyd waarvan minstens 30 inheems aan Afrika is.

Toerien meen egter Afrikaans het homself nie laat voorskryf om eers te begin leef nadat dit ʼn “amptelike” taal geword het nie. “Selfs net ʼn oppervlakkige kykie deur ʼn ou boekrak bring aan die lig dat Afrikaans ʼn dekade later reeds oor ʼn byna volledige reeks literatuur beskik het, wat die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling ingesluit het.”

Hy meen Afrikaans sal “lééf” as elke spreker van dié taal net “sy deeltjie” doen.

Talle bekendes deel hulle gunsteling- Afrikaanse woord en hoekom hulle vir dié taal lief is:

Corli Botha (Koekedoor 2-wenner) – “Koester”

“Ek is lief vir my taal omdat ʼn mens jouself so mooi kan uitdruk in Afrikaans. Of dit nou is oor liefde, vriendskap, geloof of hoop. Ek hou van die woord ‘koester’ omdat dit ʼn woord is wat alles kan vasvang. En omdat ek omgee vir my gesin, vriende, land en taal.”

Steve Hofmeyr – “Bollemakiesie” en “kantel”

“Afrikaans is wat jy kry as Europeërs in Afrika aanland en nie genoeg woorde het om te beskryf wat hulle sien nie.”

Marius Weyers – “Maaifoedie”

“Ek hou van die woord ‘maaifoedie’ omdat dit my altyd terugvat na hoe die ouer mense destyds gepraat het. Ek is lief vir Afrikaans omdat dit ʼn taal is waarin ek my kan verkneukel. Dis so ʼn vars en lewendige taal. Ek en my vrou, Yvette, gebruik ook dikwels Afrikaanse spreekwoorde om aan name vir haar beelde te kom of idees daarvoor te kry.”

Beer Adriaanse (Skrywer, akteur in onder meer Hotel) – “Onheilspellend”

“My gunstelingwoord is ‘valdeur’. Dis net so onheilspellend. Ag nee, daar besef ek ‘onheilspellend’ is my gunstelingwoord. Ek is lief vir Afrikaans, want sy is jonk en sy’s buigbaar en sy maak goed op soos sy gaan.”

Neels van Jaarsveld – “Koejawel”

“Ek hou van die woord ‘koejawel’ omdat dit so lekker eksoties klink. Ek is lief vir Afrikaans, want dis ʼn gelukkige taal. Dis uniek, en ongelooflik hoe ʼn mens jouself daarin kan uitdruk. Dis ook ʼn beskrywende taal. Dis my taal.”

Nadia Beukes – “Appelliefie”

“Ek is lief vir Afrikaans, want dit vorm deel van my erfenis. Dit is ʼn kleurryke taal propvol karakter en ongetwyfeld die taal van my hart.”

Franzel de Wet (Afrikaanse groep, Mwah!) – “Fnuik”

“Afrikaans beteken vir my om huis toe te gaan. Dis hoe ek gevorm is, dis die mense vir wie ek lief is, en dis daardie warm gevoel van tuis wees.”

Pieter Smith – “Lekker”

“ʼn Mens kan jou in geen ander taal so lekker uitdruk soos in Afrikaans nie. Selfs die Engelse praat soms van ‘lekker’.”

Wen

Jy staan die kans om ‘n HAT 6 te wen met die komplimente van die ATKV! Vertel vir ons in die kommentaarblokkie op Facebook of net hier op Maroela Media wat jou lekkerste lekkersê-woord in Afrikaans is en waarom jy graag ‘n HAT wil hê. Die wenner van die HAT sal per e-pos gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Kobus ·

My HAT is al baie oud, jig, stokoud. Die nuwe een sal help, oneindig, met al die nuwe woorde in, nie om verder te kan sien nie, of beter te kan hoor nie, (soos in rooikappie), maar om my te help om die vertellings vir my boeke beter te kan omskryf, al vyf sintuie. Net daardie woord, wat ek dalk gemis het, raak te lees, of om ‘n beskrywende woord aanmekaar te klits.

Ek herinner my toenterjare, kleintyd daaraan, dat ek sommer die HAT by ouerhuis gevat het en van vooraf begin deurlees het. Ek het by A, van die eerste woord af begin. Aanvanklik was ek net nuuskierig, totdat my woordeskat die lig gesien het. en vandag is ek ‘n verslaafde moedertaler vir Afrikaans, eintlik van geboorte af.

Dankie ma.

Leone Cloete ·

Karnallie(s)
Dit is wat my twee kleinkinders in Europa is – 5 & 7 jaar oud – hulle praat suiwer Afrikaans & as Ouma gaan kuier met swaar tasse vol Afrikaanse boeke, dan lees ons ‘n hond uit ‘n bos uit. Die HAT sal sorg vir hulle naslaanbehoeftes in hulle moedertaal in die jare wat kom!

Mandie Van der Merwe ·

“Kom hier jou klein klits, as jou brak nou weer die boerewors van die braai afsteel gaan pa julle altwee se gatvelle aftrek”. Daar is net nie ñ ander taal wat so lekker oor die tong rol soos Afrikaans nie. (Boerewors) – maar net een van my gunstelling afrikaanse woorde. Met deesdae se tegnologie en alles wat digitaal is, is dit amper soos ñ skatkis en erfstuk / nalatenskap om ñ HAT te besit.

Martie Kraamwinkel ·

My gunsteling woord is Snert! want dit sê so lekker en druk jou gevoel uit wanneer iemand regtig twak praat. Ek gee Afrikaans Eerste Addisionele Taal vir graad 10 en 11 en probeer my liefde vir my taal oordra ook deur musiek.

KARIN BEHRENS ·

Daar is so baie mooi en beskrywende woorde in Afrikaans. ‘Wat maak jy jou klein klits? Is jy nou heeltemal die kluts kwyt?’ Dan is daar skerminkel, skollie, wrintiewaar, deurmekaar – woorde in Engels is nie dieselfde as deurmekaar nie. Tjol, tjommel. Snoet in plaas van neus. En dan is daar boonop ons wonderlike idiome: Die kat aan die stert beet hê, ens.

Lucas ·

Ek glo egter die woord wat die meeste gebruik word of ons dit nou weet of nie begin met ‘n F…

Kobus ·

Fanie? Fakilé ? hehehe, dalk fark? (Miskien word fark met ‘n v gespel.)

Karen ·

Ek sal graag n HAT woordeboek wil he om my eie woordeskat te verbreed en na te slaan of my gunsteling woorde wel aangeteken is as suiwer afrikaans. My gunsteling woorde wat tog net so lekker op die tong val is “Tiekiehakke” , “Karfoevel” , “Bromponie” , “Asemrowend” Afrikaans is die mooiste taal en ek is trots om myself n afrikaans sprekende te noem, maar o wee, ek gebruik dit def nie suiwer nie!!!!!so ja, n HAT woordeboek sal help.

Josef du Toit ·

Terwyl ek nuuskierig is om te sien hoeveel liederlike Engelse woorde heeltemal onnodiglik in die heel nuutste HAT ingesluip het, bly dit ‘n riem onder die hart dat ek enige Engelse woordeboek kan oopmaak om naby die begin ‘aardvark’ raak te lees, en dig by die einde ‘zebra’ te ontdek, al verkies ons gewoonlik ‘erdvark’ en ‘sebra’. Terwyl Afrikaans nou nie eintlik zebra/sebra kan toeëien nie, is die Kongolese oorsprong daarvan immers ook uit Afrika. Maar sal ek my gunstelingwoord in die HAT vind? ‘Jaloersreën’, daardie seldsame reëntjie in die Sandveld wat na lang verwagting tog kom, en toe alleen maar op my buurman se plaas staan en val.

Josef du Toit ·

Amper vergeet ek ‘kokkewiettone’, ‘n winterkwaal uit die Sneeuberge naby Graaff-Reinet.

COBUS B ·

Ek is mal oor die g-klank in Afrikaans – daar is ‘n grieselrige gruwelike grillerige gogga wat girts-girts maak. My HAT is baie verouderd en ek sal graag een wil hê met al die woorde wat die afgelope 30+ jaar bygekom het.

Tok gouws ·

Ons Afrikaanse taal is die mooiste taal so ons moet altyd suiwer praat en ons mooiste woord is Asseblief en Dankie. en dan moet ons trots wees op ons taal.

Anton ·

Ginnegaap.

My HAT is horingoud. Dit is nou hoog tyd dat ek in ‘n nuwe vrystelling belê.

Jolindy Dreyer ·

Faikonta – dis ‘n bobaas woord en ‘n droommooi woord. Beteken kamma, speel-speel, dagdroom, fantasie. My huis se naam is Faikonta (Plek van drome)

Marlené ·

TITTEWY-Dit is vir my so n mooi woord,as ek te lank drai na my kleindogter se sin,dan roep sy altyd.ouma is jy weer besig om te tittewy!Ook kraaines,wat beteken verstrengel of gekoek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.