[Video] Ek onthou PG du Plessis

hans-du-plessis-02

Hans du Plessis. Foto: Nwu.ac.za

Deur Hans du Plessis

As ikoon en as rolmodel van die Afrikaanse woord weet ek van PG du Plessis al vir amper 50 jaar; as mens het ek hom seker so 40 jaar gelede al persoonlik ontmoet, en so nou en dan met hom te doen gekry. Maar dit is die afgelope 25 jaar dat ek hom my goeie vriend kon noem, vriend wat ek kon vertrou omdat hy integriteit en lojaliteit gehad het. En ʼn liefde vir mense – enige mens. Jy kon op hom reken, want sy ja was sy ja en sy nee was sy nee. Hy het omgegee.

Hy het vir medeskrywers, beginners én gevestigdes, ook ʼn plek in die son gegun. Ons eerste kennismaking was op papier omdat ek gelees het wat hy geskryf het. Teen die einde van die jare 60 moes hy op ʼn keer lees wat ek geskryf het. Hy was in die redaksie van die sestigertydskrif, Kol. PG het my eerste woordseltjies gepubliseer in die Februarie-Maart-uitgawe van 1969 (Kol, 1/6, bl. 7 en 8). Twee gedigte! Voor dit het ek net ʼn versie of vier in Die Perdeby, Tukkies se studentekoerant, gehad, maar die gedigte in daardie Kol was my eerste rêrige publikasie, en PG du Plessis was die redaksielid wat die besluit daaroor geneem het.

Nee, ons is nie familie nie.

Ons het mekaar eers ʼn paar jaar daarna van aangesig tot aangesig ontmoet. In die voorportaal van die ouditorium van die destydse RAU, by die een of ander geleentheid waarvan ek die besonderhede nou nie meer kan onthou nie. Ek onthou net dat toe ons aan mekaar voorgestel word, het hy net daar twee reëls uit een van daardie ou gediggies aangehaal: “Jy kán dig, jongman, want jy weet hoe werk ritme!”

Jy kan net dink hoe ʼn graag-wil-skrywertjie moet voel as een van die woordmeesters dit ongevraag vir jou sê, sommer so in die openbaar. Hy was nooit bang om jong skrywers aan te moedig nie, tot aan die einde toe. Daarvan kan menige student in die skryfkuns getuig, en die toeloop van aspirante plaas toe het aangehou. Ek kan nie een geleentheid onthou waar hy ʼn voornemende skrywer afgejak het nie, hy sou iets positiefs kry om te sê oor iemand se skryfpoging, sonder om oneerlik te wees. Geduldig sou hy die vrae van jonges beantwoord.

So skryf hy met deernis en insig aan een van die kleinkinders toe dié hom oor skryf vra:  Beste Pieter, ek skryf maar die ding hieronder in my gebroke Engels omdat ek graag verstaan wil word, nie omdat ek die taal van die vyand begin aanvaar nie. Maar ek dink ná ons gesprek oor jou probleem met die swerm feite, ens., dat ek dalk iets moet bysê. Die ding lyk amper simpel-eenvoudig, maar dit is nie, dit is nie, dit is verdomp nie. – Oupa Pieter. Dan volg ʼn uitgebreide insiggewende verduideliking wat net so in ʼn goeie skryfkunshandleiding opgeneem sou kon word.

Toe hy later plaas toe gekom het, het ons gereeld oor skryf en die letterkunde gepraat; oor godsdiens, die kuns, kultuur, die politiek, want daar was haas geen onderwerp waaroor hy nie kundig kon praat nie en daarby was hy een van die min mense wat regtig kon luister.

Oor die poësie was hy ernstig, nie net oor die Afrikaanse poësie nie, want hy kon versreël op versreël aanhaal uit Afrikaanse, Engelse of Nederlandse gedigte. Nóg ek nóg hy het ons self primêr as digters beskou, maar die poësie was by ons ʼn passie en ons het dikwels daaroor gesels. Oor die goeie poësie van hedendaagse en die ouer Afrikaanse digters. Omdat hy bly lees het, het hy waardering ook vir die heel jongste Afrikaanse poësie gehad. Ons het ook oor slegte poësie gepraat, want dit kon hy nie verdra nie, veral nie woorddiarree sonder ritme nie, omdat dit “wragtag mos nie poetry” is nie!

Die raad wat hy oor skryf gegee het, sal ek tot my dooddag toe onthou en probeer toepas. Vir seker is ek nie die enigste wat sy skryfkennis en -ervaring sal onthou nie.

Die afgelope 20 jaar het ons gereeld gekuier, op Semoér, of hy het gebel as hy inkom dorp toe, net om te hoor of ek nie lus het vir koffie op die Akker se stoep nie? Hy is al op pad soontoe. Akker se stoep toe waar hy kon rook – plekke sonder asbakke het nie maniere nie. Dan het ons die toekoms van Afrikaans helder voor ons gesien; ons het presies geweet waar die politici dwaal en hoe hulle moet maak om die dwalinge reg te ruk. Ons kon skinder oor slim lesers en dom resensente. As hy nie dorp toe kom nie, kon ek uitry Rysmierbult toe.

Ons kon ure oor ons eie skryfwerk praat. Ek kan net een of twee keer onthou wat een van ons die ander een se skryfwerk voor publikasie gelees het, want, was sy filosofie, “dis soos om vir familie geld te leen”. Dis nie dat ons nie met mekaar gepraat het oor waarmee ons besig was nie. Miskien kan ʼn mens selfs sê ons het in sekere sin saam deur dit wat ons aan die skryf was, geleef.

Dit was nie vir ons nodig om versigtig met mekaar te wees nie, want op die Akker se stoep of in Semoér se klipkantoor was ons nie sensitief nie.

Ek onthou dat ek besig was met die skryf van ʼn roman wat die uitgewers aanvanklik net nie wou aanvaar nie.

“Dis omdat jy nie ʼn storie het nie,” het hy uit die bloute gesê.

“Nou hoe de hel sal jy weet, jy het dit nog nie eens gelees nie?” het ek gesteurd gevra.

“Ek kan mos hoor, ons praat dan al meer as ʼn jaar daaroor.”

“Hoe bedoel jy daar is nie ʼn storie nie?

“Jy het nie ordentlik geplot nie, en daar is nie narrative pull nie.”

Ek het nie verder gevra nie, want ek het nie die term narrative pull geken nie, en ek wou nie onnosel klink nie. Ek het vir literatore gaan vra wat dit is; die literatuur geraadpleeg; dit selfs gegoogle, maar ek kon die term nêrens kry nie.

Uiteindelik het ek hom trompop gevra: “Waar kan ek oor narrative pull gaan lees, ek kry dit nêrens in die literatuur nie?”

“Nee,” sê hy en lag terwyl hy die Stuyvesant in die asbakkie dooddruk, “ek glo jy sal dit nêrens kry nie, want dit is iets wat ek by my pa geleer het. Gaan lees weer Dan Brown, die man kan nie skryf nie, maar hy weet wat narrative pull is.”

Die roman, met ʼn storie, het verskyn as Verbrande paradys – nadat ek dit geplot het.

Ons vriendskap was van so ʼn aard dat ek hom ook kon aanvat, sonder om die manuskrip te lees. Ons het lank en baie oor een van sy draaiboeke gepraat. Ek het die verhaal geken nog voordat dit op televisie was. Toe begin hy met die roman. Ons het daaroor gepraat.

Goeie storie, maar hy skryf dit in Engels!

“Is jy nou laf?” het ek gevra. “In Engels!”

En ons het gestry totdat Fees van die ongenooides in Afrikaans geskryf is.

Dit is nou die laaste maand of wat waarin ek hom nog beter leer ken het. In sy laaste stuk stryd. Dit was moeilik en dit was pynlik, maar die PG wat ek geken het, was nog daar, selfs, of dalk juis ook, die intellek en die humor.

Suid-Afrika en Afrikaans het ʼn ikoon verloor, ʼn woordmeester, maar ek, ek het ʼn goeie vriend verloor, ʼn woordvriend sonder gelyke.

  • Kyk gerus na hierdie video waar PG du Plessis ‘n gedeelte uit Fees van die Ongenooides voorlees:
  • Maroela Media het ook die geleentheid in 2014 gehad om saam met PG du Plessis sy 80ste verjaardag te vier en het ‘n reeks video’s vervaardig waar ons met die Afrikaanse skrywer gesels het. Kyk al die video’s hier.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Hans Du Plessis

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Meningsvormers, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae