Video: ‘Filmverse 2’ maak buiging op Silwerskermfees

Filmverse 2 (Foto: Verskaf)

Filmverse 2 (Foto: Verskaf)

Die tweede aflewering van die ATKV se digkuns-animasieprojek, Filmverse 2, se première vind vanjaar plaas op die kykNET-Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad.

Dié eerste vertoning van Filmverse 2 vind plaas op Vrydag 26 Augustus om 13:00.

Vir Filmverse 2 is 12 Afrikaanse gedigte deur 12 kunstenaars of groepe kunstenaars geanimeer. Die klankbane van dié 12 animasiefilms is ook oorgeklank na Engels, Zoeloe en Sesotho.

Die doel van dié projek is om ʼn forum te skep vir onafhanklike animasie in Suid-Afrika, om Afrikaanse poësie meer sigbaar en toeganklik te maak en om animasieprente van internasionale gehalte te maak.

Verlede jaar se Filmverse is plaaslik op drie kunstefeeste benoem in die kategorie beste bydrae tot die visuele kunste.

Op internasionale vlak het dié projek ook uitstekend gevaar. Naomi van Niekerk, een van die animeerders, het op die 2016 Annecy-animasiefees, die grootste internasionale animasiefees ter wêreld, die prys ontvang vir beste eerste film vir haar animasie van Ronelda Kamfer se gedig “ʼn Gewone blou Maandagoggend”.

Charles Badenhorst is met Adam Small se “What abou’ de lô” as die wenner van die Weimar-poësie-filmprys in Duitsland aangewys en het ook ʼn spesiale jurieprys vir dié animasie gekry op die Festival Silêncio in Portugal.

Van Filmverse se animasieprente is ook op feeste in Rusland, Nederland, Frankryk en Portugal vertoon.

Die gedigte wat ingesluit is in Filmverse 2 is:

  • Jeanne Goosen se “My mamma is bossies”, geanimeer deur Naomi van Niekerk.
  • Nathan Trantraal se “Geel walvis”, geanimeer deur Alida Bothma.
  • DJ Opperman se “Stad in die mis”, geanimeer deur Jac en Wessel Hamman.
  • Elisabeth Eybers se “Busrit in die aand”, geanimeer deur Arnaud van Vliet.
  • Andries Bezuidenhout se “Perron”, geanimeer Marinda du Toit en Tessa Louw.
  • Boerneef se “Die berggans het ʼn veer laat val”, geanimeer deur Erentia Bedeker.
  • Heilna du Plooy se “Afrikaan in Nederland”, geanimeer deur Hanno, Dewald en Roger van der Merwe.
  • Martjie Bosman se “Nagte in die tuine van Spanje”, geanimeer deur Theresa Jo Wessels.
  • Joan Hambidge se “Smoke gets in your eyes”, geanimeer deur katty vandenberghe en Anni Snyman.
  • Marlise Joubert se “Groet”, geanimeer deur Charles Badenhorst.
  • Johann de Lange se “Wisseling”, geanimeer deur Michéle Nigrini.
  • Ronelda S Kamfer se “Vir die voëls”, geanimeer deur Diek Grobler.

Diek Grobler is die kreatiewe regisseur en Nita Cronjé is die uitvoerende vervaardiger van Filmverse 2.

Filmverse 2 is ook te sien op die Aardklop Nasionale Kunstefees van 4 tot 9 Oktober in Potchefstroom, en daarna op al die nasionale kunstefeeste in die loop van 2017.

Die Filmverse 2-DVD kos R120 en kan bestel word by Hannelie van Schalkwyk deur 011 919 9012 te skakel, of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Vir meer inligting, kontak Nita Cronjé by 011 919 9087 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

https://youtu.be/6XTe-UPGYXI

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eliza-beth ·

Het die eerste reeks op tv tussen programme gesien en dink dis wonderlik. Ek hoop regtig dit gaan groei en dat meer en onbekender, maar steeds goeie digters, se werk ook ingesluit sal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.