Video: Hoërskool Durbanville pronk met beste toneelgeselskap

ATKV-tienertoneel-2016-hs-durbanville

Hoërskool Durbanville is die wenners van vanjaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie. Foto: Annemarie Wichmann/Zoë Photography.

ʼn Skrale 0,23% was die verskil tussen die wenner en naaswenner van die 52ste ATKV-tienertoneelkompetisie wat tydens Aardklop in Potchefstroom beslis is.

Hoërskool Durbanville het met die louere weggestap nadat hulle toneelstuk, Fragment, as die beste produksie in vanjaar se kompetisie aangewys is. Jan Burger en Amelia van Wyk is boonop aangewys as die beste regisseurs. Ruan Potgieter het die toekenning vir die beste beligtingsoperateur ontvang en Fragment is as die beste ensemblewerk aangewys.

Die beste aktrise in ʼn ondersteunende rol kom ook uit hierdie toneelstuk – Cailin Aylward het dié toekenning vir haar rol as Karla du Plessis gekry. Die toekenning van beste aktrise in ʼn hoofrol word gedeel deur Nienke Geldenhuys as Antoinette de Jager in Fragment en Jamie-lee Morkel as Annatjie in Hoërskool Bergrivier se Dis ek, Annatjie.

Die toneelgroep het R30 000 en die ATKV-tienertoneelwisseltrofee ontvang.

Hoërskool Jan van Riebeeck is die naaswenner en ontvang R20 000 prysgeld vir Die maan val bewusteloos. Die produksie is ook beloon met die toekenning vir beste algehele tegniese aspekte.

ATKV-tienertoneel-2016-annatjie

‘n Toneel uit ‘Dis ek, Annatjie’. Foto: Annemarie Wichmann/Zoë Photography.

Hoërskool Bergrivier se Dis ek, Annatjie, is in die derde plek aangewys. Die toneelgroep ontvang R10 000 prysgeld. James-Dean Davids is ook as die beste klankoperateur aangewys en Neville Albertus as die beste akteur in ’n ondersteunende rol.

Hoërskool Tygerberg se In Kleur het vierde geëindig en dié skool se ander produksie, Die Staat teen Sara, het in die vyfde plek geëindig.

Hardus van Staden is as die beste akteur in ’n hoofrol aangewys vir sy spel as Beer in Paul Roos Gimnasium se Vlug.

Anjoné de Jager van Hoërskool Ben Viljoen is aangewys as die mees belowende meisiespeler in ’n rol vir haar spel as Mienkie in die produksie Kom saam met my.

Leroux van Diemen van Hoërskool Menlopark is as die mees belowende seunspeler aangewys vir sy spel in die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria se Onnies.

Ongeveer 3 000 hoërskoolleerders in 181 produksies het vanjaar aan die ATKV-tienertoneelkompetisie deelgeneem. Dié toneelstukke is tydens 11 streeksfeeste beoordeel en 16 toneelgeselskappe het hierdie week hul bes en meer gelewer tydens die finaal wat vir die 10de keer tydens die Aardklop Nasionale Kunstefees aangebied is. Die doel van die oudste projek van die ATKV is om ’n liefde vir Afrikaanse toneelspel en -kyk by hoërskoolleerders te kweek sodat leerders hulle eie kreatiwiteit en talente daardeur kan ontgin en ontwikkel.

ATKV-tienertoneel-2016-die-maan-val-bewusteloos

‘n Toneel uit ‘Die maan val bewusteloos’. Foto: Annemarie Wichmann/Zoë Photography.

Die ander finaliste was Potchefstroom Gimnasium met Agter die gordyne, Hoërskool Cradock met Die prys van eiers, Helpmekaar Kollege met Dierepubliek, Helpmekaar Kollege met Dit wat was …, Hoërskool Rustenburg met La Plastique, Hoër Volkskool Potchefstroom met Ontsnap, Hoërskool Zwartkop met Rympatroon en Hoërskool Waterkloof met Wetters.

Die beoordelaars tydens die finaal was André Stolz, Crystal Donna Roberts, Ira Blanckenberg, Karin van der Laag, Pedro Kruger, Tara Louise Notcutt en Woutrine Theron.

Besoek die ATKV se webwerf vir meer oor die uitslae van vanjaar se tienertoneelkompetisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.