Video: Maroela Media bederf Engelse dogtertjie wat volhou sy is Afrikaans

Indya-Rose Dennyschene. (Foto: Verskaf)

Die vierjarige Engelse dogtertjie wat onlangs in ʼn skreeusnaakse video volgehou het dat sy Afrikaans magtig is, gaan nou met ʼn bietjie hulp van Maroela Media dié taal al spelend kan leer praat.

Klein Indya-Rose Dennyschene het in Meimaand harte landwyd gesteel toe sy in ʼn video met haar ma, Leigh Dennyschene, in Engels stry en sê dat sy Afrikaans is, ondanks die feit dat niemand in die gesin dié taal magtig is nie.

In die video probeer Dennyschene vir Indya verduidelik dat nóg sy nóg haar ouers Afrikaans magtig is, waarop die dogtertjie byna huilend antwoord: “I don’t want to be English.”

Dennyschene probeer om haar punt te bewys deur haar dogter te vra om die Afrikaanse terme vir sekere voorwerpe te noem. Die kleinding sê toe dat ʼn “table” in Afrikaans eenvoudig ʼn “Afrikaans table” is. Toe haar ma na ʼn plastiekbeker wys, was dié ook net ʼn “Afrikaans cup”.

Dié kosbare video is tot op hede meer as 700 000 keer op Facebook gekyk en het meer as 2 000 kommentaargrepe oor die dogtertjie se vasberadenheid ontlok.

Dennyschene vertel dat die gesin onlangs van KwaZulu-Natal na die Kaap verhuis het en dat Indya nou aan meer Afrikaanse maatjies by die skool blootgestel word. Haar beste maatjie, Hayleigh, is Afrikaanssprekend en blykbaar grotendeels die rede vir Indya se skielike belangstelling in die taal.

“Sy het selfs die een aand gebid dat Liewe Jesus haar ʼn Afrikaanse dogtertjie moet maak,” sê Dennyschene skertsend.

“Ons besef toe ons gaan nou werk daarvan moet maak om haar Afrikaans te leer praat.”

Maroela Media het besluit om klein Indya met haar ontdekkingsreis van Afrikaans te help deur vir haar ʼn pakkie met onder meer ʼn Afrikaanse plakkateboek van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), yskasmagnete met kindertaal Afrikaanse woorde daarop én twee T-hempies met oulike Afrikaanse gesegdes daarop te stuur.

“Afrikaans is Maroela Media se hartetaal en dit was so lekker om Indya se video te sien en verblydend om te weet dat Afrikaans nie net deur ons nie, maar ook ander taalgemeenskappe geniet en waardeer word,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media.

“Ons hoop Indya geniet elke Afrikaanse item in haar pakkie en dat haar liefde vir die taal daarmee sal groei. Dankie ook aan haar maatjie wat ʼn liefde vir Afrikaans by haar help kweek het, sy is ook ʼn ster!”

Dennyschene sê die kleinding geniet die verrassing vreeslik baie en dat sy uiters verbaas is oor die trefkrag van haar dogter se video. “Wat ek die meeste van die video hou, is die feit dat verskillende mense reg oor Suid-Afrika dit geniet het, ongeag die taal wat hulle praat. Dít bevestig net opnuut dat ons in ʼn pragtige en diverse land woon.”

Kyk Indya se reaksie op haar pakkie hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christelle ·

dis cute! Dankie vir daai pakkie Maroela Media. Maak ons Afrikaanse harte bly dat sy ons taal wil leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.