[Video] ʼn Boodskap in Afrikaans uit Rusland

Die Russiese studente besoek Suid-Afrika op uitnodiging van die FAK (Foto: FAK)

Die Russiese studente besoek Suid-Afrika op uitnodiging van die FAK (Foto: FAK)

deur Cyril Blackburn

Terwyl die koffiepot tydsaam prut, lees ek die hoeveelste artikel wat ek vroegoggend op die internet gaan uitsnuffel het: Hóékom Afrikaans? En wat is ʼn taal werklik?

Die ooglopende boodskap in dié artikels is verdoemend: Afrikaans is in die moeilikheid – by die universiteite, ja, maar ook in die harte van sy sprekers.

Die noodboodskap om die taal te beredder het as’t ware oorbekend geraak, en nou lyk dit asof talle mense ophou luister.

Ek maak die laaste artikel toe, my vraag nie voldoende deur die inhoud beantwoord nie.

Dié leesstof was alles ter voorbereiding vir my ontmoeting met ses Russe later die dag.

Met 12 000 km tussen Suid-Afrika en Rusland is die kanse dat jy sommer Afrikaans in Rusland se strate sal hoor maar bra skraal. Of is dit?

“Dit is lekker om hier te wees, dankie vir die uitnodiging,” sê die ses Russe, vyf jong vroue en een man, in suiwer Afrikaans toe hulle later by die raadsaal instap.

Ons gaan sit by die lang houttafel. Drie van hulle drink rooibostee, die ander drink koffie uit bekers met Afrikaanse idiome.

Aan my regterkant trek een van die vroue, skouerlengte blonde hare in ʼn wit rok met blou patrone op, CJ Langenhoven se Versamelde Werk deel agt nader. Dié teks het sy al onder oë gehad, verduidelik sy vinnig, en ook dié van talle ander skrywers soos Riana Scheepers, NP Van Wyk Louw en André P Brink. Hulle luister ook gereeld na RSG en lees daagliks Maroela Media.

Dié ses Russe kuier vir ʼn ruk in Suid-Afrika op uitnodiging van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Hulle is studente aan Moskou se staatsuniversiteit waar hulle aan een van drie piepklein Afrikaanse departemente in dié land Afrikaans studeer. Nou gebruik die FAK dié geleentheid om hulle die land van Afrikaans, én tien ander tale, te wys. Gestig in 1929, stel die FAK homself ten doel om die belange van Afrikaners en die Afrikaanse-wêreld in die algemeen te bevorder. Dié organisasie is die oudste sambreelorganisasie vir Afrikaanse kultuurverenigings in die land.

Hulle praat Afrikaans vlot en suiwer, só geoefen dat jy amper oortuig is dat hulle op ʼn klein dorpie in die Vrystaat grootgeword het.

Helaas nie. Dit het hulle minstens drie jaar geneem om dié taal, wat in sy eie land in die spervuur is, vlot te kan praat.

Uiteindelik is ons rustig en ek vra die vraag wat al heel oggend in my kop maal: Hoekom Afrikaans?

“Afrikaans is ʼn wonderlike taal, dit is eksoties en uniek,” kom die antwoord spontaan. “Maar wat die taal wonderlik maak, is dat dit nie bloot net iets is waarmee gekommunikeer word nie; dit is ʼn hartstaal, vervleg met ʼn warm en wonderlike kultuur. Die taal het emosie en karakter en betekenis.

“Dit is daarom dat Afrikaans die gewildste Afrika-taal in ons departement is. Daar is oplewing in Rusland wat Afrikaans betref, en ʼn mens kan so ver gaan as om te sê Afrikaans het ʼn toekoms in Rusland.”

Die Russe het onlangs by Hoërskool Centurion gaan kuier (Foto: FAK)

Die Russe het onlangs by Hoërskool Centurion gaan kuier (Foto: FAK)

Die Afrikaanse departemente in Rusland, onderafdelings van die skool vir Oosterse en Afrika-studie, is reeds in 1956 gestig. Studente kan studeer in drie rigtings naamlik die geskiedenis, filosofie of politieke wetenskap van die spesifieke taal wat hulle studeer. ʼn Graad en honneursgraad neem vier jaar om te voltooi, en die departement bied ook ʼn meestersgraad oor twee jaar aan.

Suid-Afrika en Rusland is natuurlik ook deel van Brics – die groep top-ontwikkelende lande wat ook Brasilië, Indië en China insluit. Die verhouding tussen Suid-Afrika en Rusland gaan boonop so ver terug as Rusland wat saam met die Boererepublieke van die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek in die Anglo-Boereoorlog tussen 1899 en 1902 geveg het teen die Britse Ryk.

Maar dít is langer as ʼn eeu gelede wat die Russe glo Afrikaans geleer het vir beter kommunikasie tussen hulle en die Boere, en intussen het Kommunisme in Rusland ook tot ʼn einde gekom. Nietemin het die Afrikaanse departement egter bly staan.

Nogtans wonder ek waarom dié Russe by gr. 0 sal begin om dié taal vlot te kan praat.

“Dis die verantwoordelikheid van ons, gewone mense, en nie die regering nie, om te verseker dat geen taal tot niet gaan nie,” antwoord hulle. “Ons het spesifiek Afrikaans gekies omdat dit ʼn ryk taal met soveel kultuur is. Daar is talle dinge wat ons moet leer uit die herrie oor Afrikaans in Suid-Afrika: Die taal is gekoppel aan ʼn identiteit. Sou dit verlore gaan, gaan die mense daarmee saam. Dit is veral Afrikaans wat nie net gepraat word nie, maar wat identiteit gee.

“Dié besoek saam met die FAK is om te wys dat óns die eerste stap geneem het om te leer en bemagtig te word. Wat wil ons bereik? Dat kleingesindheid verwoes word. Dat Suid-Afrikaners ook Russies leer en ʼn wêreld van moontlikhede vir hulself oopmaak. Dat hulle nie met die eerste geleentheid oorsee gaan leer in lande wat Engels praat nie, maar na ons land toe kom.

“Dit is veral belangrik dat gewone mense stereotipies moet verbreek – ons kom hier en gaan vertel aan die res van die wêreld hoe warm en wonderlik Suid-Afrika is. Ons wil hê mense moet sien ons is nie die ‘Rooi Gevaar’ nie. Ons wil hê die nonsens oor Afrikaans en alle ander tale moet stop, want dis nodig dat elkeen van hulle beskerm en behoue bly.”

Toe ons klaar gesels het, draai een van die Russe terug. “Is dit nie Nelson Mandela wat gesê het: As jy met iemand praat in ʼn taal wat hy verstaan, dan gaan dit na sy kop. As jy met iemand in sy taal praat, dan gaan dit na sy hart.”

Inderdaad só. En intussen het ek my eerste drie woorde in Russies geleer. “Hallo” is “привет”, “koffie” is “кофе” en “liefde” is “любовь”.

Toe het ek koffie gemaak en ʼn Irma Joubert-boek nadergehark. Baste met die nuusopskrifte en totsiens aan die doemprofete. Dié wat weet sê die behoud van die taal gebeur nie in klaskamers nie, maar in die hart van elke individu. En sou daar enigiets beter in Afrikaans wees wat die hart raak as Joubert self, moet ek nog kennis daarvan neem. Daarom lees ek in Afrikaans, dit gaan mos nêrens nie.

Die ses Russe is nog tot en 14 Februarie saam met die FAK op toer.

Maroela Media het ook ʼn video gemaak waarin die Russe peusel aan koeksisters en biltong. Hulle probeer ook sin maak van die uitdrukking: “Sy praat soos lap wat skeur” en probeer die sin “Rooi ribbok ram” sê. Kyk hier na die video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Adri ·

Biltong proe nie lekker nie, dit smaak lekker. Om te kan proe, kort jy ‘n mond en ‘n tong!

Landi Malan ·

Dagsê Adri

Dankie vir jou navraag. Volgens die HAT, 6de uitgawe, is proe “ʼn klein bietjie van iets eet of drink om die smaak vas te stel: proe of iets sout genoeg is” (in hierdie geval, proe die biltong). Volgens die HAT is smaak “die sintuig waarmee ʼn mens proe: Die rook van sigarette tas ʼn mens se smaak aan.” As ʼn mens na die HAT-verklarings vir hierdie twee woorde kyk, is dit duidelik dat dit wel reg gebruik is in die konteks van hierdie artikel. Die bron Skryf Afrikaans van A tot Z verwys wel daarna dat die woorde “smaak” en “proe” as wisselvorme aanvaarbaar is en in die volksmond afwisselend gebruik word.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

JC ·

Sjoe, maak mens se hart warm. Afrikaans LEEF!! My dierbaarste, lieflikste, soetste taal! So lief vir jou, dat ek jou in ‘n wolkombers wil toedraai dat jy snoesig kan slaap EN groei; en ook jou takkies snoei dat jy net kan verder floreer en jou voelers uitsteek en net nog groter, GROTER hoogtes bereik. Weg met die pessimiste!! My taal leef en sal tot in ewigheid, op akademiese, sosiale, algemene lewensvaardighede, wetenskaplike, KOSMIES- BUITENRUIMSE en WERELD vlak en ek het NIE die kamptige regering se ondersteuning nodig om MY taal te laat leef nie!! DIT IS MY/ONS VERANTWOORDELIKHEID EN NIEMAND ANDERS S’N NIE, soos gewys word deur die Russe. Afrikaans leef; in die boekwinkels, in stowwerige akademiese sale/kamers by Akademia en by Pukke, Aros en die APA. So…doen jou deel:-)
Dankie vir die Russiese ouens wat SO LIEF is vir ONS taal en dit help groei. Jullle is bevonk:-)

skorra ·

Pragtige, bemoedigende artikel. MAAR wat die opskrif van die video betref, Maroela Media: Biltong kan nie proe nie, dit smaak… Mense proe hoe die gereg smaak. Teleurstellend veral aangesien die artikel oor ons taal en sy voortbestaan handel.

Landi Malan ·

Dagsê Skorra

Dankie vir jou navraag. Volgens die HAT, 6de uitgawe, is proe “ʼn klein bietjie van iets eet of drink om die smaak vas te stel: proe of iets sout genoeg is” (in hierdie geval, proe die biltong). Volgens die HAT is smaak “die sintuig waarmee ʼn mens proe: Die rook van sigarette tas ʼn mens se smaak aan.” As ʼn mens na die HAT-verklarings vir hierdie twee woorde kyk, is dit duidelik dat dit wel reg gebruik is in die konteks van hierdie artikel. Die bron Skryf Afrikaans van A tot Z verwys wel daarna dat die woorde “smaak” en “proe” as wisselvorme aanvaarbaar is en in die volksmond afwisselend gebruik word.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

James Streak ·

Sou graag wou hoor wat hulle se , daar is geen klankbaan nie.

Namibië ·

Ek hoor net musiek. Sou bitter graag hul kommentaar wou hoor.

Janie du Plessis ·

Dagsê,
Dankie vir die kommentaar. Verfris asseblief die YouTube-kanaal (klik op CTRL+F5) indien die video se klank nie reg werk nie. Laat weet ons asseblief by [email protected] indien die probleem voortduur. Jammer vir die ongerief!
Groetnis

Celia ·

Hul laat my hart warm klop!
Dankie MM dit was nou lekker nuus!

MH ·

Met die agtergrondmusiek kan mens ongelukkig nie hoor wat hulle sê nie.

Kosie ·

In Afrikaans sê ons Sjina, nie China nie, maar behalwe vir die fout het ek die artikel vreeslik geniet! Sou so graag die seuns en dogters wou hoor Afrikaans praat, maar daar is fout met die klankbaan.

Janie du Plessis ·

Dagsê Kosie,

Dankie vir jou kommentaar. Volgens die sesde weergawe van die HAT kan beide China en Sjina gebruik word in Afrikaans, dit is ‘n wisselvorm. Dit was dus nie verkeerd in hierdie artikel gebruik nie.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Collin ·

Dit is wonderlik om die Russe Afrikaans te hoor praat, veral omrede hul dit nie hoef te doen nie, maar dit wil. Natuurlik sal daar altyd diegene wees wat kerm oor nietighede, (proe vs smaak) ens) maar die groter prentjie totaal misloop. Wees dankbaar Afrikaans word in stand gehou! Ons woon ook in Oos Europa en hoor selde Afrikaans – dus waardeer ons dit in enige vorm.

Jaco ·

Dit is n dom video. Wat is die doel van so mooi artikel en dan n video gee sonder woorde.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.