[Video] Nog net een dag om te ‘protesteer’ in Afrikaans

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Borrel Afrikaans deur jou are? Slaap jy met die Afrikaanse woordeboek onder jou kussing? Dan is die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Internasionale Afrikaans-Ekspo – ʼn skryfkompetisie vir graad 6- tot 12-leerders – nét die regte platform vir jou.

Dié kompetisie is ’n opwindende skryfkompetisie wat fokus op jongmense se kreatiewe vernuftigheid met Afrikaans.

Vanjaar se tema is “protes”.

“Een vorm van protes wat algemeen bekend is, is dié van ongeveer 20 000 vroue wat op 9 Augustus 1956 in Pretoria na die Uniegebou te voet opgetrek het om beswaar te maak teen bepaalde voorgestelde wetswysigings rakende die paswette as onderdeel van die Stedelike Groepsgebiedewet van 1950. Proteste soos dié het gelei tot gedigteprotes, liedereprotes, en so meer. Heelwat mense het om verskeie redes geprotesteer. Dink maar aan Breyten Breytenbach, André P Brink, Etienne Leroux, en dies meer,” sê Johan Jansen van Vuuren, die FAK se projek- en kommunikasiebeampte.

As jy dus iets op die hart het en ʼn internasionale platform daarvoor benodig, kan jy – die Afrikaanse huistaalspreker of selfs tweede- en derdetaalspreker – in enige land deelneem deur middel van ’n dagboekinskrywing, koerantberig, opstel, kortverhaal, poësie, fotografie en/of ’n historiese geskiedenisopstel.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigine. Foto: Verskaf

“Die ekspo word vanjaar in ’n nuwe formaat aangebied om sodoende aan te pas by die moderne tegnologie en om deelname aan die ekspo meer toeganklik te maak. Deelnemers sal van hul persoonlike sosiale media gebruik moet maak as deel daarvan om in te skryf. Die opwindende nuus is dat studente ook vanjaar vir die eerste keer kan deelneem aan die dinamiese kompetisie,” sê Jansen van Vuuren.

Inskrywings vir die kompetisie sluit op 1 Augustus om middernag.

Só lyk die pryse
’n Erkenningsertifikaat, wat by skole se prysuitdelings oorhandig word, word aan elke deelnemer uitgereik. Kategoriewenners ontvang ’n medalje. Daar word ook ’n algehele wenner aangekondig wat die uitblinker was en die tema die beste beskryf het, of dit nou deur ’n foto, ’n opstel of selfs een van die biografiese profiele was. Die wenner ontvang die wisseltrofee en R5 000 kontant word gegee vir sy of haar skool vir hulpmiddels óf ’n opvoedkundige uitstappie vir die Afrikaans- óf Geskiedenisklaskamer.

Die skool wat die meeste leerders inskryf vir die kompetisie, kry R10 000 vir die Afrikaans-departement en ontvang ook ’n FAK-boekgeskenk en ’n eksemplaar van die jongste FAK-Sangbundel vir die skool.

As jy meer oor die kompetisie wil weet, of wil inskryf, besoek die ekspo se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.