Video: Nuwe WoordWeb-speletjie bevorder Afrikaans

Leon van der Merwe het die Woordweb-speletjie ontwerp. (Foto: Maroela Media/ Janie Monsieur)

Leon van der Merwe van Cullinan in Gauteng kon nie meer die Afrikaanse weergawe van die bekende woordspeletjie Scrabble in die hande kry nie, en het toe eie inisiatief geneem en die bordwoordspel WoordWeb ontwikkel.

Van der Merwe (72) het die idee gekry omdat sy seun, wat in die Oekraïne woon, gevra het of sy pa vir hom ʼn Afrikaanse Scrabble-stel in die hande kan kry. Van der Merwe se seun en sy gesin praat steeds Afrikaans al woon hulle oorsee.

“My oudste seun is ʼn sendeling in die Oekraïne; hy is nou al 17 jaar daar. Hy het my so ʼn jaar en ʼn half gelede gebel en gevra of ek vir hom ʼn Afrikaanse bordwoordspel in die hande kon kry. Ek het gaan kyk en probeer, maar dit was eenvoudig net nie beskikbaar nie,” het Van der Merwe gesê.

Van der Merwe het navorsing gedoen op die internet om te probeer vasstel waar hy ʼn Afrikaanse Scrabble-stel kan koop of bestel. “Die enigstes wat ek kon kry, is mense wat die bordspel tweedehands verkoop vir sowat R800. Dit het definitief baie skaars begin word,” het hy gesê.

Van der Merwe skilder graag en het daarom baie verf tot sy beskikking gehad. Hy het toe besluit om self ʼn bordwoordspel te maak.

Hy verf die bord per hand en sny die letterblokkies self uit hout uit. Die letters word in die houtblokkies ingedruk, en Van der Merwe gaan dit dan oor met potlood, sodat die letters ʼn donker kleur kry.

Hy het ook twee verskillende groottes borde gemaak: ʼn kleiner een vir mense wat nie so lank wil speel nie, en ʼn groter een vir mense wat baie tyd het.

Van der Merwe wou aanvanklik die speletjie maak nét soos Scrabble, maar het ook gevoel dat hy ’n bietjie daarvan moes afwyk.

“Ek het so ʼn paar dinge verander, byvoorbeeld die waarde van die letters en die getal letters. In Scrabble mag mens ook nie persoonsname gebruik nie, maar as Christen en afgetrede sendeling wou ek graag iets uit die Woord inbring. Ek het toe besluit om Bybelse name, berge en riviere toe te laat in WoordWeb, en vir só ʼn naam kry jy dan 10 punte as bonus.”

Van der Merwe meen só ʼn soort speletjie is belangrik om die Afrikaanse taal te behou.

“Ons leef in ʼn tyd waar Afrikaans regtig in gevaar verkeer, en daar is al hoe meer tekens. Ek hoor baie oor die radio die gesprekke rakende die kommer oor die voortbestaan van die taal. Onderhoude word gedoen met Afrikaanse krieket- en rugbyspelers – jongmans wat veronderstel is om Afrikaans te kan praat, maar dan kan hulle nie een sin voltooi sonder om ʼn Engelse woord te gebruik nie,” het Van der Merwe gesê.

Hy hoop dié speletjie sal help om Afrikaans binne én buite Suid-Afrika springlewendig te hou.

Van der Merwe het nog nie ’n manier om WoordWeb op grootmaat te vervaardig nie, maar mense wat belangstel, kan bestellings plaas en navraag doen by [email protected], of hom nader by 082 789 2943.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Santie ·

Sal dit nie wonderlik wees as hierdie speletjie beskikbaar kan wees in playstore nie? Ek speel tans “wordswithfriends” en ek dink daar is ruimte vir so ‘n Afrikaanse speletjie ook!

Mike Kaapstad ·

Nou is ek seker baie dom , maar ons het Afrikaans gespeel met (scrabble) , lees maar net die punte in engels…….

Sanet ·

Scrabble het juis ‘n spel vir elke taal ontwikkel met unieke letterverdelings (m.a.w. hoeveel daar van elke letter in die spel is) en puntetellings. Dit maak die spel dan baie meer genotvol as die eienskappe van die taal in die letterverdeling en puntetelling weerspieel word. So sal jy nie in die Afrikaanse weergawe enige C, Q of Z vind nie. F sal baie tel, terwyl in Engels die F ‘n lae puntetelling het omdat dit so baie voorkom in die taal.
Blink plan Leon!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.