VivA beloon 2017 se varsgebektes

Tjaart van der Walt van Sentraal Hoërskool wen die derde prys in VivA se skolekompetisie met sy uitstekende grafika (Grafika via VivA Afrikaans)

Varsgebek, die Virtuele Instituut vir Afrikaans se kompetisie waar taalgebruikers hulle onopgetekende taalskatte kon inskryf, het pas ten einde geloop. Die Sêgoedkompetisie het weer hierdie jaar ʼn skatkis vol heerlikhede opgelewer. Die beste van dié inskrywings is in ʼn kortlys geplaas, en VivA-gebruikers kon vir hulle gunstelingsêding stem.

VivA maak dus met trots die skerpste, varsste, pittigste en gewildste sêgoed vir 2017 bekend:

In die derde plek is “sonder arms rondstaan”, wat beteken “ledig rondstaan” of “niks doen om te help nie”. Dié juweel is ingestuur deur oudkoerantman Org Potgieter, wat duidelik nog ʼn fyn oor en ʼn skerp griffel het as dit by taal kom. Org wen R2 500 met sy inskrywing.

Die naaswenner in ons Sêgoedkompetisie is Wiets Steyn. Wiets wen ʼn lekker bonus van R5 000 met sy inskrywing “vinkkoors” wat verwys na daardie oorywerige nesoorbouery, veral hier in die middeljare rond, wanneer ʼn wederhelf besluit die huis moet ʼn bietjie opgeknap word. Ons kon aan die uitslag sien daar is ʼn hele paar mense wat dié gekwetter en gefladder maar alte goed begryp.

Ons groot prys gaan aan ʼn inskrywing wat almal by VivA (en duidelik ons gebruikers ook) se harte besonder geroer het. “Reën ruik, al is daar nie wolke nie” was die bydrae van Carina Stander, ʼn gewaardeerde Afrikaanse skrywer en digter, wat ons laat weet het hierdie sêding beskryf iemand wat altyd positief is, al gaan dinge nie goed nie. Carina se pragtige en tersaaklike inskrywing besorg aan haar ons eerste prys van R7 500.

Aan ʼn gelukkige deelnemer wat die weninskrywing korrek voorspel het, Johannes Cilliers, gee ons ʼn lekker meevaller van R2 000.

Benewens hierdie kompetisie, het ons ook ʼn Skolekompetisie vir leerders gehad waar daar ʼn studiebeurs van R150 000, geborg deur Atterbury Trust, op die spel was. Die inskrywings wat ons daarvoor gekry het, was van hoogstaande gehalte, maar die beoordelaars was dit eens dat ons wenner se standhoudend uitstekende inskrywings die prys waardig is. Ilja de la Guerre, ʼn tuisskoler van Durbanville, stap met die louere weg. Haar voorstelling van ʼn hele rits idiome was almal uit die boonste rakke. Haar grafiese talent is onbetwisbaar, maar sy het duidelik ook ʼn fyn aanvoeling vir die taal, en die moeite wat sy gedoen het om haar voorstelling by die idioom te pas, was uitsonderlik.

Ilja de la Guerre, ʼn tuisskoler van Durbanville, se inskrywing, “kop bo water hou” (Grafika via VivA Afrikaans)

Die tweede plek in hierdie kompetisie gaan aan Hilda Jonker van Hoërskool Bonnievale. Hilda se video van graad 3-leerders se stryd met idiome was ʼn groot treffer, en sy kry R5 000 vir hierdie pronkstuk. Haar skool kry ʼn lekker bonus van R10 000 en haar onderwyser, Stefan Prins, kry R2 000 vir sy ondersteuning.

 

In die derde plek is Tjaart van der Walt, ʼn graad 11-leerder aan Sentraal Hoërskool in Bloemfontein. Tjaart verdien R2 500 met sy knap grafika.

“VivA is baie dankbaar teenoor elkeen wat deelgeneem het. Dit is vir ons nie net ʼn teken dat Afrikaans leef nie, dit wys ook vir ons dat sy gebruikers nog betrokke is, dat hulle fyn luister, en dat hulle elke dag nog deelneem aan die uitbou en voortbou van die taal,” sê Gerhard van Huyssteen, uitvoerende hoof van VivA. “En ons het op die koop toe ʼn heerlike klomp inskrywings gekry van unieke taalbousels wat ons vir die nageslag in ons databasis kan bewaar. VivA Afrikaans!”

VivA is ʼn maatskappy sonder winsmotief met die ATKV, Noordwes-Universiteit, Trust vir Afrikaanse Onderwys en Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns as stigterslede. VivA fokus op navorsing oor Afrikaanse taalkunde en die ontwikkeling van taaltoepassings in digitale kontekste.

Besoek VivA se webwerf, of volg hulle op Facebook, Twitter en Instagram

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.